1 PETRUS 2:9-12
1 PETRUS 2:9-12 Bybel vir almal (ABA)
Maar julle is God se volk, God het vir julle gekies, julle is die priesters oor wie Hy regeer, julle is 'n gewyde volk, sy eie volk wat vir almal moet vertel van die groot dinge wat God gedoen het. Hy het vir julle geroep om uit die donker na Hom toe te kom, na Hom wat in die wonderlike lig is. Toe was julle nie 'n volk nie, maar nou is julle God se volk. Toe was God nie goed vir julle nie, maar nou is Hy goed vir julle. Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes 'n mens se lewe. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo.
1 PETRUS 2:9-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.
1 PETRUS 2:9-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
1 PETRUS 2:9-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie 'n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het. Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het.
1 PETRUS 2:9-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige nasie, 'n eiendomsvolk; dat julle die lof kan verkondig van Hom wat julle uit die duisternis na sy wonderbare lig geroep het. Wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; wat nie barmhartigheid verkry het nie, maar nou barmhartigheid verkry het. Geliefdes, ek smeek julle as vreemdelinge en pelgrims: onthou julle van vleeslike begeerlikhede wat teen die siel oorlog voer; Hou julle wandel eerlik onder die heidene, sodat, terwyl hulle teen julle praat as kwaaddoeners, hulle deur julle goeie werke wat hulle sal aanskou, God kan verheerlik op die dag van besoeking.
1 PETRUS 2:9-12 Die Boodskap (DB)
Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is.
1 PETRUS 2:9-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het. “Vroeër was julle nie ’n volk nie; nou is julle egter die volk van God. Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie; nou hét julle egter sy ontferming.” Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.