1 PETRUS 3:8-22

1 PETRUS 3:8-22 Bybel vir almal (ABA)

Hierdie is die laaste dinge wat ek hieroor wil sê. Julle moenie met mekaar twis nie, julle moet dieselfde dink oor dinge. Julle moet bly wees saam met ander mense en julle moet hartseer wees saam met hulle. Julle moet lief wees vir mekaar soos broers en susters lief is vir mekaar. Julle moet jammer wees vir ander mense en julle moenie hoogmoedig wees nie. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle nie ook slegte dinge doen aan hulle nie. Wanneer mense slegte dinge sê van julle, dan moet julle nie ook slegte dinge sê van hulle nie. Nee, julle moet hulle seën, want die Here het julle gekies om ander mense te seën. As julle dit doen, dan sal Hy julle seën. Iemand wat lief is vir die lewe en wat graag goeie dinge wil hê, moenie sleg praat van mense nie en hy moenie lieg nie. Hy moenie verkeerde dinge doen nie, hy moet goeie dinge doen, hy moet altyd probeer om vrede te maak. Want die Here kyk na die mense wat reg lewe en Hy sorg vir hulle. Hy luister wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help. Maar die Here hou nie van mense wat verkeerde dinge doen nie. Dit is seker: Niemand sal slegte dinge doen aan julle as julle baie graag goeie dinge wil doen nie. Nee, julle is gelukkige mense as julle swaarkry omdat julle doen wat die Here wil hê. Maar julle moenie bang wees vir die mense wat julle laat swaarkry nie, en julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet onthou dat Christus heilig is en dat Hy die Here is. Julle weet van die dinge wat sal gebeur, julle is seker daarvan. Wanneer mense vir julle vra om te vertel van daardie dinge, dan moet julle altyd gereed wees om vir elkeen te vertel van die dinge. Maar julle moet nederig wees wanneer julle dit vertel en julle moet vir God respekteer. Daar is mense wat vir julle beledig, want julle doen goeie dinge omdat julle in Christus glo. Julle moet goed onthou wat is reg en wat is verkeerd, sodat die mense wat vir julle beledig, self skaam sal word. Want as God wil hê dat julle moet swaarkry, dan is dit beter dat julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, beter as dat julle swaarkry omdat julle slegte dinge doen. Want Christus het ook net een maal swaargekry en gesterf om sondaars te red van hulle sondes. Hy was onskuldig, maar Hy het gesterf sodat mense wat sonde gedoen het, kan lewe. Hy het gesterf sodat Hy vir julle na God kan bring. Die mense het die mens Christus doodgemaak, maar die Gees van God het vir Christus weer laat lewe. En Christus het ook gegaan na die geeste in die doderyk en Hy het vir hulle die boodskap gebring dat Hy oorwin het. Dit is die geeste van die mense wat voorheen ongehoorsaam was. Dit was in die tyd toe Noag gelewe het, Noag wat die ark gebou het. God het toe geduldig gewag dat hierdie mense moet terugkom na Hom toe. God het net 'n paar mense gered. Die ark het op die water gedryf, só het God hulle gered. Daar was ag mense in die ark. Hierdie water is 'n teken van die doop, God red julle nou met die doop. Die doop was nie ons liggame skoon nie, maar dit red ons omdat God vir Jesus Christus weer laat lewe het. Wanneer ons gedoop word, dan belowe ons vir God dat ons gehoorsaam sal wees aan Hom. Ons weet dat ons nie skuldig is nie. Jesus het na die hemel gegaan. Hy sit daar op die belangrikste plek langs God. God het gesê dat Jesus Christus moet regeer oor al die engele en oor almal en alles wat belangrik wil wees in die wêreld.

1 PETRUS 3:8-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners. En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; met behoud van 'n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster. Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen. Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete — deur die opstanding van Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.

1 PETRUS 3:8-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.” Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen. Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net 'n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar 'n bede tot God om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

1 PETRUS 3:8-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry. Immers, “wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen. Immers, ook Christus het eens en vir altyd vir sondes gely, Hy, die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring. Hy is wel liggaamlik doodgemaak, maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net 'n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered. Die doop, wat 'n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as 'n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as 'n smeekgebed tot God om 'n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus – Hy wat aan die regterhand van God is, nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is.

1 PETRUS 3:8-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ten slotte, wees almal eensgesind, ontferm julle oor mekaar, liefde soos broeders, wees jammer, wees hoflik. Nie vergelde kwaad vir kwaad, of lastering vir laster nie, maar teendeel seën; omdat julle weet dat julle daartoe geroep is, sodat julle 'n seën sou beërwe. Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, laat hom sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Laat hom die kwaad vermy en goed doen; laat hy vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here is oor die regverdiges, en sy ore is oop tot hulle gebede; maar die aangesig van die Here is teen die wat kwaad doen. En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van wat goed is? Maar as julle ly ter wille van die geregtigheid, gelukkig is julle; Maar heilig die Here God in julle harte, en wees altyd gereed om met sagmoedigheid en vrees antwoord te gee aan elkeen wat van julle redes vra vir die hoop wat in julle is. Met 'n goeie gewete; sodat, terwyl hulle van julle kwaad praat, soos van kwaaddoeners, hulle hulle mag beskaam wat julle goeie wandel in Christus valslik beskuldig. Want dit is beter, as die wil van God so is, dat julle ly omdat julle goed doen, as omdat julle kwaad doen. Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring, gedood na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees. Daardeur het hy ook gegaan en vir die geeste in die gevangenis gepreek; wat soms ongehoorsaam was, toe die lankmoedigheid van God eens gewag het in die dae van Noag, terwyl die ark 'n voorbereiding was, waarin min, dit is agt siele, deur water gered is. So 'n figuur waarmee selfs die doop ons ook nou red (nie die wegdoening van die vuilheid van die vlees nie, maar die antwoord van 'n goeie gewete teenoor God) deur die opstanding van Jesus Christus. Wat na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God is; engele en owerhede en magte wat aan hom onderwerp word.

1 PETRUS 3:8-22 Die Boodskap (DB)

Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie. As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het. Daar staan mos geskryf: “Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie. Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen. “Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.” As julle regtig probeer om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie. Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie. Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan. Doen dit mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg dat julle altyd doen wat julle weet reg is. Dit sal die mense wat so lelik van julle praat omdat julle Christelik optree, belaglik maak, juis omdat hulle julle probeer swartsmeer. As God dit toelaat dat ongelowige mense julle sleg behandel, is dit darem baie beter dat hulle dit doen omdat julle goed en reg optree, soos Christene behoort op te tree, eerder as dat hulle julle so behandel omdat julle julle sleg gedra. Dit het met Jesus ook gebeur. Self het Hy niks verkeerds gedoen nie, maar Hy moes vir altyd vir ander se verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerds gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om by God uit te kom. Sy menslike liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak. Deur die Gees is Hy na die geeste toe wat opgesluit is en wag vir die oordeel. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het en leef. Weet julle wie is hierdie geeste? Dit is die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was destyds darem baie geduldig met daardie mense. God het hulle ’n unieke kans gegee terwyl Noag sy skip gebou het. Tog wou hulle nie hoor nie. Hulle het maar aangehou om hulle nie aan God te steur nie. Uiteindelik, toe die reën begin uitsak, is daar net ’n handjie vol mense die skip in, agt in totaal. Hulle was toe die enigstes wat uit daardie groot vloed gered is. Hierdie dinge is eintlik vir ons ’n voorbeeld van wat op geestelike gebied by die doop gebeur. Daar skei die paaie van die mense wat gered word en dié wat nie gered word nie. Dit gaan nie oor vuilgoed wat die water van jou liggaam afwas nie. Dit gaan eerder oor dit wat binne-in jou gebeur. Dit gaan daaroor dat jy God opreg vra om alles weg te vat wat jou skuldig laat voel. Dit is moontlik omdat Jesus uit die graf opgestaan het en leef. Hy is na God toe en daar sit Hy op die ereplek direk langs God. Van daar heers Hy oor alles en almal. Selfs die onsigbare magte en die engele staan onder sy gesag.

1 PETRUS 3:8-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën. Want die Skrif sê: “As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na! Die Here sorg vir dié wat reg doen, en Hy luister na hulle gebede. Maar die Here is teen dié wat kwaad doen.” Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen? Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort. Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen. Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak. Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig. Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered. Die redding in die ark is ’n voorteken van die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop red julle deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n pleit voor God dat jou gewete skoon bly. Christus hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer.