1 PETRUS 4:7-11
1 PETRUS 4:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.
1 PETRUS 4:7-11 Die Boodskap (DB)
Dit is nou nie meer lank voor die wêreld soos ons dit ken tot ’n einde gaan kom nie. Onthou dit elke oomblik en dink daaroor na. Sorg dat julle weet wat aangaan sodat julle sinvol met God kan praat in gebed. Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie. As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom. God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help. Soos iemand wat in ’n huis aangestel is om ander te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat ons dit eintlik verdien. Byvoorbeeld, as een van julle preek, moet dit wees asof God deur hom praat. As iemand ’n ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee. Op dié manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry, omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om al hierdie dinge te doen. Almal sal Hom erken as die Een wat in alles groot en sterk is, nie net vandag nie, maar vir ewig en altyd. Daarvan kan julle seker wees.
1 PETRUS 4:7-11 Bybel vir almal (ABA)
Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal al die dinge wat nou gebeur, ophou om te gebeur. Daarom moet julle verstandig wees en goed dink wat julle doen, sodat julle kan bid soos 'n mens moet bid. Die belangrikste van alles is dat julle baie lief moet wees vir mekaar, want die liefde maak baie sondes toe. Julle moet goed wees vir mekaar soos 'n mens goed is vir vreemdelinge, julle moenie daaroor kla nie. God het genadegawes gegee vir elkeen van julle en Hy is baie goed vir julle op verskillende maniere. Julle is God se bestuurders, en daarom moet julle mekaar dien, julle moet die genadegawes gebruik wat Hy vir julle gegee het. Wanneer iemand in die gemeente praat, dan moet dit wees soos wanneer God self met mense praat. Wanneer iemand die ander gelowiges dien, dan moet hy dien met die krag wat God vir hom gee. Jesus Christus laat hierdie mense dit doen sodat mense vir God kan prys. Ons prys God wat baie sterk is, ons prys Hom vir altyd en altyd. Amen.
1 PETRUS 4:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid. Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek. Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer. Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.
1 PETRUS 4:7-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde 'n menigte sondes bedek”. Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. •Amen.
1 PETRUS 4:7-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar die einde van alle dinge is naby; wees dan nugter en waak tot gebed. En bo alles moet julle vurige liefde onder julle hê, want liefde sal die menigte van sondes bedek. Gebruik gasvryheid teenoor mekaar sonder om te worstel. Soos elke mens die gawe ontvang het, so dien mekaar ook as goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat hom spreek soos woorde van God; as iemand dien, laat hom dit doen na die vermoë wat God gee, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die lof en die krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.
1 PETRUS 4:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees; dan sal julle kan bid. Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe. Tweedens: Ontvang mekaar in julle huise sonder om te kla. Derdens: God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei. Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word deur dit wat Jesus Christus moontlik gemaak het. Aan Hom behoort alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid! Amen.