1 PETRUS 5:1-11
1 PETRUS 5:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Ek is 'n ouderling soos julle en ek is 'n getuie wat gesien het dat Christus baie swaar gekry het. Die tyd is ook nou baie naby wanneer almal sal sien dat Christus die Koning is, en ek sal dit ook sien. Daarom vra ek mooi vir julle wat ouderlinge is, om herders te wees wat sorg vir God se mense wat daar by julle is. Julle moet sorg vir hulle, nie omdat iemand sê julle móét dit doen nie, maar omdat julle dit graag wil doen en omdat God dit wil hê. Julle moet dit doen, nie omdat julle altyd meer dinge wil hê nie, maar omdat julle baie graag wil sorg vir hulle. God het mense vir julle gegee sodat julle vir hulle kan sorg. Julle moenie vir hulle verdruk nie, maar julle moet 'n goeie voorbeeld wees vir hulle. Christus is die Hoof van die herders, en wanneer Hy weer kom, dan sal julle die lourier-krans kry wat pas by 'n koning, dit is 'n kransie wat nie droog word en verlep nie. Ek het gepraat met die ouer mans en ek praat nou ook so met die jonger mans: Julle moet luister na die ouer mans, julle almal moet vir mekaar dien en julle moenie hoogmoedig wees nie, want: Wanneer mense dink dat hulle vir ander mense kan spot, dan spot God vir húlle. Wanneer mense weet dat hulle nie hulleself kan help nie, dan is God goed vir hulle. Julle moet julleself verneder voor God wat baie sterk is, dan sal Hý vir julle belangrik maak op die laaste dag. Julle moet alles waaroor julle bekommerd is, vir God sê, want Hy gee vir julle alles, Hy sorg vir julle. Julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wakker wees. Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n leeu wat brul, hy soek iemand om op te vreet. Julle moet veg teen die duiwel, julle geloof moet baie vas wees. Julle moet weet dat daar mense in die hele wêreld is wat ook in Christus glo, soos julle, en hulle kry ook so swaar soos julle. Julle het al klaar 'n kort rukkie swaargekry, maar God is altyd baie goed. Hy het besluit dat julle wat aan Christus Jesus behoort, vir altyd by Hom moet wees, by Hom wat die Koning is. Dit is Hý wat vir julle sal gereedmaak, Hy sal julle help, Hy sal julle sterker maak, en Hy sal julle vas laat staan sodat julle nie sonde doen nie. God is baie sterk, vir altyd. Amen.
1 PETRUS 5:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat 'n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook 'n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
1 PETRUS 5:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur 'n voorbeeld vir die kudde te wees. En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang. En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.
1 PETRUS 5:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek doen dan nou 'n ernstige beroep op die ouderlinge onder julle, ek, julle mede-ouderling en getuie van die lyding van •Christus, en julle deelgenoot in die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie. Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle. Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos 'n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. Maar al moes julle vir 'n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in •Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. Aan Hom die krag tot in ewigheid. •Amen.
1 PETRUS 5:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek vermaan die ouderlinge wat onder julle is, wat ook 'n ouderling is en 'n getuie van die lyde van Christus en ook deelagtig aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Wees die kudde van God wat onder julle is, en hou toesig daaroor, nie deur dwang nie, maar gewillig; nie vir vuil wins nie, maar met 'n bereidwillige verstand; Ook nie as heersers oor die erfdeel van God nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle 'n kroon van heerlikheid ontvang wat nie verdwyn nie. Net so moet julle, julle jongeres, aan die oudste onderdanig wees. Ja, wees almal onderdanig aan mekaar en bekleed met nederigheid, want God weerstaan die hoogmoediges en gee genade aan die nederiges. Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle sorge op Hom; want Hy sorg vir jou. Wees nugter, wees waaksaam; want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Wat standvastig in die geloof teëstaan, omdat hulle weet dat dieselfde beproewinge onder julle broeders wat in die wêreld is, gedoen word. Maar die God van alle genade, wat ons deur Christus Jesus tot sy ewige heerlikheid geroep het, nadat julle 'n tyd lank gely het, maak julle volmaak, bevestig, versterk, vestig julle. Aan Hom kom toe die heerlikheid en die heerskappy tot in alle ewigheid. Amen.
1 PETRUS 5:1-11 Die Boodskap (DB)
Vir die kerkleiers onder julle wil ek iets besonders sê. Ek self is ook ’n kerkleier wat vir ander van die lyding van Jesus vertel. Wanneer Jesus weer kom, sal ek ook die eer kry wat Hy aan gelowiges gaan gee. Ek weet dus waarvan ek praat. Pas die mense wat aan God behoort goed op, want julle moet as hulle leiers vir hulle sorg. Sorg mooi vir hulle. Dit moet nie vir julle ’n las wees asof iemand julle dwing nie. Nee, julle moet dit doen omdat julle dit graag wil doen en dit vir julle lekker is. Julle moenie vra wat julle daardeur gaan ontvang nie, maar liewer wat julle kan gee deur vir ander iets te beteken. God wil dit so hê. Moenie baasspelerig wees nie, maar lei die medegelowiges eerder deur die goeie voorbeeld wat julle stel. Wanneer Jesus, die Een wat so goed vir ons almal sorg, weer kom, sal Hy julle soos konings behandel. Hy sal julle die eer gee wat net konings kry en niemand sal dit van julle kan wegvat nie. Ek het ook iets besonders om vir die jonger mense te sê. Luister na die leiers in die gemeente. Julle moet mekaar help waar hulp nodig is sonder om te vra wat dit julle gaan kos. Moenie te veel van julleself dink nie, maar ken liewer julle plek. Daar staan mos geskryf: “God is nie aan die kant van mense wat te veel van hulleself dink nie; Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees.” Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ’n ereplek by Hom gee. Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg. In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg. Moenie toelaat dat hy julle geestelike fondamente skud nie. Laat dít vir julle ’n troos wees: daar is Christene oor die hele wêreld wat as Christene dieselfde dinge as julle ly omdat hulle dieselfde stryd as julle stry. Hierdie swaarkry as Christene sal nie meer so lank aanhou nie. Daarvoor sal God sorg. Dit is immers Hy wat soveel goeie geskenke vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Hy het Christus Jesus gestuur, deur wie God ons ook uitnooi om vir altyd sy eregaste te wees. Al ly julle nou ’n rukkie, sal God self vir julle julle ereplek by Hom gee. Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig het, sodat niks en niemand dan meer iets aan julle sal kan doen nie. Hy kan dit doen, want al die krag behoort aan Hom, nou en vir altyd. Daaraan hoef niemand eens te twyfel nie.
1 PETRUS 5:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nou rig ek my tot die ouderlinge onder julle. Ek is self mede-ouderling én getuie van die lyding van Christus. Ek sal self ook deel hê aan sy heerlikheid wat geopenbaar gaan word. As ’n mede-ouderling doen ek ’n beroep op julle: As herders moet julle die kudde van God goed oppas; hulle is aan julle toevertrou. Hou gewillig toesig oor hulle, nie omdat julle gedwing word nie, maar omdat julle wil doen wat God wil hê; nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan. Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde. En wanneer die Hoofherder verskyn, sal julle deel kry aan sy heerlikheidskroon wat nooit vergaan nie. En julle, jong manne, erken die gesag van die ouderlinge. Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want: “God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan húlle gee Hy sy genade.” Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak. Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om. Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding. In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.