1 SAMUEL 1:7-20
1 SAMUEL 1:7-20 Bybel vir almal (ABA)
Elkana het dit elke jaar gedoen. Wanneer Hanna na die tempel gegaan het, dan het Peninna haar gespot. Hanna het dan gehuil en sy het nie geëet nie. Dan het haar man Elkana vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy en hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Jy weet jy het vir my, en dit is beter as om tien seuns te hê.” Nadat hulle in Silo saam geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Die priester Eli het by die deur van die tempel op 'n stoel gesit. Hanna was baie hartseer. Sy het tot die Here gebid en baie gehuil. Sy het vir die Here belowe en gesê: “Here wat oor alles regeer, ek is u dienaar. U moet asseblief na my kyk en sien hoe hartseer ek is. U moet dink aan my, U moenie vir my vergeet nie. As U vir my 'n seun gee, dan sal ek hom bring om sy hele lewe lank aan U te behoort, en niemand sal sy hare afskeer nie.” Hanna het lank aangehou bid tot die Here, en Eli het gesien sy praat. Maar Hanna het saggies gepraat. Net haar lippe het beweeg. Eli kon nie hoor wat sy sê nie en hy het gedink sy is dronk. Eli sê toe vir Hanna: “Hoe lank wil jy dronk bly? Gaan nou en kom terug wanneer jy nie meer dronk is nie.” Maar Hanna het vir Eli gesê: “Nee, Meneer, ek het nie wyn of bier gedrink nie, ek is baie hartseer en ek het vir die Here gesê hoe ek voel. Jy moenie dink dat ek 'n slegte vrou is nie. Ek het tot nou toe gepraat oor my groot hartseer en my pyn.” Eli het vir Hanna gesê: “Ek hoop dit sal goed gaan met jou. Ek bid dat die God van Israel vir jou sal gee wat jy gevra het.” Hanna het geantwoord: “Ek hoop jy sal aanhou tevrede wees met my.” Sy het gegaan en geëet, en sy was nie meer ongelukkig nie. Die volgende oggend het Elkana en Hanna vroeg opgestaan en hulle het tot die Here gebid, en toe het hulle teruggegaan na hulle huis in die stad Rama. Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink. Aan die einde van daardie jaar het sy swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het hom Samuel genoem. Sy het gesê: “Sy naam is Samuel, want ek het vir die Here gevra om hom vir my te gee.”
1 SAMUEL 1:7-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So het hy gedoen van jaar tot jaar, telkens as sy opgaan in die huis van die HERE. Só het sy haar geterg, dat sy geween het en nie wou eet nie. En haar man Élkana sê vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie? Toe staan Hanna op nadat hulle geëet en nadat hulle gedrink het in Silo, terwyl die priester Eli op die stoel sit by die deurpos van die tempel van die HERE. En bitter bedroef het sy tot die HERE gebid en bitterlik geween; en sy het 'n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd 'n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie. En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee — want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie — het Eli gedink dat sy dronk was. En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos 'n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg. Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is 'n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort. Hou tog nie u dienares vir 'n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek. En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het. Daarop sê sy: Mag u dienares guns in u oë vind. Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders. Toe het hulle die môre vroeg klaargemaak en voor die aangesig van die HERE aanbid en teruggegaan en by hulle huis in Rama gekom; en Élkana het sy vrou Hanna beken, en die HERE het aan haar gedink. En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, 'n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid.
1 SAMUEL 1:7-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” Op 'n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk. Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!” Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.” Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe. Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het 'n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”
1 SAMUEL 1:7-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So het dit jaar ná jaar gegaan. Elke keer as Hanna opgegaan het na die huis van die HERE, het Peninna haar só getreiter dat sy gehuil het en nie wou eet nie. Elkana, haar man, het op 'n keer vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy? Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie? ” Nadat hulle daar in Silo klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die deurkosyn van die •tempel van die HERE gesit. Sy was bitter ongelukkig en het tot die HERE gebid terwyl sy onbedaarlik huil. Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “HERE, Heerser oor alle magte, as U tog net die ellende van u slavin wil raaksien en aan my sal dink en u slavin nie sal vergeet nie, en as U aan u slavin 'n manlike nasaat sal gee, dan sal ek hom aan U, HERE, teruggee so lank hy leef. 'n Skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie. ” Terwyl Hanna so aanhou bid voor die HERE, het Eli haar mond dopgehou. Maar Hanna self was besig om in haar hart te praat – net haar lippe het beweeg en haar stem was onhoorbaar. Eli het gedink sy is dronk. Eli sê toe vir haar: “Hoe lank nog gaan jy dronk bly? Raak ontslae van jou wyn!” Maar Hanna het geantwoord en gesê: “Nee, my heer! Ek is 'n vrou met 'n swaar gemoed. Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my hart voor die HERE uitgestort. Moet my, u slavin, nie as 'n slegte vrou beskou nie, want dit is oor my kommer en ontsteltenis wat ek so lank gepraat het.” Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan. ” “Mag u slavin genade vind in u oë,” het sy gesê. Die vrou is toe daar weg. Sy het geëet, en haar gesig was nie meer droewig nie. Hulle het vroeg die volgende môre opgestaan, voor die HERE in aanbidding gebuig, en weer na hulle huis in Rama gegaan. Elkana het met sy vrou Hanna gemeenskap gehad, en die HERE het aan haar gedink. Met die draai van die jaar was Hanna swanger en het sy aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “van die HERE het ek hom gevra”.
1 SAMUEL 1:7-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En soos hy jaar na jaar so gedoen het as sy opgaan na die huis van die HERE, so het sy haar geterg; daarom het sy geween en nie geëet nie. Toe sê haar man Elkana vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie? Toe het Hanna opgestaan nadat hulle in Silo geëet het en nadat hulle gedrink het. En die priester Eli het op 'n stoel by 'n paal van die tempel van die HERE gaan sit. En sy was bitter van siel en het tot die HERE gebid en bitterlik geween. En sy het 'n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U die ellende van u dienares en aan my dink, en u dienares nie vergeet nie, maar aan u dienares 'n manlike seun gee, dan sal ek hom aan die HERE al die dae van sy lewe, en geen skeermes sal op sy hoof kom nie. En terwyl sy aanhou bid voor die aangesig van die HERE, merk Eli op haar mond. En Hanna, sy het in haar hart gepraat; net haar lippe het beweeg, maar haar stem is nie gehoor nie; daarom het Eli gedink sy was dronk. Toe sê Eli vir haar: Hoe lank sal jy dronk wees? verwyder jou wyn van jou af. En Hanna het geantwoord en gesê: Nee, my heer, ek is 'n vrou met 'n bedroefde gees; ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie, maar my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort. Moenie u slavin as 'n dogter van Belial ag nie, want uit die oorvloed van my klagte en droefheid het ek tot dusver gespreek. Toe antwoord Eli en sê: Gaan in vrede, en die God van Israel gee jou jou bede wat jy van hom gevra het. En sy sê: Laat u dienares genade vind in u oë. So het die vrou toe gegaan en geëet, en haar aangesig was nie meer bedroef nie. En hulle het die môre vroeg opgestaan en voor die aangesig van die HERE aanbid en teruggekeer en by hulle huis in Rama aangekom; en Elkana het sy vrou Hanna beken; en die HERE het aan haar gedink. Daarom het dit gebeur, toe die tyd aanbreek dat Hanna swanger geword het, dat sy 'n seun gebaar het en hom Samuel genoem het en gesê: Omdat ek hom van die HERE gevra het.
1 SAMUEL 1:7-20 Die Boodskap (DB)
want dit het elke jaar gebeur wanneer sy na die tempel van die Here toe gegaan het. Peninna het haar só gespot dat sy op ’n dag begin huil het en nie wou eet nie. Elkana sê toe vir haar: “Hoekom huil jy? En hoekom eet jy nie? Waaroor is jy so omgekrap? Is ek nie vir jou beter as tien kinders nie?” Die priester Eli het gewoonlik op ’n stoel gesit by die deurkosyn van die tempel. Toe die familie klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Sy was sielsongelukkig. Sy het tot die Here gebid en terwyl sy vreeslik huil, het sy ’n belofte gemaak. Sy het gesê: Magtige Here, ek is U nederige diensmeisie. As U regtig my moeilike omstandighede raaksien en my sal onthou en my nie vergeet nie en vir my ’n seunskind gee, sal ek hom vir sy lewe lank aan U, Here, teruggee. Sy hare sal nooit geskeer word nie. Terwyl sy so aanhoudend voor die altaar bid, het Eli haar mond dopgehou. Omdat Hanna in haar hart met die Here gepraat het en net haar lippe geroer het sonder dat haar stem gehoor kon word, het Eli gedink sy is dronk. Hy sê toe vir haar: “Wanneer gaan jy ophou met jou gedrink? Los die drank!” “U maak ’n fout, Meneer,” antwoord Hanna. “Ek het nie wyn of enige sterk drank gedrink nie. Ek is ’n baie ongelukkige vrou en ek het maar net my hart voor die Here uitgepraat. Moet asseblief nie dink dat ek, ’n nederige mens, sommer ’n nikswerd vrou is nie. Dit is omdat ek bekommerd en ontsteld is dat ek so lank gebid het.” Eli sê toe vir haar: “Mag dit met jou goed gaan, en mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.” Nederig het Hanna hom geantwoord: “Dankie dat u vir my goed is.” Sy het na haar mense toe teruggegaan en geëet. Sy het nie meer so ongelukkig gelyk nie. Vroeg die volgende môre het Elkana en sy familie in die tempel voor die Here op hulle knieë gegaan en daarna teruggegaan na hulle huis in Rama. Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink. Binne drie maande het Hanna ’n baba verwag. Toe die seuntjie gebore is, het sy hom Samuel genoem, “want ek het die Here gevra om hom vir my te gee,” het sy gesê.
1 SAMUEL 1:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit het jaar na jaar gebeur wanneer hulle na die huis van die HERE gegaan het. Dit het Hanna so laat huil dat sy nie wou eet nie. “Wat makeer, Hanna?” het Elkana dan gevra. “Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy so verdrietig net omdat jy nie kinders het nie? Jy het mos vir mý! Is ek dan nie beter as tien seuns nie?” Op ’n keer toe hulle weer by Silo was, het Hanna ná die offermaaltyd na die heiligdom van die HERE gegaan. Die priester Eli het op sy gewone plek by die ingang gesit. Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die HERE gebid. Sy het ’n gelofte gemaak: “O HERE, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.” Terwyl sy besig was om te bid, het Eli haar dopgehou. Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk. “Moet jy dan besope hier aankom?” sê hy. “Los die drank uit!” “O nee, Meneer!” antwoord sy. “Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die HERE oopgemaak. Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.” “Gaan gerus,” sê Eli. “Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.” “Baie dankie, Meneer!” antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie. Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die HERE aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die HERE het Hanna se versoek onthou. Sy het swanger geword en op die regte tyd geboorte gegee aan ’n seun. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom van die HERE afgesmeek.”