1 TESSALONISENSE 2:9-16

1 TESSALONISENSE 2:9-16 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, onthou julle hoe hard ons gewerk en gesweet het toe ons by julle was? Ons het elke dag en nag gewerk om self te betaal vir ons kos en slaapplek, ons wou vir niemand van julle vra om vir ons te sorg nie. So het ons God se goeie boodskap vir julle gebring. Julle weet en God weet ook dat ons baie hard gewerk het vir julle wat glo. Ons het net aan julle gedink. Niemand kan ons beskuldig nie. Julle weet goed dat ons vir elkeen van julle lief was soos 'n pa lief is vir sy kinders. Ons het met julle gepraat soos 'n pa met sy kinders praat. Ons het gesê julle moenie moedeloos word nie, julle moet aanhou probeer. Ons het gesoebat dat julle so moet lewe dat God tevrede sal wees met julle. Want dit is Hý wat vir julle gekies het, Hy wil julle Koning wees en oor julle regeer. Daarom sê ons ook vir God altyd dankie dat julle geglo het wat ons vir julle gesê het. Julle het geglo dat God dit gesê het, nie mense nie. En die dinge wat God gesê het, werk nou ook in julle wat glo. Vriende, dieselfde dinge gebeur met julle soos wat gebeur het met die gemeentes van God in die provinsie Judea, hulle is mense wat ook in Christus Jesus glo. Julle het ook swaargekry soos hulle. Julle eie mense het julle laat swaarkry, soos die Jode die gemeentes in Judea laat swaarkry het. Dit is die Jóde wat die Here Jesus doodgemaak het. Hulle het die profete laat swaarkry en ook vir ons. Die Jode doen nie wat God wil hê nie, en hulle is téén al die mense. Hulle keer ons wanneer ons vir die heidene die boodskap wil bring sodat God die heidene kan red. So het die Jode se sondes meer en meer geword, hulle het baie baie skuldig geword. En nou het God hulle begin straf.

1 TESSALONISENSE 2:9-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle 'n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie. Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos 'n pa sy kinders het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê. Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.

1 TESSALONISENSE 2:9-16 Die Boodskap (DB)

Julle onthou seker nog hoe hard ek daar by julle geswoeg en gesweet het. Tussen al my preke deur het ek my eie inkomste verdien. Ek het dit gedoen omdat ek nie ’n finansiële las op julle skouers wou laai terwyl ek die goeie nuus oor God aan julle bekendmaak nie. Julle weet dat nie ek of een van my helpers ’n voet verkeerd gesit het daar by julle nie. God weet dit ook. Ons het alles gedoen wat Hy van ons verwag. Ons het nie een van julle sleg behandel nie. Soos ’n pa wat mooi met sy kinders praat en hulle aanmoedig om die regte dinge te doen, het ons mooi met julle almal gepraat. Ons het by julle gepleit om God te verheerlik deur alles wat julle doen en sê. Hy self het julle uitgesoek om deel te wees van sy hemelse koninkryk en om te deel in sy heerlikheid. Ek kan nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie. Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel het, het julle nie slegs ’n paar menslike opinies oor God aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God. Hy self werk nou in julle almal wat glo. My broers en susters, julle weet teen hierdie tyd ook van die gemeentes van God daar in Judea. Net soos julle behoort hulle ook aan Jesus Christus. En, net soos hulle daar in Judea onder die Jode moes ly as gevolg van hulle geloof, ly julle nou ook onder julle eie volksgenote. Daardie Jode wat die kerk nou so vervolg, het ons Here Jesus en God se boodskappers doodgemaak. Hulle tree teen God se wil op. Ja, hulle is niks minder nie as vyande van die mensdom. Hulle het hulle bes gedoen om my te probeer keer om die goeie nuus aan mense uit ander volke te preek sodat hulle ook gered kon word. Daardeur het hulle hulle eie graf gegrawe. Hulle beker loop oor van sonde! Daarom het God se oordeel hulle reeds begin tref.