1 TESSALONISENSE 3:6-13
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar nou het Timoteus van julle af by ons teruggekom met goeie nuus oor julle geloof en liefde. Hy het ook vertel dat julle altyd goeie herinneringe aan ons het en dat julle net so baie na ons verlang as ons na julle. Daarom, broers en susters, deur júlle geloof is ons in al ons nood en swaarkry oor julle gerusgestel. Want toe dit blyk dat julle sterk staan in julle verhouding met die Here, het ons weer begin lééf! Hoe kan ons God ooit genoeg vir julle dank? Wat kan ons vir Hom terugdoen vir al die vreugde oor julle waarmee ons voor ons God bly is? Dag en nag vra ons ernstig om julle weer persoonlik te sien en om die tekorte van julle geloof aan te vul. Mag God ons Vader en Jesus ons Here self ons pad na julle toe oopmaak. En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense so groot en oorvloedig maak dat dit net soos ons liefde vir julle sal wees. Mag Hy julle geestelike lewe so sterk maak dat julle volkome in julle toewyding voor ons God en Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met almal wat aan Hom behoort.
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Bybel vir almal (ABA)
Maar Timoteus het klaar teruggekom van julle en hy het vir ons goeie nuus gebring. Hy sê julle hou aan om in God te glo en julle is lief vir mekaar. Hy sê ook julle dink aan mooi dinge wanneer julle aan ons dink, en julle verlang om ons te sien, soos ons ook verlang om julle te sien. Vriende, ons het baie probleme en ons kry swaar, maar ons voel tevrede oor julle, want ons weet julle hou aan om te glo. Julle geloof in die Here is sterk, daarom gaan dit goed met ons. Wanneer ons aan julle dink, dan is daar baie dinge wat ons bly maak. Ons kan nie vir God genoeg dankie sê oor julle wanneer ons tot Hom bid nie. Ons bid ernstig elke dag en nag dat ons julle weer sal sien. Ons bid ook dat ons oor die ander dinge kan praat wat julle glo maar wat julle nog nie goed verstaan nie. Ons bid dat ons God en Vader en ons Here Jesus Christus vir ons na julle toe sal lei. Ons bid dat die Here julle liefde sal laat groei en dat julle vol sal word van liefde vir mekaar en liefde vir almal, soos ons ook lief is vir julle. So sal die Here julle in julle harte laat glo dat julle heeltemal aan God behoort. Dan sal niemand julle kan beskuldig wanneer julle voor ons God en Vader staan nie, daardie dag wanneer die Here Jesus kom en wanneer al sy engele by Hom sal wees. Amen.
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar nou dat Timótheüs net van julle af by ons aangekom het en ons die goeie tyding van julle geloof en liefde gebring het, en dat julle altyd 'n goeie herinnering aan ons behou en verlang om ons te sien, net soos ons ook vir julle — daarom, broeders, is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur jul geloof. Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here. Want watter dank kan ons God vergelde oor julle vir al die blydskap waarmee ons om julle ontwil ons verbly voor onse God, terwyl ons nag en dag baie ernstig bid om julle aangesig te sien en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek? Maar mag onse God en Vader self en onse Here Jesus Christus ons weg na julle toe rig; en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nou is Timoteus van julle af terug by ons, en hy het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde. Hy het ons vertel dat julle nog altyd die aangenaamste herinneringe aan ons het en dat julle net so na ons verlang as ons na julle. Daarom, broers, het ons in al ons nood en swaarkry weer moed geskep vir julle omdat julle nog glo. Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik. Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek. Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar vandat Timoteus van julle af by ons aangekom en die goeie nuus van julle geloof en liefde aan ons oorgedra het – dat julle deurentyd goeie herinneringe aan ons het en daarna smag om ons te sien, soos ons vir julle – is ons, wat julle betref, broers, te midde van al ons nood en verdrukking, vertroos deur julle geloof. Want nou leef ons, mits julle vas in die Here bly staan. Watter dank kan ons immers na behore aan God bring oor julle, vir elke vreugde oor julle wat ons voor ons God het? Terselfdertyd smeek ons bedags en snags baie ernstig om julle van aangesig tot aangesig te mag sien, en om te kan voorsien in wat aan geloof by julle ontbreek. En mag God ons Vader self, en ons Here Jesus, ons pad na julle rig; mag die Here julle liefde vir mekaar en vir almal laat toeneem en oorvloedig maak, soos ons liefde vir julle ook is. Mag Hy julle harte versterk, sodat julle met die koms van ons Here Jesus, saam met al sy heiliges, onberispelik in heiligheid voor ons God en Vader kan wees. •Amen.
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar nou toe Timoteus van julle af na ons gekom het en vir ons 'n goeie tyding gebring het van julle geloof en liefde, en dat julle altyd aan ons 'n goeie gedagtenis het en baie graag begeer om ons te sien, net soos ons julle ook sal sien. Daarom, broeders, is ons oor julle vertroos in al ons ellende en benoudheid deur julle geloof. Want nou leef ons as julle vasstaan in die Here. Want watter dank kan ons God weer vir julle betuig, oor al die vreugde waarmee ons ons om julle ontwil verheug voor onse God; Nag en dag baie bid dat ons u aangesig mag sien en dit wat in u geloof ontbreek, kan volmaak? Maar God self en ons Vader, en onse Here Jesus Christus, rig ons pad na julle toe. En die Here laat julle toeneem en oorvloedig wees in liefde onder mekaar en teenoor alle mense, net soos ons teenoor julle. Tot die einde mag Hy julle harte bevestig, onberispelik in heiligheid voor God, ja, ons Vader, by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al Sy heiliges.
1 TESSALONISENSE 3:6-13 Die Boodskap (DB)
Maar toe Timoteus daar van julle af terugkom, het hy goeie nuus vir my gehad. Hy het kom vertel dat julle vertroue in die Here sterk is en dat julle vir mekaar lief is. Boonop het julle die mooiste herinneringe aan my en verlang julle om my weer te sien; net soos ek ook na julle almal verlang. Tussen al die vervolging en swaarkry deur wat ek moet verduur, het die nuus dat julle steeds glo my sommer baie moed gegee. Nou leef ek weer met ’n glimlag omdat julle steeds op die Here se pad stap. Hoe kan ek ooit vir God genoeg dankie sê vir julle almal? Julle verander my gebede in een groot fees! Want ek hou net aan om dank aan ons wonderlike God te bring oor julle. My lewe loop oor van vreugde oor julle! In dieselfde asem bid ek nog die hele tyd baie ernstig dat God dit vir my moontlik sal maak om weer daar by julle uit te kom. Ek wil julle baie graag weer sien. Ek moet julle geloof nog sterker maak sodat daar niks in julle geestelike toerusting sal ontbreek nie. Ek vertrou op ons God en Vader en op ons Here Jesus om my op die regte tyd daar na julle toe te laat kom. My gebed is dat die Here julle baie lief vir mekaar sal maak. En ook vir ander mense. Mag julle liefde net sterker en sterker word. Julle moet net so lief wees vir ander as wat ek nou vir julle is. Ek bid dat julle lewe van binne af sal verander sodat julle die hele tyd net vir God sal leef. Dan sal daar nie ’n enkele krapmerk van die sonde in julle lewe te sien wees as julle op die laaste dag voor God ons Vader moet gaan staan nie. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus en almal wat aan Hom behoort, terugkeer, sal julle spesiaal aan God toegewy wees. Dit is die waarheid!