1 TESSALONISENSE 4:1-18

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, daar is nog 'n paar dinge waaroor ons met julle wil praat. Die Here Jesus sê ons moet vir julle iets vra wat baie belangrik is. Ons het vir julle geleer hoe julle moet lewe sodat God tevrede sal wees met julle. Ons weet julle doen dit al klaar, maar ons wil vra dat julle dit nog beter moet doen. Julle weet wat ons alles vir julle gesê het om te doen. Dit is dinge wat die Here Jesus vir ons gesê het. God wil hê julle moet lewe soos mense wat aan Hom behoort. Julle moenie julle liggame gebruik om onsedelik te lewe nie. God wil hê elke man moet weet dat hy saam met sy vrou moet lewe soos God wil hê, en elke man moet sy vrou respekteer. Julle moenie doen soos die heidene wat nie vir God ken nie. Daardie mans gebruik hulle vroue net vir seks. God wil ook hê gelowiges moenie sonde doen teen mekaar nie. Die een man moenie 'n ander man se vrou wil hê en haar vir homself vat nie. Die Here sal hierdie soort sonde straf. Ons het dit voorheen vir julle gesê en ons het julle ernstig gewaarsku. God het ons gekies om aan Hom te behoort, daarom moet ons lewe soos Hy wil hê, ons moenie onsedelik lewe nie. Daarom, iemand wat nie luister na wat ons vir julle leer nie, is ongehoorsaam aan God wat sy Heilige Gees vir julle gee, hy is nie ongehoorsaam aan mense nie. Dit is nie nodig dat óns vir julle skryf dat julle lief moet wees vir mekaar nie, want God self het vir julle geleer dat julle lief moet wees vir mekaar. Ons weet julle is lief vir al die gelowiges in die hele provinsie Masedonië. Maar, vriende, ons vra weer baie mooi, julle moet dit nog beter doen. Julle moet ook probeer om stil en rustig te lewe. Julle moenie nuuskierig wees oor ander mense nie. En julle moet self hard werk, soos ons gesê het julle moet doen. Dan sal die mense buite die gemeente, die mense wat nie in Christus glo nie, julle respekteer. En julle sal ook alles kry wat julle nodig het. Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie. Ons glo dat Jesus gesterf het en weer begin lewe het. Ons moet ook glo dat God die gelowiges wat gesterf het, na Jesus toe sal bring. Wat ons nou vir julle sê, het die Here Jesus vir ons gesê. Wanneer die Here Jesus weer kom, dan sal dit nie met ons wat nog lewe, beter gaan as met die mense wat klaar gesterf het nie. Wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hard roep en sê wat moet gebeur. 'n Groot engel sal hard roep, en die trompet van God sal blaas. Die Here Jesus self sal uit die hemel kom, en die mense wat gesterf het en wat in Christus glo, sal eerste weer lewe. Daarna sal God ons wegvat, ons wat nog lewe en wat oorgebly het op die aarde. Hy sal ons en die mense wat gesterf het en wat weer lewe, saam wegneem tot in die wolke. Dan sal ons die Here Jesus in die lug ontmoet, en so sal ons altyd by die Here Jesus wees. Julle moet hierdie dinge vir mekaar sê, sodat julle nie huil en treur nie.

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees. Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here 'n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het. Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het. Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê; en julle doen dit ook aan al die broeders in die hele Macedónië; maar ons vermaan julle, broeders, om oorvloediger te wees en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie. MAAR, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe. Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het. Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe. Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie. Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Verder dan, broers, vra ons julle, en spoor ons julle ter wille van die Here Jesus aan: Julle is deur ons onderrig oor hoe julle moet leef om God te behaag; julle leef inderdaad reeds hiervolgens, maar julle moet nog al hoe meer so leef. Julle weet tog watter voorskrifte ons vir julle gegee het deur die Here Jesus. Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op 'n heilige en eerbare wyse te verkry, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge. God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie 'n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. Oor die broederliefde is dit nie nodig dat ek vir julle skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. Julle het inderdaad ook al die broers in die hele Macedonië lief. Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen, en dit vir julle 'n saak van eer te maak om rustig te wees, julle met julle eie sake te bemoei, en met julle eie hande te werk, soos ons julle opdrag gegee het. Sodoende sal julle eerbaar kan leef in die oë van die buitestanders en van niemand afhanklik wees nie. Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. Want die Here self sal met 'n luide bevel, met die stem van 'n aartsengel, en met 'n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in •Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder smeek ons julle dan, broeders, en vermaan julle in die Here Jesus, dat soos julle van ons ontvang het hoe julle behoort te wandel en God te behaag, so sal julle meer en meer oorvloedig wees. Want julle weet watter gebooie ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God, ja, julle heiligmaking, dat julle jul moet onthou van hoerery: dat elkeen van julle moet weet hoe om sy voorwerp in heiligmaking en eer te besit; Nie in die begeerlikheid van begeerlikheid nie, net soos die heidene wat God nie ken nie. Dat niemand verder gaan en sy broer in enige saak bedrieg nie, want die Here is die wraak van al hierdie dinge, soos ons julle ook vooraf gewaarsku en getuig het. Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Wie dus verag, verag nie die mens nie, maar God, wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het. Maar wat die broederliefde betref, het julle nie nodig dat ek aan julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En julle doen dit aan al die broeders wat in die hele Macedónië is; maar ons smeek julle, broeders, dat julle meer en meer moet vermeerder; En dat julle studeer om stil te bly en om julle eie sake te doen en om met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het; sodat julle eerlik kan wandel teenoor die wat buite is, en julle aan niks ontbreek nie. Maar ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees nie, broeders, aangaande die ontslapenes, sodat julle nie treur soos ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf en opgestaan het, so sal God ook die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot die wederkoms van die Here die ontslapenes nie sal keer nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Dan sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar daarom met hierdie woorde.

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Die Boodskap (DB)

My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen. Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen. God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek. Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes. God gee glad nie aan ons die reg om seksueel losbandig te leef nie. Inteendeel, ons hele lewe moet wys dat ons nou aan Hom behoort. Mense wat hulle nie steur aan wat ek sê nie, maak ’n bespotting van God wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê. Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om. Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was. As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie. My broers en susters, ek wil nie hê julle moet vrae hê oor wat gaan gebeur met dié gelowiges wat reeds dood is op daardie dag wanneer Christus terugkom na die wêreld toe nie. Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie. Ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Net so sal God almal wat voor hulle dood in Jesus geglo het, saam met Hom bring wanneer Hy weer na ons toe kom. Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie. Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly. Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo.

1 TESSALONISENSE 4:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ten slotte, broers en susters, vra ons julle en spoor ons julle aan om as deel van julle verhouding met die Here Jesus julle leefstyl in te rig volgens die voorskrifte wat julle van ons ontvang het oor hoe julle moet lewe om God gelukkig te maak. Julle doen dit ook, maar lê julle nóg meer daarop toe. Julle onthou mos nog die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle gegee het. Dis God se wil dat julle aan Hom toegewy moet lewe. Weerhou julle van seksuele sondes. Elkeen van julle moet weet hoe om op te tree wanneer julle ’n vrou soek. Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek. Moenie uit seksuele drange ’n vrou soek soos die ongelowiges wat God nie ken nie. Niemand moet in hierdie opsig sy medegelowige benadeel of misbruik nie, want die Here wreek al sulke dinge. So het ons ook vroeër vir julle gesê en julle ernstig gewaarsku. God het ons mos nie geroep tot ’n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy. Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie ’n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee! Ek hoef nie vir julle te skryf oor die liefde wat ons vir mekaar moet hê nie, want julle is deur God self geleer om mekaar lief te hê. Julle tree inderdaad so teenoor alle medegelowiges in Masedonië op. Nogtans spoor ons julle aan, broers en susters: Lê julle nog meer daarop toe en laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, met julle eie sake besig te wees en met julle eie hande te werk. Hierdie riglyne het ons al vroeër aan julle gegee sodat die buitestanders agting vir julle leefstyl sal kry, en julle in geen opsig gebrek sal ly nie. Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie. Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring. Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie. Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.