1 TESSALONISENSE 5:16-24
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet altyd bly wees. Julle moenie ophou bid nie. Julle moet altyd dankbaar wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Dit is wat God wil hê julle moet doen omdat julle in Christus Jesus glo. Julle moenie keer wanneer die Heilige Gees werk nie. Dit beteken julle moenie 'n profeet stilmaak nie. Maar julle moet ook nie alles glo wat mense sê nie. Julle moet toets wat mense sê en kyk of dit regtig is wat God wil hê. Dan sal julle weet wat goed is. Bly weg van alles wat sleg is. Ons bid dat God wat vrede gee, julle aan Hom sal wy sodat julle sal doen wat Hy wil hê. Ons bid ook dat wanneer ons Here Jesus Christus kom, julle heeltemal skoon sal wees, julle gees, julle hart en julle liggaam. Dan sal niemand julle kan beskuldig nie. God sal doen wat Hy belowe het, Hy het julle gekies en Hy sal dit doen.
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad. En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in •Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid. En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus •Christus kom. Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees altyd bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Blus die Gees nie uit nie. Verag profesieë nie. Beproef alle dinge; hou vas wat goed is. Weerhou van alle skyn van boosheid. En die God van vrede sal julle volkome heilig maak; en ek bid God dat julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus. Getrou is hy wat julle roep, wat dit ook sal doen.
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Die Boodskap (DB)
Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het. Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem. Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê, maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit, maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei. Ek bid dat God, wat vrede tussen ons en Hom gemaak het, julle lewe geheel en al vir Hom opsy sal sit. Mag Hy julle met alles binne-in julle oppas tot op daardie dag dat ons Here Jesus Christus weer kom. Mag Hy julle op ’n dag silwerskoon voor Christus laat staan, sonder ’n spikkeltjie sonde in julle lewe. Ek weet God sal my gebed verhoor, want Hy hou sy woord. Toe Hy julle sy kinders gemaak het, het Hy belowe dat Hy die hele tyd by julle sal wees tot op die heel laaste dag.
1 TESSALONISENSE 5:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is. Moenie die Gees uitblus nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alles wat gesê word en behou wat goed is. Bly weg van elke vorm van kwaad. Mag die God van vrede julle volkome aan Hom toewy. Ja, mag God julle so bewaar dat julle na gees, siel en liggaam volkome vlekkeloos sal wees wanneer ons Here Jesus Christus terugkom. Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!