1 TIMOTEUS 1:12-17
1 TIMOTEUS 1:12-17 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê dankie vir Christus Jesus, ons Here, want Hy het vir my die krag gegee om my werk te doen. Ek sê ook vir Hom dankie dat Hy gedink het ek sal doen wat Hy wil hê, dankie dat Hy vir my die werk gegee het om die goeie boodskap te bring. Voordat ek 'n gelowige geword het, het ek slegte dinge gesê van Christus, ek het die mense van sy kerk verdruk en beledig. Maar Christus was genadig vir my, omdat ek daardie dinge gedoen het toe ek nog nie in Hom geglo het nie, ek het nie geweet dat ek verkeerd doen nie. Ons Here was baie goed vir my. Hy het my laat glo in Hom, en Hy het my lief gemaak vir mense. Dit gebeur wanneer 'n mens aan Christus Jesus behoort. Wat ek nou wil sê, is waar, julle kan dit glo: Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te red. Ek is die grootste sondaar. Maar Christus Jesus was baie goed vir my. Ek was die grootste sondaar, maar Hy het vir my gewys dat Hy baie geduldig is. Daarom het ek 'n voorbeeld geword vir ander mense, mense wat ook in Hom kan glo en die ewige lewe kan kry. Ek bid dat die mense altyd vir God sal eer en prys, God wat altyd Koning is en wat altyd lewe. Ons sien nie vir God nie, net Hy is God. Amen.
1 TIMOTEUS 1:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër 'n lasteraar en 'n vervolger en 'n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om 'n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.
1 TIMOTEUS 1:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus. Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
1 TIMOTEUS 1:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek dank Hom wat my versterk het, •Christus Jesus, ons Here, omdat Hy my betroubaar geag het toe Hy my in sy diens aangestel het – vir my wat voorheen 'n lasteraar, 'n vervolger en 'n geweldenaar was. Nogtans is ek begenadig, omdat ek uit ongeloof onkundig opgetree het. Ons Here se genade oor my was oorvloedig, en daarmee saam ook nog die geloof en liefde wat daar in Christus Jesus is. Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is. Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onsterflike, onsienlike, enigste God kom toe eer en heerlikheid vir ewig en ewig. •Amen.
1 TIMOTEUS 1:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek dank Christus Jesus, onse Here, wat my in staat gestel het, dat Hy my getrou geag het deur my in die bediening te stel; Hy was voorheen 'n lasteraar en 'n vervolger en kwaaddoener, maar ek het barmhartigheid verkry, omdat ek dit onwetend in ongeloof gedoen het. En die genade van onse Here was oorvloedig oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Dit is 'n betroubare woord en verdienste om aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red; van wie ek hoof is. Maar daarom het ek barmhartigheid verkry, dat Jesus Christus in my eerstens alle lankmoedigheid kon betoon, as 'n voorbeeld vir die wat hierna in Hom sou glo tot die ewige lewe. Nou aan die Koning, die ewige, onsterflike, onsigbare, die enigste wyse God, kom toe eer en heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.
1 TIMOTEUS 1:12-17 Die Boodskap (DB)
Ek is Christus Jesus baie dankbaar dat Hy my vertrou en my gevra het om hierdie werk vir Hom te doen. Hy gee my ook die krag om dit te kan doen. Hy het my die werk gegee om te doen al het ek vroeër lelike dinge oor Hom gesê, sy volgelinge in die moeilikheid probeer bring en hulle selfs met geweld seergemaak. Maar God het my jammer gekry omdat ek nie geweet het wat ek doen nie, want ek het nog nie in God geglo nie. Die Here het my toe eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en om ander lief te hê soos Hy my liefhet. Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie: Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ’n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan. Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie. Ons moet dit onthou as voorbeeld vir almal wat Jesus nog gaan teëkom en wat dan vir ewig saam met God gaan lewe omdat hulle op Jesus vertrou. Laat ons nooit ophou om die enigste God groot te maak en vir almal te vertel hoe wonderlik Hy is nie. Hy is ons Heerser vir altyd; niemand kan Hom sien nie en Hy gaan ook nie dood nie. So is dit en so sal dit bly.
1 TIMOTEUS 1:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel, selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het. Hoe oorvloedig was die onverdiende goedheid van ons Here nie en hoe het Hy my nie oorlaai met geloof en met die liefde wat ons deel word wanneer ons aan Christus Jesus verbind word nie. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal. Maar juis daartoe was God my genadig dat Christus Jesus aan my, die ergste sondaar van almal, God se groot geduld kon illustreer en my as voorbeeld kon gebruik vir hulle wat nog sal glo en só die ewige lewe sal ontvang. Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. Amen.