1 TIMOTEUS 4:6-10
1 TIMOTEUS 4:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet aanhou om vir die gelowiges te sê hulle moet die dinge onthou wat ek nou vir jou geskryf het. Dan sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees omdat jy aanhou om te luister na die boodskap oor die geloof wat jy geleer het. Die boodskap is waar, en jy het begin lewe soos jy geleer het. Daar is mense wat niks van God weet nie, mense wat self stories maak en vertel, stories wat niks beteken nie. Jy moenie na hulle stories luister nie. Jy moet oefen om God altyd beter te dien. Wanneer 'n mens jou liggaam oefen, dan help dit 'n bietjie. Maar wanneer 'n mens oefen om vir God beter te dien, dan help dit heeltemal, want God belowe om vir 'n mens die ewige lewe te gee, nou en in die tyd wat later kom. Wat ek nou gesê het, is waar, en jy kan dit glo. Daarom werk ons baie hard. Ons weet dat die God wat lewe, vir ons sal help, en ons weet dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Hy wil al die mense red, spesiaal die mense wat in Hom glo.
1 TIMOTEUS 4:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AS jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy 'n navolger geword het. Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het. Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat 'n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
1 TIMOTEUS 4:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het. Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word. Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo.
1 TIMOTEUS 4:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wanneer jy hierdie dinge aan die broers uitwys, sal jy 'n goeie dienskneg van •Christus Jesus wees, gevoed met die woorde van die geloof, en die goeie leer wat jy noukeurig navolg. Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in 'n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges.
1 TIMOTEUS 4:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As jy die broeders aan hierdie dinge herinner, sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees, gevoed in die woorde van geloof en goeie leer waartoe jy gekom het. Maar weier onheilige en ou vrouens se fabels, en oefen jou liewer tot godsaligheid. Want liggaamlike oefening baat min, maar die godsaligheid is vir alles nuttig, met die belofte van die lewe wat nou is en van die toekomstige. Dit is 'n betroubare woord en verdien om aan te neem. Want daarom arbei ons sowel as smaad, omdat ons op die lewende God vertrou, wat die Verlosser is van alle mense, veral van die wat glo.
1 TIMOTEUS 4:6-10 Die Boodskap (DB)
Jy sal doen wat Christus Jesus van jou as sy werker vra as jy die mense van hierdie gevare vertel. Die boodskap waarin jy glo, moet jou sterk maak. Jy het mos die Christelike leer aanvaar. Juis daarom moet jy jou nie steur aan al die stories wat mense uitdink en wat eintlik niks met God te doen het nie. Sorg jy liewer dat jy God reg dien. Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe wat vir ons wag in die toekoms. Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid. Hiervoor probeer ons ons uiterste bes en ons werk hard daarvoor. Ons weet mos dat die lewende God alles wat Hy beloof het, sal doen. Hy is die Een wat almal red, veral dié wat op Christus vertrou.
1 TIMOTEUS 4:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ’n waardige dienaar van Christus Jesus, een wat gevoed word deur die boodskap van geloof en die ware leringe wat jy navolg. Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word. Hiervoor swoeg en veg ons, want ons hoop is op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, en veral van dié wat glo.