1 TIMOTEUS 5:1-8
1 TIMOTEUS 5:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Jy moenie kwaai praat met 'n man wat baie ouer as jy is nie. Jy moet vir hom sê hoe hy moet lewe, maar jy moet met hom praat soos jy met jou pa praat. Jy moet met die jonger mans praat soos jy met jou broers praat. Jy moet ook met ouer vroue praat soos jy met jou ma praat. Wanneer jy met jonger vroue praat, dan moet jy met hulle praat soos jy met jou susters praat, jy moenie aan onsedelike dinge dink nie. Daar is weduwees wat nie familie het wat vir hulle kan sorg nie. Jy moet hulle respekteer en vir hulle sorg. Maar wanneer 'n weduwee kinders of kleinkinders het wat vir haar kan sorg, dan moet die kinders of kleinkinders weet dat sy hulle eie familie is en dat hulle vir haar moet sorg. So moet hulle vir God dien. Hulle moet vir hulle ouers en grootouers sorg soos hulle ouers voorheen vir húlle gesorg het. Dit is wat God wil hê hulle moet doen. Maar wanneer 'n weduwee alleen oorgebly het en sy het nie familie wat vir haar kan sorg nie, dan kan sy seker weet dat God vir haar sal sorg. Sy sê elke dag en nag vir God wat sy nodig het en sy bid tot Hom. Maar 'n weduwee wat altyd dink oor hoe sy die lewe kan geniet, is geestelik dood terwyl sy lewe. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê, sodat almal heeltemal reg sal lewe. Maar wanneer iemand nie vir sy eie mense sorg nie, ook nie vir sy eie huisgesin nie, dan is hy nie meer 'n gelowige nie, dan is hy slegter as die mense wat nie in Christus glo nie.
1 TIMOTEUS 5:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N BEJAARDE man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos 'n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid. Eer die weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag. Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood. Beveel ook hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as 'n ongelowige.
1 TIMOTEUS 5:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid. Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God. 'n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede. Maar 'n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. Skerp ook hierdie dinge in, sodat almal onberispelik kan wees. As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as 'n ongelowige.
1 TIMOTEUS 5:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Ouer man moet jy nie skerp berispe nie, maar vermaan hom soos 'n vader, en vermaan jonger mans soos broers, ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters – en dit alleen met suiwer bedoelings. Betoon eer aan weduwees wat werklik weduwees is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle leer om in die eerste plek hulle godsdienstige pligte teenoor hulle eie familie na te kom, en hulle ouers en grootouers te vergoed; want dit is aanneemlik in die oë van God. Maar sy wat werklik 'n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood. Beveel hulle hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as 'n ongelowige.
1 TIMOTEUS 5:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Bestraf 'n ouderling nie, maar smeek hom as 'n vader; en die jonger manne as broers; Die ouer vroue as moeders; die jonger as susters, met alle reinheid. Eer weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as enige weduwee kinders of nefies het, laat hulle eers leer om vroomheid by die huis te betoon en om hulle ouers te vergeld; want dit is goed en welgevallig voor God. En sy wat waarlik 'n weduwee en verlate is, vertrou op God en bly nag en dag in smekinge en gebede. Maar sy wat in plesier lewe, is dood terwyl sy lewe. En hierdie dinge gee beheer, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar as iemand nie vir sy eie sorg nie, en veral vir dié van sy huis, het hy die geloof verloën en is erger as 'n ongelowige.
1 TIMOTEUS 5:1-8 Die Boodskap (DB)
Moenie te kwaai met ’n ouer man praat nie. Praat liewer mooi met hom asof hy jou eie pa is. Jonger mans moet jy behandel asof hulle jou broers is, ouer vroue asof hulle jou ma is en jonger vroue asof hulle jou susters is. Jy moet hulle altyd so behandel dat hulle jou sal respekteer. Kyk mooi na die weduwees wat werklik niemand het om vir hulle te sorg nie. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet jy hulle leer dat godsdiens in jou eie huis begin. Om vir jou eie familie te sorg en op dié manier dankie te sê vir wat jou pa en ma of ouma en oupa alles vir jou gedoen het, is godsdiens in aksie. Daarvan hou God baie. ’n Weduwee wat nie iemand het om haar te help nie, het net vir God oor om te vra. Sy vertrou God heeltemal en vra dag en nag dat Hy haar asseblief moet help. Daar is egter ook weduwees wat deur allerhande plesiere van die lewe aan die lewe probeer bly, maar so ’n vrou is geestelik morsdood, al lewe haar liggaam nog. Sê dit vir die families sodat hulle nie onnodig die verkeerde dinge doen nie. As iemand nie meer na sy eie mense wil omsien nie en veral nie meer vir sy gesin wil sorg nie, moet hy nie sê dat hy in die Here glo nie. Hy tree slegter op as iemand wat sommer reguit sê dat hy nie in die Here glo nie.
1 TIMOTEUS 5:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moet nooit onbeskof met ’n ouer man praat nie, maar spoor hom met respek aan asof hy jou eie pa is. Praat met die jonger mans soos wat jy met jou eie broers sou praat. Vermaan die ouer vroue soos jou ma, en vermaan die jonger vroue met alle eerbied soos jou eie susters. Respekteer en versorg dié weduwees wat niemand anders het om na hulle om te sien nie. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié leer om hulle praktiese godsdiens heel eerste tuis te beoefen en hulle ouers en grootouers te vergoed deur hulle te versorg. Dit is iets wat God baie bly maak. ’n Vrou wat ’n egte weduwee is, iemand wat werklik alleen in die wêreld is, het haar hoop op God geplaas. Dag en nag vra sy God om hulp, en bestee baie tyd in gebed. Maar die weduwee wat net vir plesier leef, is geestelik dood. Gee hierdie opdragte aan die gemeente sodat die weduwees wat julle onderhou, nie berispe word nie. Dié wat nie hulle eie familie versorg nie, veral dié wat in dieselfde huishouding woon, verloën wat ons glo. Sulke mense is slegter as ongelowiges.