1 TIMOTEUS 6:6-11
1 TIMOTEUS 6:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.
1 TIMOTEUS 6:6-11 Die Boodskap (DB)
Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel. Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander. Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees.
1 TIMOTEUS 6:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor. Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis.
1 TIMOTEUS 6:6-11 Bybel vir almal (ABA)
Maar wanneer 'n mens vir God dien en jy is ook tevrede met wat jy het, dan het jy baie. Want ons het niks ingebring in die wêreld nie, en ons kan ook niks uitneem uit die wêreld nie. Daarom moet ons tevrede wees wanneer ons kos en klere het. Wanneer mense baie graag ryk wil word, dan doen hulle maklik sonde. Hulle sit soos 'n voël vas in 'n vangstrik. Hulle is dwase wat dinge wil hê wat nie goed is vir hulle nie. Hulle sterf en is soos 'n skip wat in die water sink, daar bly niks oor van hulle nie. Wanneer mense lief is vir geld, dan doen hulle baie slegte dinge. Mense wat graag baie geld wou hê, het opgehou om in Christus te glo. So het hulle hulleself baie swaar laat kry. Maar Timoteus, jy behoort aan God. Daarom moet jy wegvlug van hierdie verkeerde dinge. Jy moet aanhou probeer om dinge te doen wat reg is. Jy moet probeer om vir God te dien, om in Christus te glo, om lief te wees vir mense, om aan te hou om dit te doen en om iemand met 'n sagte hart te wees.
1 TIMOTEUS 6:6-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.
1 TIMOTEUS 6:6-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat wel 'n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. Wie ryk wil wees, val in versoeking en 'n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na •geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid.
1 TIMOTEUS 6:6-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar godsaligheid saam met vergenoegdheid is groot wins. Want ons het niks in hierdie wêreld ingebring nie, en dit is seker dat ons niks kan uitdra nie. En met voedsel en klere, laat ons daarmee tevrede wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en 'n strik en in baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense in verderf en verderf laat verdrink. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad; terwyl sommige daarna begeer het, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug hierdie dinge; en jaag na geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, geduld, sagmoedigheid.