2 KRONIEKE 20:20-30
2 KRONIEKE 20:20-30 Bybel vir almal (ABA)
Die mense het vroeg die oggend opgestaan en na die Tekoa-woestyn gegaan. Toe hulle begin loop, het Josafat daar gaan staan en gesê: “Mense van Juda en Jerusalem, julle moet glo in julle God die Here, dan sal julle aanhou lewe. Julle moet glo wat sy profete sê, dan sal julle oorwin.” Nadat Josafat vir die mense gevra het wat hulle dink, het hy mense gekies en aangestel wat moes sing. Hulle moes voor die soldate loop en hulle moes die Here, die Koning, prys. Hulle moes sing “Prys die Here, want Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Die mense van die Seïr-berge wou vir Juda kom aanval. En presies dieselfde tyd toe Josafat se mense begin het om te sing en om die Here te prys, het die Here die Ammoniete en die Moabiete en die mense van die Seïr-berge laat dink dat daar vyande voor hulle en agter hulle is, hulle het gedink hulle sal die oorlog verloor. Die Ammoniete en die Moabiete het toe die mense van die Seïr-berge aangeval en hulle het almal doodgemaak. Daarna het hulle mekaar begin doodmaak. Die Judeërs het by 'n plek in die woestyn gekom waar hulle kon staan en ver kon sien wat gebeur. Hulle het gekyk waar die vyande is, en hulle het die lyke daar op die grond gesien lê. Niemand het vry weggekom nie. Josafat en sy manne het gekom om die vyande se goed te vat. Hulle het baie goed daar gekry, klere en kosbare goed wat hulle kon vat, hulle kon dit nie alles dra nie. Hulle het drie dae lank die goed weggedra, want dit was so baie. Die volgende dag het hulle bymekaargekom in die Prys-vallei, want hulle het die Here daar geprys. Dit is hoekom mense die plek vandag nog “Prys-vallei” noem. Al die manne van Juda en Jerusalem het toe omgedraai. Josafat het voor hulle geloop, en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle was baie bly, want die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. Hulle het in Jerusalem na die tempel gegaan en hulle het harpe en liere en trompette saamgeneem. Die volke in al die lande het baie bang geword toe hulle hoor dat die Here oorlog gemaak het teen die vyande van Israel. God het die volke bang laat word. Maar in die land van Josafat was alles stil en rustig. Die Here het vir hom vrede gegee, daar was nie vyande rondom hom nie.
2 KRONIEKE 20:20-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie. Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle 'n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot. En op die vierde dag het hulle in die Lofdal byeengekom, want daar het hulle die HERE geloof; daarom het hulle dié plek Lofdal genoem tot vandag toe. Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die HERE het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande. En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die HERE. En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel gestry het. Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus verskaf.
2 KRONIEKE 20:20-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.” Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg. Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie. Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en 'n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit. Op die vierde dag het hulle 'n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal. Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette. Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel. Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee.
2 KRONIEKE 20:20-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Terwyl hulle uittrek, het Josafat gaan staan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Vertrou op die HERE julle God, dan bly julle behoue; vertrou op sy profete, dan behaal julle sukses.” Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die HERE aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die HERE, want vir ewig duur sy troue liefde!” Die oomblik toe hulle met 'n jubelkreet 'n loflied begin sing, het die HERE 'n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan. Die Ammoniete en Moabiete het teen die inwoners van die Seïrberge opgestaan om hulle aan volledige vernietiging oor te gee en uit te delg. Toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar help vernietig. En Juda, toe hulle by die uitkykpos in die woestyn kom en rondsoek na die menigte, kyk, toe lê daar net lyke op die grond, niemand het ontkom nie. Josafat en sy manskappe het gegaan om oorlogsbuit bymekaar te maak. Hulle kry toe groot hoeveelhede toerusting en klere, sowel as waardevolle artikels by hulle. Hulle het vir hulleself soveel gebuit dat hulle dit nie kon dra nie. Hulle was drie dae lank besig om oorlogsbuit bymekaar te maak, want daar was baie. Op die vierde dag het hulle in die Berakavallei byeengekom; ja, daar het hulle die HERE geprys. Daarom word daardie plek Vallei van Lofprysing genoem; dit is vandag nog so. Al die manne van Juda en Jerusalem het, met Josafat aan die voorpunt, omgedraai om vol vreugde na Jerusalem terug te keer, omdat die HERE hulle bly gemaak het oor hulle vyande. Hulle het Jerusalem binnegegaan met harpe, liere en trompette, op pad na die huis van die HERE. Vrees vir God het al die koninkryke van die lande oorval toe hulle hoor dat die HERE teen Israel se vyande geveg het. Josafat se koninkryk het rus gehad, want sy God het vir hom aan alle kante rus gegee.
2 KRONIEKE 20:20-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het die môre vroeg opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda, en julle inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo sy profete, so sal julle voorspoedig wees. En nadat hy met die volk beraadslaag het, het hy sangers tot eer van die HERE aangestel om die heerlikheid van heiligheid te loof terwyl hulle voor die leër uitgetrek het, en om te sê: Prys die HERE! want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. En toe hulle begin sing en prys, het die HERE hinderlae opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die gebergte Seïr wat teen Juda aangekom het; en hulle is geslaan. Want die kinders van Ammon en Moab het opgestaan teen die inwoners van die gebergte Seïr om hulle met die banvloek te tref en hulle te vernietig; En toe Juda na die wagtoring in die woestyn kom, het hulle na die skare gekyk, en kyk, dit was lyke wat op die aarde geval het, en niemand het vrygekom nie. En toe Jósafat en sy volk gekom het om die buit van hulle weg te neem, het hulle in oorvloed onder hulle gevind sowel rykdom met die lyke en kosbare juwele wat hulle vir hulleself afgetrek het, meer as wat hulle kon wegdra; en hulle was drie dae in die versameling van die buit, dit was so baie. En op die vierde dag het hulle bymekaargekom in die dal van Beraga; want daar het hulle die HERE geprys; daarom is die naam van dieselfde plek genoem: Die dal Beraga, tot vandag toe. Toe het hulle teruggekeer, elke man van Juda en Jerusalem, en Jósafat voor hulle, om met blydskap na Jerusalem terug te gaan; want die HERE het hulle laat juig oor hulle vyande. En hulle het in Jerusalem gekom met harpe en siters en basuine na die huis van die HERE. En die vrees van God was oor al die koninkryke van daardie lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel geveg het. En die ryk van Jósafat was stil, want sy God het hom rondom rus gegee.
2 KRONIEKE 20:20-30 Die Boodskap (DB)
Die volgende oggend het hulle alles reggekry en na die woestyn in die omgewing van Tekoa vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Josafat hulle gestop en gesê: “Luister na my, mense van Juda en Jerusalem. As julle in die Here julle God glo, sal julle sterk kan staan. As julle in sy boodskappers glo, sal julle sukses behaal!” Daarna het hy met die leiers gesels en hulle het besluit om sangers voor die leër te laat uitloop. Die sangers moes die Here loof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg. Eers het die leërs van Ammon en Moab saam teen die mense van die Seïrberge geveg en hulle almal doodgemaak. Toe hulle daarmee klaar was, het hulle teen mekaar begin veg. Toe die Judeërs by hulle uitkykpunt kom, het hulle in die vallei afgekyk en net ’n klomp lyke daar sien lê. Nie een van die vyand het weggekom nie. Daarna het Josafat en sy leër die lyke geplunder en ’n geweldige klomp goed bymekaargemaak. Daar was klere en waardevolle voorwerpe, soveel dat hulle drie dae lank gewerk het om alles bymekaar te kry. Op die vierde dag het hulle in die Lofdal bymekaargekom. Hulle het die plek só genoem omdat dit die plek is waar hulle die Here geloof het en vir Hom dankie gesê het vir wat Hy vir hulle gedoen het. Die plek word nog altyd Lofdal genoem. Daarna het die hele leër van Josafat teruggegaan Jerusalem toe. Hulle was baie bly omdat die Here vir hulle ’n oorwinning oor hulle vyande gegee het. Hulle het in Jerusalem ingekom en na die tempel toe gegaan, terwyl die harpe en liere gespeel het en die trompette geblaas is. Toe Israel se buurvolke hoor dat die Here self vir Israel teen hulle vyande geveg het, het hulle baie bang geword vir God. As gevolg daarvan het Josafat se koninkryk vrede beleef. God het vir hom vrede gegee met al sy buurlande.
2 KRONIEKE 20:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die HERE julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.” Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die HERE gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid: “Loof die HERE, want sy troue liefde duur vir altyd.” Die oomblik toe hulle begin sing en die HERE prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig. Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie. Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel. Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die HERE geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word. Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die HERE die oorwinning oor hulle vyande gegee het. Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die HERE met die klank van harpe, liere en trompette. Toe die omringende koninkryke hoor dat die HERE self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom. Daar was vrede in Josafat se koninkryk omdat God vir hulle rus aan alle kante gegee het.