2 KRONIEKE 32:20-23 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
2 KRONIEKE 32:20-23 AFR83 (Afrikaans 1983)
Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het daarom gebid en na die hemel geroep. Toe stuur die Here 'n engel, en dié het elke soldaat en leier en offisier in die kamp van die koning van Assirië doodgemaak. Hy moes beskaamd die aftog blaas terug na sy land toe. Toe hy daar in die tempel van sy god ingaan, het van sy eie seuns hom vermoor. So het die Here vir Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered uit die mag van koning Sanherib van Assirië en uit die mag van almal by hom. Die Here het sy volk aan alle kante beskerm. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure.
2 KRONIEKE 32:20-23 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het, stuur die HERE 'n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met 'n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan. En die HERE het Jehiskía en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sánherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring. En baie het geskenke aan die HERE na Jerusalem gebring en kosbare geskenke aan Jehiskía, die koning van Juda, sodat hy daarna in die oë van al die nasies hoog gestaan het.
2 KRONIEKE 32:20-23 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos gebid en na die hemel geroep. Die HERE stuur toe ’n engel wat die Assiriese leër met al die bevelhebbers en offisiere vernietig het. Sanherib het in skande na sy eie land toe teruggegaan. Toe hy die tempel van sy god binnegegaan het, het sommige van sy eie seuns hom net daar met ’n swaard doodgemaak. Dit is hoe die HERE Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered het uit die mag van koning Sanherib van Assirië en van almal wat hom bedreig het. Daar was uiteindelik vrede in die hele land. Baie mense het vir die HERE in Jerusalem offers gebring en ook waardevolle geskenke vir koning Hiskia. Van toe af het sy aansien onder die omliggende volke toegeneem.
2 KRONIEKE 32:20-23 DB (Die Boodskap)
Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid. Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak. So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle. Baie mense het geskenke vir die Here Jerusalem toe gebring. Daar was ook baie wat duur geskenke vir koning Hiskia gebring het. Na alles wat gebeur het, het Hiskia ’n goeie naam gehad onder die nasies.
2 KRONIEKE 32:20-23 ABA (Bybel vir almal)
Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het gebid. Hulle het na die hemel gekyk en gevra dat die Here hulle moet help. En die Here het toe 'n engel gestuur wat elke soldaat en offisier en leier in die kamp van die koning van Assirië laat sterf het. Sanherib kon nie doen wat hy wou doen nie. Hy het teruggegaan na sy land, en toe hy 'n eendag in die tempel van sy god ingaan, het een van sy eie seuns hom doodgesteek met 'n swaard. So het die Here vir Hiskia en die mense van Jerusalem gered van koning Sanherib van Assirië en van almal by hom. Die Here het sy mense beskerm teen die vyande rondom hulle. Baie mense het vir die Here presente gebring na Jerusalem, en hulle het vir koning Hiskia kosbare dinge gebring. Al die volke het van toe af geweet dat hy 'n belangrike koning is.
2 KRONIEKE 32:20-23 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Koning Hiskia en die profeet Jesaja, seun van Amos, het hieroor gebid en na die hemel om hulp geroep. Toe stuur die HERE 'n •engel, en dié het elke dapper kryger, leier en bevelvoerder in die kamp van die koning van Assirië uitgewis. Hy het beskaamd na sy land teruggekeer. Toe hy in die huis van sy god kom, het sy eie seuns hom daar met die swaard neergevel. Die HERE het Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, koning van Assirië, ja, uit almal se hand. Hy het vir hulle aan alle kante rus gegee. Baie mense het voortdurend vir die HERE offers na Jerusalem gebring, ook kosbaarhede vir Hiskia, koning van Juda. Hy het ná hierdie gebeure hoë aansien geniet in die oë van al die nasies.
2 KRONIEKE 32:20-23 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En daarom het koning Hiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, gebid en ten hemele geroep. En die HERE het 'n engel gestuur wat al die dapper helde en die leiers en owerstes in die laer van die koning van Assirië uitroei. Daarom het hy met skaamte teruggekeer na sy eie land. En toe hy in die huis van sy god ingegaan het, het die wat uit sy eie ingewande voortgekom het, hom daar met die swaard gedood. So het die HERE Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle van alle kante gelei. En baie het geskenke aan die HERE na Jerusalem gebring en geskenke aan Hiskía, die koning van Juda, sodat hy van nou af groot gemaak is voor die oë van al die nasies.