2 KRONIEKE 7:11-16
2 KRONIEKE 7:11-16 Bybel vir almal (ABA)
So het Salomo die tempel en die paleis klaar gebou. Hy het alles goed gedoen wat hy in die tempel en in sy huis wou doen. Die Here het in die nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Ek het gehoor wat jy gebid het, en Ek het vir My hierdie plek gekies om 'n tempel te wees waar die mense vir My kan offer. Ek sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie, of Ek sal vir die sprinkane sê hulle moet al die koring in die land opvreet, of Ek sal pes na my volk toe stuur. As my volk wat my Naam dra, hulleself verneder en hulle bid en hulle kom na My toe en hulle hou op om sleg te lewe, dan sal Ek in die hemel hoor en Ek sal hulle sonde vergewe. Ek sal hulle land laat word soos dit voorheen was. Nou sal Ek sorg vir hierdie plek en Ek sal luister wanneer iemand hier bid. Ek het nou hierdie plek gekies en Ek het dit gewy sodat dit altyd aan My sal behoort. Ek sal altyd sorg vir die plek en daaraan dink.
2 KRONIEKE 7:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het, verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as 'n offerhuis verkies. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.
2 KRONIEKE 7:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
So het Salomo dan die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel. Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet.
2 KRONIEKE 7:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So het Salomo die huis van die HERE en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo hom voorgeneem het om in die huis van die HERE, en in sy paleis te doen, het hy suksesvol uitgevoer. Toe verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My gekies as 'n tempel vir offers. As Ek die hemelruim sluit, sodat daar geen reën is nie, of as Ek die koringkrieke opdrag gee om die land kaal te vreet, of as Ek 'n pessiekte onder my volk loslaat, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees. My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.
2 KRONIEKE 7:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So het Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi, en alles wat in die hart van Salomo opgekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, het hy voorspoedig gedoen. En die HERE het in die nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My as 'n offerhuis uitverkies. As Ek die hemel toesluit dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkane beveel om die land te verslind, of as Ek pes onder my volk stuur; As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë; dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed wat in hierdie plek gedoen word. Want nou het Ek hierdie huis uitverkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.
2 KRONIEKE 7:11-16 Die Boodskap (DB)
Salomo het die tempel en sy eie paleis klaar gebou. Hy het ook alles voltooi wat hy graag aan die tempel wou doen. Toe het die Here een nag aan hom verskyn en gesê: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie tempel gekies as die plek waar julle vir My moet offer. Daar kan tye kom dat Ek ’n droogte stuur, of sprinkane om die oeste op te vreet, of siekte-epidemies onder die mense. As dit gebeur en my volk verneder hulleself en hulle soek na my wil, en as hulle ophou met hulle verkeerde optrede, sal Ek hulle vergewe. Dan sal Ek hulle land gesond maak. Ek sal luister na elke gebed wat hiervandaan gebid word, want Ek het nou hierdie tempel gekies. Dit sal altyd my huis wees. Ek sal altyd self hier wees.
2 KRONIEKE 7:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
So het Salomo die tempel van die HERE, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel. Een nag het die HERE aan Salomo verskyn en gesê: “Ek het jou gebed verhoor en het hierdie tempel vir Myself gekies as die plek waar daar offers vir My gebring moet word. Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur. Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak. Ek sal ’n oog hou oor hierdie plek en luister na elke gebed wat hier opgestuur word, want Ek het hierdie tempel gekies en dit afgesonder om vir altyd my woning te wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.