2 KORINTIËRS 4:17-18
2 KORINTIËRS 4:17-18 Bybel vir almal (ABA)
Want wanneer ons swaarkry, dan is dit net vir 'n kort tydjie en dit is nie baie swaar nie. Later bring hierdie swaarkry vir ons iets wat beter is as al die ander dinge, iets wat baie belangrik is, dit is dat ons vir altyd saam met God kan wees. Daarom is die dinge wat 'n mens kan sien, nie baie belangrik vir ons nie. Die dinge wat 'n mens nie kan sien nie, is belangrik. Die dinge wat 'n mens kan sien, is net 'n kort tydjie daar, maar die dinge wat 'n mens nie kan sien nie, is vir altyd.
2 KORINTIËRS 4:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
2 KORINTIËRS 4:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
2 KORINTIËRS 4:17-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons 'n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.
2 KORINTIËRS 4:17-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons ligte verdrukking, wat maar vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n veel meer oortreffende en ewige gewig van heerlikheid; Terwyl ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik; maar die dinge wat onsigbaar is, is ewig.
2 KORINTIËRS 4:17-18 Die Boodskap (DB)
Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Die grootsheid en heerlikheid daarvan sal absoluut oorweldigend wees. Ons staar ons glad nie blind teen alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al ons probleme en teenslae verby. Ons oog is net op God se wêreld ingestel. Dit wat ons vandag sien, is in elk geval môre nie meer daar nie. Hier hou niks vir ewig nie. Al wat vir altyd sal bly bestaan, is God se nuwe wêreld.
2 KORINTIËRS 4:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.