2 KORINTIËRS 4:7-18
2 KORINTIËRS 4:7-18 Bybel vir almal (ABA)
Hierdie boodskap oor Jesus Christus is baie kosbaar. Maar God het die boodskap gebêre in kleipotte wat maklik kan breek. Hierdie kleipotte is ons. Almal moet sien dat die boodskap groot krag het omdat dit van God kom en nie van ons nie. Mense hou aan om ons te laat swaarkry, maar ons hou aan om te lewe. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie moedeloos nie. Mense wil ons doodmaak, maar God los ons nie. Mense slaan ons sodat ons val, maar ons sterf nie. Ja, wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle sien hoe Jesus swaargekry en gesterf het. Wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle ook sien dat Jesus weer lewe. God laat vir ons wat nog lewe, altyd so swaar kry dat ons amper sterf, want ons doen Jesus se werk. Maar wanneer julle sien hoe ons lewe, dan wys God dat Jesus lewe, Hy wys dit vir ons wat eendag moet sterf. Daarom, terwyl ons altyd veg teen die dood, kry julle die lewe. In die Ou Testament is geskryf: Ek het geglo, daarom het ek gepraat. Ons het ook die Heilige Gees wat ons laat glo. Ons glo, en daarom praat ons. God het die Here Jesus weer laat lewe. Ons weet dat God vir ons ook weer sal laat lewe soos Hy vir Jesus laat lewe het. God sal ons saam met julle voor Hom bring, ons sal wees waar Hy is. Al hierdie dinge wat met ons gebeur, help vir julle. So kan God genadig wees vir meer mense. Dan kan meer mense dankie sê vir God. En so kry God al die eer, God wat die Koning is. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons liggame is besig om te sterf, maar God maak ons geestelike lewe elke dag nuut. Want wanneer ons swaarkry, dan is dit net vir 'n kort tydjie en dit is nie baie swaar nie. Later bring hierdie swaarkry vir ons iets wat beter is as al die ander dinge, iets wat baie belangrik is, dit is dat ons vir altyd saam met God kan wees. Daarom is die dinge wat 'n mens kan sien, nie baie belangrik vir ons nie. Die dinge wat 'n mens nie kan sien nie, is belangrik. Die dinge wat 'n mens kan sien, is net 'n kort tydjie daar, maar die dinge wat 'n mens nie kan sien nie, is vir altyd.
2 KORINTIËRS 4:7-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. En omdat ons dieselfde Gees van die geloof het — soos geskrywe is: Ek het geglo, daarom het ek gespreek — glo ons ook, daarom spreek ons ook. Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel. Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God. DAAROM gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
2 KORINTIËRS 4:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer. Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
2 KORINTIËRS 4:7-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar nie oorweldig nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word platgeslaan, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd in ons liggaam met ons saam, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam sigbaar kan word. Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel. Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God. Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons 'n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.
2 KORINTIËRS 4:7-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God kan wees en nie van ons nie. Ons is van alle kante ontsteld, maar nie benoud nie; ons is verward, maar nie in wanhoop nie; Vervolg, maar nie verlaat nie; neergewerp, maar nie vernietig nie; Dra altyd in die liggaam die sterwe van die Here Jesus, sodat die lewe van Jesus ook in ons liggaam openbaar kan word. Want ons wat lewe, word altyd ter wille van Jesus aan die dood oorgelewer, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in jou. Ons het dieselfde gees van geloof, soos geskrywe is: Ek het geglo, en daarom het ek gespreek; ons glo ook, en daarom praat ons; Omdat Hy weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en ons saam met julle sal stel. Want alles is om julle ontwil, sodat die oorvloedige genade deur die danksegging van baie tot eer van God oorvloedig kan word. Daarom word ons nie moeg nie; maar al vergaan ons uiterlike mens, tog word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking, wat maar vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n veel meer oortreffende en ewige gewig van heerlikheid; Terwyl ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik; maar die dinge wat onsigbaar is, is ewig.
2 KORINTIËRS 4:7-18 Die Boodskap (DB)
Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë. Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat. Ons weet dat God ons Here Jesus lewendig gemaak het en dat Hy ons ook eendag weer lewendig sal maak. Op daardie dag sal ons almal saam voor sy troon staan. Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak. Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons. Hy maak ons elke dag van binne af nuut. Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Die grootsheid en heerlikheid daarvan sal absoluut oorweldigend wees. Ons staar ons glad nie blind teen alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al ons probleme en teenslae verby. Ons oog is net op God se wêreld ingestel. Dit wat ons vandag sien, is in elk geval môre nie meer daar nie. Hier hou niks vir ewig nie. Al wat vir altyd sal bly bestaan, is God se nuwe wêreld.
2 KORINTIËRS 4:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe. Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: “Ek het geglo; daarom het ek gepraat,” glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek om ons saam met julle voor Hom te stel. Ons doen dit alles ter wille van julle sodat die genade van God, soos dit oor meer en meer mense spoel, ook die dankbetuiging al hoe meer kan laat word, en God se heerlikheid so erken kan word. Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.