2 KORINTIËRS 6:16-18 - Compare All Versions
2 KORINTIËRS 6:16-18 ABA (Bybel vir almal)
God se tempel en die afgode pas nie bymekaar nie. Want ons is die tempel van God, God wat lewe. God het gesê: Ek sal by hulle woon en tussen hulle lewe, Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Daarom moet julle weggaan van hulle en julle moet niks saam met hulle doen nie, sê die Here, julle moet aan niks raak wat onrein is nie. Dan sal Ek julle aanvaar. Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees. Dit sê die Here wat oor alles regeer.
2 KORINTIËRS 6:16-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:16-18 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hoe kan 'n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem, en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:16-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
En watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie aanraak wat •onrein is nie.” “En Ek sal julle aanneem,” en “Ek sal vir julle 'n vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:16-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? want julle is die tempel van die lewende God; soos God gesê het: Ek sal in hulle woon en in hulle wandel; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here, en raak nie aan wat onrein is nie; en Ek sal jou ontvang, En Hy sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
2 KORINTIËRS 6:16-18 DB (Die Boodskap)
Of moet daar miskien ’n verstandhouding tussen die woonplek van God en die afgode gesluit word? Nooit nie! Ons wat glo, is die woonplek van die lewende God. Daarom sê God in die Bybel: “Ek sal by hulle bly. My adres is daar by hulle. Ek sal hulle God wees en hulle sal my kinders wees. Daarom moet julle padgee van die sondaars af. Julle moet My altyd dien,” sê die Here. “Laat staan alles wat met sonde besmet is, dan sal my hart en my hand wawyd oop wees vir julle. Ek sal vir julle ’n Vader wees. Julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here.
2 KORINTIËRS 6:16-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie; dan sal Ek julle ontvang.” En ook: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here die Almagtige.”