2 KONINGS 7:7-9
2 KONINGS 7:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Dit het begin donker word, en die Arameërs het gevlug. Hulle het hulle tente en hulle perde en donkies alles daar gelos en hulle het gevlug, hulle wou nie sterf nie. Die vier melaatse mans kom toe by die kamp en hulle gaan in 'n tent in en hulle eet en drink. Hulle vat toe ook goud en silwer en klere en hulle gaan begrawe dit. Daarna het hulle teruggekom en in nog 'n tent ingegaan. Hulle het daar ook goed gevat en gaan begrawe. En toe sê hulle vir mekaar: “Ons doen nou verkeerd. Vandag is 'n dag van goeie nuus, maar ons bly stil. Ons moenie wag tot môre nie, dit sal verkeerd wees. Kom ons gaan vertel dit vir die mense by die paleis.”
2 KONINGS 7:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hul lewe gevlug. En toe daardie melaatse manne by die kant van die laer kom, het hulle een tent binnegegaan en geëet en gedrink en daar silwer en goud en klere uit weggeneem en dit gaan begrawe. Daarna het hulle teruggekom en 'n ander tent binnegegaan en ook daaruit weggeneem en dit gaan begrawe. Toe sê hulle die een vir die ander: Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot die môrelig toe, dan sal ons skuldig staan. Kom dan nou, laat ons gaan en dit in die huis van die koning vertel.
2 KONINGS 7:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug. Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle 'n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”
2 KONINGS 7:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het toe opgespring en in die skemerdonker gevlug. Hulle het hulle tente, hulle perde en donkies – die kamp soos dit was – agtergelaat, en asof vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie manne met die velsiekte by die kant van die kamp kom, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het silwer en goud en klere daarvandaan weggedra en dit gaan wegsteek. Hulle het teruggekom, in 'n ander tent ingegaan en ook van wat daar was, weggedra en dit gaan wegsteek. Maar toe sê hulle vir mekaar: “Dit is nie reg wat ons doen nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie nuus en ons hou dit stil. As ons wag tot daglig, sal ons skuldig staan. Kom ons gaan dan nou en bring die nuus aan die koninklike paleis.”
2 KONINGS 7:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom het hulle opgestaan en in die skemerte gevlug en hulle tente en hulle perde en hulle esels, die laer soos dit was, verlaat en vir hulle lewe gevlug. En toe hierdie melaatses aan die einde van die laer kom, het hulle in een tent ingegaan en geëet en gedrink en silwer en goud en klere daarvandaan gedra en dit gaan wegsteek; en teruggekom en in 'n ander tent ingegaan en ook daarvandaan gedra en gegaan en dit weggesteek. Toe sê hulle vir mekaar: Dit gaan nie goed met ons nie; hierdie dag is 'n dag van goeie boodskap, en ons swyg; as ons tot die môrelig vertoef, sal 'n onheil oor ons kom; kom dan nou, dat ons kan gaan en vertel die koning se huisgesin.
2 KONINGS 7:7-9 Die Boodskap (DB)
Die Arameërs het bang geword en vir hulle lewe gevlug. Hulle is teen skemer daar weg en het die hele kamp met tente, perde, donkies en voorrade net so laat staan. Dit is hoe die vier melaatse Israeliete die kamp gevind het. Hulle het by die eerste die beste tent ingegaan en geëet en gedrink tot hulle genoeg gehad het. Hulle het al die silwer, goud en klere gevat wat hulle kon kry en dit buite die kamp gaan wegsteek. Toe het hulle dit by ’n tweede tent ook gedoen. Maar toe het hulle vir mekaar gesê: “Eintlik maak ons nie reg nie. Hierdie is baie goeie nuus, maar ons het dit nog vir niemand vertel nie! As ons dit tot môre vir onsself hou, kan daar dalk iets slegs met ons gebeur. Kom ons gaan terug. Dan kan ons die goeie nuus vir almal by die paleis gaan vertel.”
2 KONINGS 7:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit was skemeraand toe hulle halsoorkop gevlug het. Hulle tente, perde, donkies en al hulle besittings het hulle net so agtergelaat en vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp aankom, het hulle by ’n tent ingegaan. Hulle het geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daar gekry en dit gaan wegsteek. Hulle het ook by ’n ander tent ingegaan, goed gevat en dit begrawe. Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.”