2 PETRUS 1:12-21
2 PETRUS 1:12-21 Bybel vir almal (ABA)
Julle weet hierdie dinge en julle is baie seker dat dit die waarheid is wat julle oor Christus gehoor het. Maar ek sal aanhou om vir julle te sê dat julle moet onthou wat ek hier vir julle geskryf het. Ek dink dit is reg dat ek vir julle moet sê dat julle moet onthou om aan hierdie dinge te dink, ek moet dit sê terwyl ek nog lewe. Want ek weet dat ek nie meer lank sal lewe nie, ons Here Jesus Christus het dit vir my gesê. Daarom sal ek hard probeer dat julle hierdie dinge altyd sal onthou, ook nadat ek gesterf het. Ons het vir julle vertel dat ons Here Jesus Christus sterk is en dat Hy weer sal kom. Dit was nie slim stories wat ander mense gemaak het en wat ons geglo het nie. Nee, ons het self gesien dat Jesus Christus sterk is en alles kan doen. God die Vader het vir Jesus eer gegee en God het vir Jesus Koning gemaak. God is self die Groot Koning, en Hy het gesê: “ Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly.” En ons het self gehoor dat God uit die hemel praat, ons het dit gehoor toe ons saam met Jesus op die gewyde berg was. Daarom weet ons dat die boodskappe wat die profete gebring het, regtig waar is. Dit sal goed wees as julle luister na die profete se boodskappe, want daardie boodskappe is soos 'n lamp wat in die donker skyn totdat die dag kom wanneer Christus weer sal kom. Dan sal Hy in julle harte sy lig laat skyn soos die môrester skyn. Dit is belangrik dat julle dit moet weet: Die profete van die Ou Testament het nie self die dinge gedink wat hulle gesê het nie. Want die profete het hulle boodskap gebring, nie omdat hulle self daardie dinge wou sê nie, nee, die Heilige Gees het mense laat sê wat God sê.
2 PETRUS 1:12-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou. Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.
2 PETRUS 1:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak. Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou. Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.
2 PETRUS 1:12-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep. Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus •Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.
2 PETRUS 1:12-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd aan hierdie dinge te herinner nie, al weet julle dit en staan vas in die huidige waarheid. Ja, ek dink dit is goed om, solank as wat ek in hierdie tabernakel is, jou op te wek deur jou in herinnering te bring; Omdat ek weet dat ek binnekort hierdie tabernakel van my moet aflê, soos onse Here Jesus Christus my getoon het. Verder sal ek my beywer dat julle ná my dood in staat sal wees om hierdie dinge altyd in gedagtenis te hou. Want ons het nie listig uitgedinkde fabels gevolg toe ons die krag en koms van onse Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar ons was ooggetuies van sy majesteit. Want hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe so 'n stem uit die voortreflike heerlikheid na Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En hierdie stem wat uit die hemel gekom het, het ons gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. Ons het ook 'n meer seker woord van profesie; waarop julle goed moet doen dat julle ag gee soos op 'n lig wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die dagster in julle harte opgaan. Om dit eerstens te weet, dat geen profesie van die Skrif van enige eie uitlegging is nie. Want die profesie het in die ou tyd nie deur die wil van 'n mens gekom nie, maar heilige manne van God het gespreek soos hulle deur die Heilige Gees gedrywe is.
2 PETRUS 1:12-21 Die Boodskap (DB)
Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het, moet ek julle altyd weer van voor af daaraan herinner. Ook al staan julle vas in die Here se waarheid, moet ek nog ’n slag vir julle sê hoe om tot eer van die Here te leef. Dis my roeping om julle aan te moedig deur julle te herinner hoe om te leef so lank as wat ek nog hier is. Ongelukkig sal dit nie meer te lank wees nie, want my dood is voor die deur. Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys. Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná my dood kan onthou hoe julle moet leef. Onthou julle nog hoe ons vroeër met julle gepraat het oor die krag van ons Here Jesus Christus en oor sy terugkeer na die aarde toe? Ons het glad nie vir julle gejok, of ’n klomp stories uit ons duim gesuig nie. Natuurlik nie. Ons het immers met ons eie oë gesien watter groot dinge Jesus Christus gedoen het toe Hy nog op aarde was. Onthou julle toe Christus op die berg saam met Moses en Elia was? God het vir Christus daar met groot eer en heerlikheid bekroon. Die Allerhoogste het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Ek is baie bly oor Hom.” Op daardie heilige berg het ek met my eie ore God se stem gehoor. Hierdie gebeure daar op die berg het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste. Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê, het hulle nie self uitgedink nie, want geen ware profesie kom ooit van mense af nie. Nee, die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat.
2 PETRUS 1:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dis waarom ek julle altyd aan hierdie dinge sal herinner, al weet julle dit en al leef julle reeds noukeurig volgens die waarheid wat by julle is. Ek beskou dit inderdaad as my plig om julle hieraan te herinner so lank as wat ek nog lewe. Ons Here Jesus het dit egter aan my bekendgemaak dat ek binnekort gaan sterf. Daarom sal ek moeite doen om hierdie dinge aan julle te verduidelik. Ek wil hê julle moet dit onthou lank ná ek nie meer hier is nie. Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy terugkeer nie. Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien. Dis mos Hý wat eer en heerlikheid van God die Vader ontvang het toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Hý is my Seun wat Ek van harte liefhet; Hy is ’n kind so na my hart!” Ons het self hierdie stem uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. Dit laat die boodskap van die profete vir ons nog vaster staan. Luister baie mooi na hulle woorde, want dis soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn – totdat Christus verskyn en sy helder lig julle harte verlig. Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie. Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.