2 PETRUS 3:1-7 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
2 PETRUS 3:1-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skrywe. In albei het ek geprobeer om julle weer helder te laat dink deur julle te herinner aan die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is, asook aan die gebod van die Here en Verlosser wat deur julle apostels aan julle oorgedra is. Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot en sê: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.” Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het. Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
2 PETRUS 3:1-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
DIT is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser. Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.
2 PETRUS 3:1-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skryf. In albei het ek probeer om julle weer helder te laat dink deur julle geheue te verfris. Ek wil hê julle moet die woorde onthou van die profete wat aan God toegewy was. Onthou ook wat ons Here en Verlosser julle deur julle apostels beveel het. Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is. Hulle sal soos volg redeneer: “Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was.” Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het. En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het. God het presies só – deur sy woord – beskik dat die hemele en die aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
2 PETRUS 3:1-7 DB (Die Boodskap)
My liewe vriende, julle weet dat dit reeds die tweede brief is wat ek aan julle skryf. Net soos in die vorige brief wil ek hê dat julle nou ook baie mooi moet luister en reg dink. Doen die volgende: Luister na alles wat die profete van die Here vir julle sê. En luister ook na die voorskrifte wat ons Here en Verlosser deur julle apostels vir julle gegee het. Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil. Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.” Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê. En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het. Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig.
2 PETRUS 3:1-7 ABA (Bybel vir almal)
My vriende, dit is die tweede brief wat ek vir julle skryf. In hierdie brief en ook in die eerste brief wil ek vir julle help om reg te dink sodat julle kan onthou wat die gewyde profete voorheen gesê het. Julle moet ook die wette van die Here en Redder onthou, die wette wat Hy vir die apostels gegee het om vir julle te gee. Dit is belangrik dat julle dit moet weet: In die laaste dae van die wêreld sal daar mense kom wat baie sal spot met ander mense. Hulle sal spot en hulle sal die slegte dinge doen wat hulle graag wil doen. Hulle sal sê: “Die Here het belowe dat Hy weer sal kom, maar hoekom het Hy nog nie gekom nie? Want ons voorvaders het lank gelede gesterf, maar alles bly dieselfde soos dit van die begin af was toe God alles gemaak het.” Die mense wat spot, sal hierdie dinge sê, want hulle wil nie onthou dat die hemel lank gelede klaar daar was en dat die aarde uit die water gekom het nie. God het gesê dit moet so wees. Hy het die aarde uit die water laat kom. God het gesê die water moet oor die wêreld van daardie tyd vloei en dit moet die wêreld verwoes. Dit is ook God wat gesê het dat die hemel en die aarde wat nou daar is, nog daar moet wees en dat Hy dit sal verbrand op die oordeelsdag wanneer Hy die sondaars vir altyd sal laat sterf.
2 PETRUS 3:1-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Hierdie brief, geliefdes, is reeds die tweede een wat ek aan julle skryf. In beide probeer ek om, deur middel van herinnering, julle helder denke aan te wakker, sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle •apostels deurgegee het. Julle moet veral dit weet: In die laaste dae sal spotters met hulle gespot opdaag – mense wat hulle lewens volgens hulle eie drange inrig, en vra: “Wat het geword van die belofte van sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” Hulle ignoreer dit willens en wetens dat daar lank reeds hemele bestaan, en ook 'n aarde, wat deur die woord van God uit water en deur water tot stand gekom het. En deur hierdie dinge is die antieke wêreld deur water oorstroom, en het dit vergaan, maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddeloses.
2 PETRUS 3:1-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Hierdie tweede brief, geliefdes, skryf ek nou aan julle; in beide wat Ek julle reine gedagtes opwek ter herinnering: Sodat julle gedagtig kan wees aan die woorde wat tevore deur die heilige profete gespreek is, en aan die gebod van ons, die apostels van die Here en Verlosser: Om dit eerstens te weet, dat daar in die laaste dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel, en gesê: Waar is die belofte van sy koms? want vandat die vaders ontslaap het, gaan alles voort soos van die begin van die skepping af. Daarom weet hulle gewilliglik nie, dat deur die woord van God die hemele van ouds was en die aarde uit die water en in die water gestaan het. Waardeur die wêreld wat toe was, oorstroom van water, vergaan het: Maar die hemele en die aarde wat nou is, word deur dieselfde woord vir vuur bewaar teen die dag van oordeel en verderf van goddelose mense.