2 TESSALONISENSE 1:1-12

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, saam met Silvanus en Timoteus, skryf hierdie brief vir julle, julle wat die gemeente in Tessalonika is en wat behoort aan God ons Vader en aan die Here Jesus Christus. Ons groet julle. Ons bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vrede vir julle sal gee. Vriende, ons wil altyd vir God dankie sê oor julle, en ons moet dit doen, want julle glo meer en meer en julle almal is meer en meer lief vir mekaar. Daarom sê ons mooi dinge oor julle in die ander gemeentes van God. Ons vertel vir hulle dat julle aanhou om lief te wees vir God en dat julle aanhou om vas te glo, ook wanneer julle baie swaar kry omdat mense baie slegte dinge aan julle doen en julle verdruk. Julle kry swaar, en dit wys dat God reg oordeel oor mense. Julle kry nou swaar omdat julle behoort aan God wat Koning is, maar so maak God julle gereed vir die tyd wanneer Hy Koning sal wees oor almal. God doen reg, want Hy sal die mense wat vir julle verdruk, ook laat swaarkry. Julle kry nou swaar, maar God sal julle help sodat julle en ook ons nie meer sal swaarkry nie. Hy sal dit doen wanneer Hy uit die hemel die Here Jesus vir al die mense sal wys sodat hulle Hom sal sien. Dit sal gebeur wanneer Jesus van die hemel af kom saam met sy sterk engele. Dit sal wees soos 'n vuur wat brand. Hy sal almal straf wat nie vir God ken nie, dit is almal wat nie wou luister nie toe ons die goeie boodskap van ons Here Jesus gebring het. Hierdie mense se straf sal wees dat dit vir altyd baie sleg sal gaan met hulle, want die Here sal nie by hulle wees nie. Hulle sal nie kan sien dat Hy 'n Koning is wat alles kan doen nie. Daardie dag wanneer Jesus kom, sal al die gelowiges vir Hom sê hulle is bly dat Hy kom en dat Hy hulle Koning is. Almal wat in Hom glo, sal Hom prys. Julle sal dit ook doen omdat julle geglo het wat ons vir julle vertel het. Ons bid altyd vir julle dat ons God julle gereed sal maak om te lewe soos Hy wil hê. Hy het julle gekies om aan Hom te behoort. Ons bid dat God die goeie dinge sal klaarmaak wat julle begin doen het, die dinge wat julle doen omdat julle in Hom glo. Want God het die krag, Hy kan dit doen. Ons bid dat God dit sal doen sodat julle ons Here Jesus se Naam kan prys en sodat Hy vir julle ook kan prys. Al hierdie dinge kan net gebeur omdat ons God en die Here Jesus Christus goed is vir julle.

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAULUS en Silvánus en Timótheüs aan die gemeente van die Thessalonicense in God onse Vader en die Here Jesus Christus: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! ONS moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur — 'n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly; aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind. Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak, sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur. Dit alles is 'n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s'n, sal Hy 'n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in 'n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo. Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus en Silvanus en Timoteus, aan die •gemeente van Thessalonika in God, ons Vader, en die Here Jesus •Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem. Daarom spog ons op ons beurt onder die •gemeentes van God oor julle volharding en geloofsvertroue, te midde van al die vervolging en verdrukking wat julle verduur. Dit is 'n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die •koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld, en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele, in 'n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here en sy magtige heerlikheid. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy •heiliges verheerlik te word – ja, om deur alle gelowiges bewonder te word – omdat ons getuienis teenoor julle geglo is. Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus •Christus.

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Paulus en Silvanus en Timotheus aan die gemeente van die Tessalonisense in God onse Vader en die Here Jesus Christus: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Ons is verplig om God altyd vir julle te dank, broeders, soos dit betaamlik is, omdat julle geloof uitermate groei en die liefde van elkeen van julle almal oorvloedig is; Sodat ons self in julle roem in die gemeentes van God vir julle geduld en geloof in al julle vervolginge en verdrukkinge wat julle verduur. Wat 'n duidelike teken is van die regverdige oordeel van God, sodat julle die koninkryk van God waardig geag kan word, waarvoor julle ook ly. Omdat dit by God regverdig is om verdrukking te vergeld aan die wat jou pla; En rus saam met ons vir julle wat verdruk is, wanneer die Here Jesus saam met sy magtige engele uit die hemel geopenbaar sal word, In vlammende vuur wat wraak neem op die wat God nie ken nie en die evangelie van onse Here Jesus Christus nie gehoorsaam nie. Wie sal gestraf word met 'n ewige verderf van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van Sy krag; Wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en om bewonder te word in almal wat glo (omdat ons getuienis onder julle geglo is) in daardie dag. Daarom bid ons ook altyddeur vir julle, dat onse God julle hierdie roeping waardig sal ag en al die welbehae van sy goedheid en die geloofswerk met krag sal vervul. Sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle en julle in Hom verheerlik kan word volgens die genade van onse God en die Here Jesus Christus.

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Die Boodskap (DB)

Van Paulus en Silvanus en Timoteus. Aan die kerk in Tessalonika: julle is die eiendom van God ons Vader en die Here Jesus Christus. God ons Vader en die Here Jesus Christus se oorvloedige goedheid en vrede is met julle. My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter. Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor. God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al sy sterk engele terugkom. Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees. Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en sy groot krag beleef nie. Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo. Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het. Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef. Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.

2 TESSALONISENSE 1:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus. Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus verbonde is. Mag die genade en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus met julle wees. Broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter! Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur. God sal die dinge wat julle deurmaak, gebruik om te wys dat Hy regverdig oordeel. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly. God is inderdaad regverdig: Hy sal julle verdrukkers met verdrukking terugbetaal. Hy sal rus gee aan julle wat verdruk word – en ook aan ons. Dit sal gebeur wanneer die Here Jesus met sy magtige engele vanuit die hemel verskyn. In ’n vlammende vuur sal Hy die mense straf wat God nie ken nie; dit is húlle wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie. Hulle sal met ewige vernietiging gestraf word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af. Op daardie dag kom Hy om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort en om bewonder te word deur almal wat tot geloof gekom het – ook deur julle, want julle het ons getuienis geglo! Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring. So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.