2 TESSALONISENSE 3:1-18 - Compare All Versions
2 TESSALONISENSE 3:1-18 ABA (Bybel vir almal)
Vriende, daar is nog 'n paar laaste dinge wat ons vir julle wil sê. Julle moet bid vir ons, sodat die goeie boodskap oor die Here Jesus vinnig by almal kan kom, en sodat mense bly kan wees wanneer hulle dit hoor, soos julle ook bly was. Julle moet ook bid dat die Here ons sal verlos van slegte mense wat na niemand wil luister nie, want dit is nie al die mense wat die goeie boodskap oor Christus wil glo nie. Maar die Here doen wat Hy belowe het. Hy sal julle sterk maak en beskerm teen die duiwel. Ons is seker dat die Here julle sal help om die dinge te doen wat ons vir julle sê om te doen. Julle doen dit al klaar, en julle sal aanhou om dit te doen. Ons bid dat die Here julle sal lei om nog beter te verstaan hoe lief God is vir die mense van die wêreld en hoe Christus aangehou het om te doen wat sy Vader wil hê. Daarom kan ons dit ook doen. Vriende, ons Here Jesus Christus het vir my gesê ek moet julle waarsku: Julle moet wegbly van al die gelowiges wat lui is en wat nie lewe soos ons vir hulle gesê het nie. Want julle weet baie goed wat julle moet doen as julle soos ons wil lewe. Ons was nie lui toe ons by julle gebly het nie. Ons het by niemand kos gebedel nie, ons het daarvoor betaal. Ons het elke dag en nag hard gewerk en gesweet, want ons wou nie vir een van julle vra om vir ons te sorg nie. Ons is apostels van die Here, en daarom kon ons vir julle gevra het om vir ons te sorg. Maar ons het dit nie gedoen nie, want ons wou vir julle wys dat 'n mens vir homself moet sorg. Ons wou hê julle moet ook doen soos ons gedoen het. Toe ons by julle was, het ons duidelik vir julle gesê dat as iemand nie wil werk nie, dan moet hy ook nie eet nie. Ons hoor dat party gelowiges by julle baie lui is. Hulle wil nie werk nie, maar hulle pla altyd vir ander mense. Die Here Jesus Christus het vir my gesê ons moet vir daardie gelowiges hard en duidelik sê dat hulle moet ophou om altyd ander mense te pla, en dat hulle vir hulleself moet sorg. Maar, vriende, julle moenie moeg word om goed te doen nie. As iemand nie luister na wat ons in hierdie brief skryf nie, dan moet julle vir almal sê wie hy is. Julle moet hom alleen los sodat hy kan skaam word. Maar julle moenie sy vyande wees nie. Julle moet met hom raas soos julle met 'n broer sal raas. Ek bid dat die Here wat vrede gee, self vir julle altyd en op baie maniere vrede sal gee. Ek, Paulus, skryf hierdie groete met my eie hand. Ek doen dit in elke brief, sodat julle kan sien hoe ek skryf. Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle almal.
2 TESSALONISENSE 3:1-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
VERDER, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle; en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie. Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose. En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel. Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus! Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as 'n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg. Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet. En julle, broeders, moet nie in goeddoen verflou nie. En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as 'n vyand nie, maar vermaan hom as 'n broeder. En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees! Die groete van Paulus, met my eie hand, wat 'n teken is in elke brief; so skryf ek. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.
2 TESSALONISENSE 3:1-18 AFR83 (Afrikaans 1983)
Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie. Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou. Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus! Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie. Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle 'n las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg. Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien. Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. En as iemand nie ons bevele, soos ons dit in hierdie brief vir julle gee, gehoorsaam nie, sonder dan daardie man af en vermy hom, dat hy kan skaam kry. Moet hom egter nie soos 'n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos 'n broer. Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees! Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus. So teken ek elke brief. Dit is my handskrif. Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle almal wees!
2 TESSALONISENSE 3:1-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie. Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar. Deur die Here vertrou ons dat julle ook dit doen, en sal aanhou doen, wat ons julle beveel het. Mag die Here julle harte rig op die liefde van God en die volharding van •Christus. Maar ons beveel julle in die Naam van ons Here Jesus Christus, broers, dat julle elke broer moet vermy wat hom onordelik gedra, en nie optree volgens die oorlewering wat hulle van ons ontvang het nie. Julle weet tog self hoe nodig dit is dat julle ons voorbeeld volg. Ons het ons immers nie onordelik onder julle gedra nie; ons het niemand se brood sonder betaling geëet nie, maar met swoeg en sweet, bedags en snags gewerk, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie – nie dat ons nie die reg daartoe gehad het nie, maar sodat ons onsself vir julle as voorbeeld kon stel om na te volg. Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien. Maar julle, broers, julle moenie moeg word om goed te doen nie. As iemand egter nie ons opdrag in hierdie brief gehoorsaam nie, merk hom, en vermy hom, sodat hy skaam kry. Julle moet hom egter nie as 'n vyand beskou nie, maar vermaan hom as 'n broer. Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal. Dié groetwoord in my eie handskrif: Van Paulus. Dit is my waarmerk in elke brief. Só skryf ek. Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle almal!
2 TESSALONISENSE 3:1-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Ten slotte, broeders, bid vir ons, dat die woord van die Here vrye loop mag hê en verheerlik word, net soos dit by julle is. En dat ons verlos kan word van onredelike en goddelose mense, want nie almal het geloof nie. Maar die Here is getrou, wat jou sal bevestig en jou van die kwaad sal bewaar. En ons vertrou op die Here wat julle aanraak, dat julle die dinge doen en sal doen wat ons julle beveel. En die Here rig julle harte op die liefde van God en op die geduldige wat op Christus wag. Nou beveel ons julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle julle onttrek van elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons behoort te volg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; En ons het niemand se brood verniet geëet nie; maar nag en dag met arbeid en moeite gedoen, sodat ons niemand van julle verskuldig sou wees nie. Nie omdat ons nie krag het nie, maar om onsself vir julle 'n voorbeeld te maak om ons te volg. Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat daar sommige is wat onordelik onder julle wandel en glad nie werk nie, maar besig is. En hulle wat sulkes is, beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus dat hulle met stilte werk en hul eie brood eet. Maar julle, broeders, moenie moeg word om goed te doen nie. En as iemand ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam nie, let op daardie man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy beskaamd kan staan. Maar ag hom nie as 'n vyand nie, maar vermaan hom as 'n broer. En die Here van die vrede gee julle altyd in alle opsigte vrede. Die Here sal met julle almal wees. Die groete van Paulus met my eie hand, wat die teken is in elke brief: so skryf ek. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal. Amen. (Die tweede brief aan die Tessalonisense is uit Athene geskryf.)
2 TESSALONISENSE 3:1-18 DB (Die Boodskap)
Broers en susters, bid asseblief vir ons! Vra dat die Here se krag ons sal dra wanneer ons die goeie nuus bekend moet maak. Dan sal die evangelie soos ’n veldbrand deur die wêreld versprei. Bid asseblief dat God oral geëer sal word waar ons preek, presies soos wat daar by julle gebeur het. Bid ook dat al hierdie goddelose en slegte mense wat dit vir ons so moeilik maak, daarmee sal ophou. Bid dat hulle planne sal misluk, want hulle glo nie in die Here nie. Die Here is altyd getrou. Hy sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen die Bose se aanvalle beskerm. Omdat julle in die Here bly, weet ek julle doen alles wat ek vir julle in my briewe voorskryf. En ek weet julle sal ook aanhou om dit te doen. Mag die Here julle gedagtes aanraak sodat julle heeltyd sal fokus op God se groot liefde. En mag julle ook verstaan wat Christus alles vir ons opgeoffer het sodat julle ook enduit agter Hom sal aanstap. Broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus sê ek reguit vir julle om weg te bly van daardie mense in die kerk wat in sonde lewe en hulle nie steur aan dit wat julle by my geleer het nie. Julle onthou hoe ons opgetree het toe ons by julle was. Ons het vir julle die regte voorbeeld gestel wat julle kan navolg. Ons het nie op julle nek gelê en verwag dat julle die hele tyd vir ons kos en geld moes gee nie. Nee, ons het dag en nag met ons eie hande gewerk sodat ons nie ’n las vir julle sou wees nie. Natuurlik sou ons van julle kon verwag om vir ons te sorg. Maar ons het nie op ons regte aangedring nie. Nee, ons het besluit om julle te kom dien. Op hierdie manier het ons vir julle ’n voorbeeld gestel. Mag ek julle ook herinner aan ’n belangrike ding wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was: “As iemand te lui is om te werk, moet ander gelowiges nie vir hom sorg nie.” Ek sê hierdie dinge omdat ek gehoor het dat ’n paar gelowiges daar by julle die spoor heeltemal byster geraak het. Hulle is te sleg om te werk, en nou verwag hulle van die ander om vir hulle kos aan te dra. Boonop steek hulle hul neuse in ander se sake. Ek sê reguit vir al daardie mense, nee, ek beveel hulle in die Naam van die Here Jesus Christus: begin dadelik weer werk. Hulle moet van nou af self vir hulle gesinne sorg. Broers en susters, julle moet asseblief aanhou om goed te doen aan ander mense. Julle mag nooit moeg word daarvoor nie. Ek wil julle nog ’n keer waarsku: as mense in die kerk hulle nie steur aan dit wat ek in hierdie brief skryf nie, moet julle lig loop vir hulle. Bly weg van hulle af. Dan maak dit hulle skaam. Maar moenie sulke mense heeltemal verwerp en soos vyande behandel nie. Julle moet julle juis oor hulle ontferm. Hulle is steeds deel van God se familie. Praat daarom mooi met hulle. Die Here het vrede tussen Hom en ons gebring. Mag Hy nou ook aan julle sy wonderlike vrede gee. Mag julle dit op verrassende nuwe maniere in jul eie lewe beleef. Dink daaraan, die Here is altyd by julle almal. Ek self, Paulus, sluit hierdie brief in my eie handskrif af - soos ek in al my briewe maak. Ek, Paulus, stuur hier groete aan julle in my eie hand. Dit is die bewys dat dié brief regtig van my af kom. Tot hier toe het my sekretaris neergeskryf wat ek vir julle wou sê. Maar nou skryf ek self die slotwoorde. Die goedheid van ons Here Jesus Christus bly by julle almal.
2 TESSALONISENSE 3:1-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ten slotte, broers en susters, bid vir ons sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en net soos by julle met eerbied ontvang word. Bid ook dat ons bewaar sal word van slegte en bose mense, want nie alle mense kan vertrou word nie. Maar die Here is getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar. Verder gee die Here ons sekerheid oor julle, dat julle dit wat ons vra, doen en sál doen. Mag die Here julle hele lewe instel op God se liefde en die volharding wat Christus aan ons gee. Broers en susters, ons beveel julle in die Naam van die Here Jesus Christus om julle te onttrek aan elke medegelowige wat leeglê en wat nie leef soos julle by ons geleer het nie. Julle weet dat julle ons voorbeeld moet volg. Ons het tog nie by julle leeggelê of bedelbrood van enigeen geëet nie. Inteendeel, ons het dag en nag hard gewerk en geswoeg om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie. Nie dat ons nie op versorging aanspraak kon maak nie, maar ons wou onsself as ’n voorbeeld vir julle stel om te volg. Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Ons sê dit omdat ons hoor dat sommige mense leeglê; dat hulle nie werk nie en hulle met ander persone se sake bemoei. In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense, ja, ons druk hulle dit op die hart, dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien. En julle, broers en susters, moenie moeg word om goed te doen nie! Verder, as mense nie ons opdragte in hierdie brief gehoorsaam nie, identifiseer hulle. Vermy hulle sodat hulle kan skaam kry. Moet hulle egter nie as vyande behandel nie, maar wys vir hulle die regte pad aan, soos medegelowiges met mekaar maak. Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee. Mag die Here met julle almal wees. DIé GROET SKRYF EK MET MY EIE HAND: VAN PAULUS. MY HANDSKRIF AAN DIE EINDE VAN ELKE BRIEF IS DIE BEWYS DAT EK DIT SELF GESKRYF HET. Mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle almal wees.