2 TIMOTEUS 4:1-4
2 TIMOTEUS 4:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Christus Jesus kom weer. Hy sal vir almal wys dat Hy Koning is en Hy sal die mense oordeel, die mense wat nog lewe en die mense wat klaar gesterf het. Daarom sê ek vir jou, en God en Christus Jesus hoor wat ek vir jou sê: Jy moet die boodskap vir mense bring, jy moet aanhou om dit te doen, wanneer mense dit wil hoor en ook wanneer hulle dit nie wil hoor nie. Jy moet vir hulle sê wat hulle verkeerd doen, jy moet kwaai praat met hulle wanneer hulle verkeerde dinge doen, jy moet vir hulle sê hulle moenie moedeloos word nie, jy moet baie geduldig wees en vir hulle leer. Want die tyd sal kom wanneer mense nie sal wil luister wanneer iemand vir hulle die regte dinge leer nie. Nee, hulle sal net die dinge wil hoor wat hulle wil hoor. Daarom sal hulle baie mense kies wat vir hulle leer soos húlle dit wil hê. Dan sal hulle nie meer luister na die waarheid nie, hulle sal luister na stories wat nie waar is nie.
2 TIMOTEUS 4:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
2 TIMOTEUS 4:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.
2 TIMOTEUS 4:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek vermaan jou ernstig voor God en •Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies gaan oordeel, en ook met die oog op sy verskyning en sy koninkryk: Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering. Want daar kom 'n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend.
2 TIMOTEUS 4:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewendes en die dooies sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk; Verkondig die woord; wees onmiddellik in seisoen, buite seisoen; bestraf, bestraf, vermaan met alle lankmoedigheid en lering. Want daar sal 'n tyd kom wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie; maar volgens hulle eie begeerlikhede sal hulle vir hulle leraars versamel met gestreelde ore; En hulle sal hulle oor van die waarheid afkeer en hulle tot fabels wend.
2 TIMOTEUS 4:1-4 Die Boodskap (DB)
Christus Jesus gaan as regter besluit wat eendag met die mense gaan gebeur, of hulle nog lewe en of hulle al dood is. Hy gaan weer kom en soos ’n koning kom heers. Met God en Jesus as getuie sê ek vir jou: vertel vir almal die boodskap van God. Jy moet altyd reg wees om dit te doen, maak nie saak wanneer nie. As ander ’n klomp onsin vertel, help hulle reg. As hulle nie wil luister nie, praat kwaai met hulle en as iemand moedeloos is, praat hom moed in. Wees geduldig terwyl jy mense stap vir stap help om God se dinge beter te verstaan. Die tyd sal kom wanneer mense nie meer belang sal stel om na die waarheid te luister nie. Hulle sal eerder wil aanloop agter dinge wat vir hulle lekker is. Daarom sal hulle liewer na predikers toe stroom wat net vir hulle vertel wat hulle graag wil hoor. Van die waarheid sal hulle niks meer wil weet nie. Nee, hulle sal baie meer hou van allerhande stories oor godsdiens wat mense sommer uit hulle duim gesuig het.
2 TIMOTEUS 4:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil jou dus ernstig aanspoor voor God en voor Christus Jesus, wat die lewendes en dooies gaan oordeel wanneer Hy verskyn om sy koningsheerskappy te vestig: Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig. Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.