HANDELINGE 10:1-48

HANDELINGE 10:1-48 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man in die hawestad Sesarea. Sy naam was Kornelius. Hy was 'n offisier van 'n groep Italiaanse soldate. Hy en almal in sy huis het God gedien en gerespekteer. Hy het baie goeie dinge gedoen om die arm mense in die Joodse volk te help, en hy het elke dag tot God gebid. Een middag omtrent drie-uur het God iets vir Kornelius gewys: 'n Engel van God het na Kornelius toe gekom en vir hom gesê: “Kornelius!” Kornelius was bang. Hy het na die engel gekyk en gesê: “Wat is dit, Meneer?” Die engel sê toe vir hom: “God het gehoor toe jy elke dag tot Hom gebid het en Hy het die goeie dinge gesien wat jy doen. Jy moet 'n paar mans na die hawestad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Petrus bly by 'n man, sy naam is ook Simon. Hy is 'n leerlooier en hy het 'n huis by die see.” Die engel wat met Kornelius gepraat het, het weggegaan. Kornelius het twee van sy slawe wat in sy huis gewerk het, geroep en ook 'n soldaat wat vir hom gewerk het. Nadat Kornelius alles vir hulle vertel het, het hy hulle na Joppe gestuur. Terwyl hulle die volgende dag op die pad na Joppe was en nader kom na die stad, het Petrus op die huis se plat dak geklim om te bid. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy het honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense besig was om kos te maak, het die Here vir hom iets gewys, dit was soos in 'n droom. Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos 'n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak. In die groot stuk lap was van al die soorte diere: diere wat vier pote het, diere wat op die aarde kruip en voëls. Petrus hoor toe dat Iemand vir hom sê: “Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.” Maar Petrus het gesê: “Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is nie, of iets wat onrein is nie.” Maar die Persoon het die tweede maal vir hom gesê: “God het hierdie diere rein gemaak. Jy moenie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap opgetrek in die hemel in. Petrus het gewonder wat die dinge beteken wat hy gesien het. Die mans wat van Kornelius gekom het, het vir mense gevra waar Simon se huis is. Terwyl Petrus oor alles gewonder het, het hulle by die voordeur van die huis gestaan. Hulle roep toe en vra of Simon daar woon. Simon se ander naam was Petrus. Terwyl Petrus gedink het oor die dinge wat hy gesien het, het die Heilige Gees vir hom gesê: “Daar is drie mans wat jou soek. Jy moet nou opstaan en afgaan na hulle toe. En jy moet saam met hulle gaan, jy moenie twyfel nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus klim toe af van die dak en hy gaan na die mans toe en vra vir hulle: “Julle soek my, hier is ek. Hoekom is julle hier?” Toe antwoord hulle hom: “Die offisier Kornelius is 'n regverdige man, hy respekteer vir God, en die hele Joodse volk sê goeie dinge van hom. 'n Heilige engel het vir Kornelius gesê hy moet vir jou sê om na sy huis te kom sodat hy kan luister na wat jy sê.” Petrus het toe die mans genooi om in die huis te kom en hy het gesê hulle mag die nag daar slaap. Die volgende dag het Petrus opgestaan en hy het saam met hulle gegaan. Party van die gelowiges van die hawestad Joppe het saam met hom gegaan. Die volgende dag het Petrus in Sesarea aangekom. Kornelius het klaar sy familie en sy beste vriende bymekaargeroep, hy het vir Petrus gewag en was haastig dat hy moet kom. Toe Petrus by die huis kom, het Kornelius hom gegroet en Kornelius het voor Petrus se voete gekniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Maar Petrus het vir Kornelius gehelp om op te staan en hy het vir hom gesê: “Staan op! Ek is self ook net 'n mens, soos jy.” Terwyl Petrus met Kornelius praat, het Petrus ingegaan in die huis. Hy sien toe daar is baie mense en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie by iemand mag wees wat nie 'n Jood is nie, 'n Jood mag ook nie vriende wees met iemand wat nie 'n Jood is nie. Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie. Daarom was ek nie ongehoorsaam nie en het ek gekom toe julle gesê het dat ek hiernatoe moet kom. Sê nou asseblief vir my hoekom het julle gesê dat ek moet kom?” Kornelius sê toe vir hom: “Drie dae gelede, op presies hierdie selfde tyd, drie-uur in die middag, was ek besig om te bid in my huis. Skielik het daar 'n man met blink klere voor my gestaan en hy het gesê: ‘Kornelius, God het geluister na jou gebed en Hy het die goeie dinge gesien wat jy gedoen het. Jy moet nou mense na die stad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Hierdie Simon Petrus woon daar by 'n ander Simon, 'n leerlooier, sy huis is by die see.’ Daarom het ek dadelik mense na jou toe gestuur, en jy was baie vriendelik om hiernatoe te kom. Ons almal is nou hier bymekaar waar God ons kan sien. Ons is hier om te luister na alles wat die Here vir jou gesê het om vir ons te sê.” Toe het Petrus begin praat en gesê: “Ek verstaan nou waarlik dat God nie dink een persoon is belangriker as 'n ander persoon nie. Nee, in elke volk hou God van die mense wat Hom respekteer en wat die dinge doen wat God wil hê. Julle ken die boodskap wat God vir die Israeliete gestuur het. Jesus Christus het daardie goeie boodskap van vrede vir hulle gebring. En Hý, Jesus, is die Here van almal. Julle weet van die dinge wat gebeur het in die hele Joodse land. Dit het alles in die provinsie Galilea begin toe Johannes die Doper gepreek het oor die doop waarmee hy die mense doop. Julle weet dat God die Heilige Gees in Jesus van Nasaret laat kom het en dat God vir Hom krag gegee het. God was by Jesus, daarom het Jesus na baie plekke gegaan en Hy het goeie dinge gedoen: Hy het almal gesond gemaak wat baie swaar gekry het omdat die duiwel in hulle was. En ons is getuies van alles wat Jesus in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het vir Jesus aan 'n houtpaal gehang en so het hulle Hom doodgemaak. Maar God het vir Jesus op die derde dag weer laat lewe en God het Jesus vir ons gewys. God het Hom nie vir al die mense van die volk gewys nie, net vir ons, ons wat saam met Jesus geëet en gedrink het nadat Hy gesterf het en nadat God vir Jesus weer laat lewe het. God het ons voor daardie tyd gekies om getuies hiervan te wees. God het ook gesê dat ons vir die volk moet vertel en moet getuig dat God vir Jesus gekies en aangestel het om die Regter te wees. Die Regter moet oordeel oor die mense wat lewe en oor die mense wat klaar gesterf het. Dit is oor Hóm wat al die profete getuig. Hulle sê dat God die sondes sal vergewe van elkeen wat in Jesus glo.” Terwyl Petrus nog besig was om hierdie dinge te sê, het die Heilige Gees gekom in al die mense wat geluister het na Petrus se boodskap. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, het gehoor dat die mense in tale praat en hulle het gehoor dat die mense God prys. Die Joodse gelowiges was toe baie verbaas omdat God die Heilige Gees ook in heidene laat kom het. Petrus sê toe: “Niemand kan dit keer nie, hierdie mense mag met water gedoop word, want hulle het ook die Heilige Gees ontvang, soos ons.” Petrus het toe gesê dat Kornelius en al sy mense gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hulle vir Petrus gevra om nog 'n paar dae daar te bly.

HANDELINGE 10:1-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was in Cesaréa 'n man met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n sekere Simon, 'n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe. En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom: hy sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? En hulle sê: Cornelius, 'n hoofman oor honderd, 'n regverdige en godvresende man, wat 'n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het 'n goddelike openbaring ontvang deur 'n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan. Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar 'n mens. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het; en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het. En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar 'n man voor my in 'n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, 'n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is. En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus — Hy is die Here van almal. Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang. En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae te bly.

HANDELINGE 10:1-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Sesarea was daar 'n man met die naam Kornelius, 'n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!” Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.” Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek. Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.” Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, 'n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het 'n openbaring deur 'n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting. Die volgende dag het hy en 'n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan en 'n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep. Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net 'n mens.” Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik 'n man met blink klere voor my, en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.’ Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.” Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.” Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om 'n paar dae by hulle te bly.

HANDELINGE 10:1-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was 'n man in Caesarea bekend as Cornelius, 'n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. Hy het teen die negende uur van die dag in 'n visioen duidelik 'n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!” Hy het stip na hom gestaar en beangs gevra: “Wat is dit, Meneer?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot 'n gedenkoffer voor God opgestyg. Stuur dan nou mans na Joppe om iemand met die naam Simon, ook bekend as •Petrus, te gaan haal. Hy gaan tuis by 'n sekere Simon, die leerlooier, wie se huis langs die see staan.” Toe die engel wat met hom gepraat het weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n godvresende soldaat, een van hulle wat hom dien, en nadat hy hulle alles vertel het, stuur hy hulle na Joppe. Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem. Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” En Petrus het afgeklim na die mans en gesê: “Kyk, dit is vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” En hulle het geantwoord: “Cornelius, die centurio, 'n regverdige en godvresende man, iemand oor wie die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het, het deur 'n heilige engel 'n openbaring ontvang om u na sy huis te laat kom en te luister na u woorde.” Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom. En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net 'n mens. ” En terwyl hy met hom praat, het hy na binne gegaan en daar baie mense bymekaar aangetref. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir 'n Joodse man verbode is om met iemand van 'n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder huiwering gekom toe ek ontbied is. Nou vra ek, waarom het julle my ontbied?” Cornelius antwoord toe: “Vier dae gelede was ek teen hierdie tyd, op die negende uur, besig om in my huis te bid. Opeens staan daar toe 'n man in 'n stralende gewaad voor my en sê, ‘Cornelius, jou gebed is verhoor en jou liefdadigheid het voor God in herinnering gekom. Stuur dan iemand na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy is 'n gas van Simon, die leerlooier, by 'n huis langs die see. ’ Ek het toe onmiddellik mense na u gestuur, en dit is goed dat u gekom het. Hier is ons nou almal in die teenwoordigheid van God aanwesig om alles te hoor wat deur die Here aan u opgedra is.” Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense. Julle weet wat dwarsdeur Judea gebeur het – dit het begin in Galilea, ná die doop wat Johannes verkondig het – hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Hy het die land deurreis, goed gedoen en almal wat onder die mag van die Duiwel was, genees, omdat God met Hom was. Ons is getuies van alles wat Hy in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Maar hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Vir Hom het God op die derde dag opgewek, en beskik dat Hy verskyn – nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat vroeër reeds deur God aangewys is – aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood opgestaan het. En Hy het ons beveel om aan die volk te verkondig en kragtig te getuig dat dit Hy is wat deur God aangewys is as Regter oor die lewendes en die dooies. Oor Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.” Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal. Die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met •Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die gawe van die Heilige Gees selfs op die heidene uitgestort is. Hulle het immers gehoor hoe hulle in tale spreek en God loof. Toe sê Petrus: “Niemand kan tog verhinder dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, met water gedoop word nie?” En hy het opdrag gegee dat hulle in die Naam van Jesus •Christus gedoop word. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae aan te bly.

HANDELINGE 10:1-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was 'n sekere man in Cesarea met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die bende wat die Italiaanse bende genoem word, 'n Vroom man en een wat God vrees met sy hele huis, wat baie aalmoese aan die volk gegee het en altyd tot God gebid het. Hy het in 'n gesig blykbaar omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Kornelius! En toe hy na hom kyk, was hy bang en sê: Wat is dit, Here? En hy sê vir hom: Jou gebede en jou aalmoese het opgekom om voor God te gedenk. En stuur nou manne na Joppe en roep een Simon, wie se van Petrus is. Hy vernag by Simon, 'n leerlooier, wie se huis langs die see is; hy sal jou vertel wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weggegaan het, het hy twee van sy huisbediendes geroep en 'n vroom soldaat van die wat gedurig op hom gewag het; En nadat hy al hierdie dinge aan hulle verkondig het, het hy hulle na Joppe gestuur. Die volgende dag, terwyl hulle op reis en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid. En hy het baie honger geword en sou geëet het, maar terwyl hulle gereed gemaak het, het hy in 'n beswyming geraak, En hy het die hemel oop gesien en 'n sekere voorwerp na hom toe sien neerdaal, soos dit 'n groot laken was wat aan die vier hoeke gebreid is en op die aarde neergelaat is. Waarin was allerhande viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere en voëls van die hemel. En daar het 'n stem na hom gekom: Staan op, Petrus! doodmaak en eet. Maar Petrus sê: Nie so nie, Here; want ek het nog nooit iets geëet wat onrein of onrein is nie. En die stem het weer vir die tweede keer met hom gesê: Wat God gereinig het, moet jy nie onheilig ag nie. Dit is drie maal gedoen, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself twyfel wat hierdie gesig sou beteken wat hy gesien het, kyk, die manne wat van Cornelius gestuur is, het na Simon se huis navraag gedoen en voor die poort gestaan. En hy het geroep en gevra of Simon, wat Petrus genoem word, daar geloseer is. Terwyl Petrus oor die gesig nadink, sê die Gees vir hom: Kyk, drie manne soek jou. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. Toe het Petrus afgegaan na die manne wat van Kornelius na hom gestuur is; en gesê: Kyk, dit is Ek wat julle soek. Wat is die oorsaak waarom julle gekom het? En hulle sê: Kornelius, die hoofman oor honderd, 'n regverdige man en een wat God vrees en 'n goeie gerug het onder die hele nasie van die Jode, is deur 'n heilige engel van God gewaarsku om jou in sy huis te laat roep en woorde te hoor van jou. Hy het hulle toe ingeroep en hulle vernag. En die volgende dag het Petrus saam met hulle weggegaan, en sekere broers van Joppe het hom vergesel. En die volgende dag het hulle in Cesaréa ingegaan. En Cornelius het hulle ingewag en sy bloedverwante en vriende bymekaargeroep. En toe Petrus inkom, kom Cornelius hom tegemoet en val voor sy voete neer en aanbid hom. Maar Petrus het hom opgeneem en gesê: Staan op! Ek is self ook 'n man. En terwyl hy met hom praat, het hy ingegaan en baie gekry wat bymekaar was. En hy sê vir hulle: Julle weet dat dit onwettig is vir 'n man wat 'n Jood is om geselskap te wees of na een van 'n ander nasie te kom; maar God het my laat blyk dat ek geen mens onrein of onrein mag noem nie. Daarom het ek na julle gekom sonder om te weerspreek, sodra daar na my gestuur is; En Kornelius sê: Vier dae gelede het ek gevas tot hierdie uur toe; en op die negende uur het ek in my huis gebid, en kyk, daar staan 'n man voor my in blink klere, en gesê: Kornelius, jou gebed is verhoor, en jou aalmoese word in gedagtenis gehou voor God. Stuur dan na Joppe en roep Simon, wie se van Petrus is, hierheen; hy is vernag in die huis van Simon, 'n leerlooier, langs die see; hy sal met jou spreek as hy kom. Daarom het ek dadelik na jou gestuur; en jy het goed gedoen dat jy gekom het. Nou is ons dan almal hier voor God teenwoordig, om te hoor alles wat God jou beveel het. Toe maak Petrus sy mond oop en sê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie. Maar in elke nasie is hy wat Hom vrees en geregtigheid doen, by hom welgevallig. Die woord wat God aan die kinders van Israel gestuur het deur vrede te verkondig deur Jesus Christus: Hy is die Here van almal. Daardie woord, sê ek, weet julle, wat deur die hele Judéa bekend gemaak is en van Galilea begin het, ná die doop wat Johannes verkondig het; Hoe God Jesus van Nasaret gesalf het met die Heilige Gees en met krag, wat rondgegaan het om goed te doen en almal genees het wat deur die duiwel onderdruk was; want God was met hom. En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die land van die Jode sowel as in Jerusalem; wat hulle gedood en aan 'n boom opgehang het: Hom het God op die derde dag opgewek en Hom openlik getoon; Nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat voor God uitverkore is, ja, aan ons, wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En hy het ons beveel om vir die volk te preek en te getuig dat dit Hy is wat deur God aangestel is om die Regter van lewende en dode te wees. Gee al die profete van Hom getuienis dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergifnis van sondes sal ontvang. Terwyl Petrus nog hierdie woorde gespreek het, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis was verbaas, almal wat saam met Petrus gekom het, omdat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe antwoord Petrus: Kan iemand water verbied, dat hulle nie gedoop word nie, wat die Heilige Gees ontvang het net soos ons? En hy het beveel dat hulle in die Naam van die Here gedoop moes word. Toe het hulle hom gevra om 'n langer tyd aan te bly.

HANDELINGE 10:1-48 Die Boodskap (DB)

In Sesarea het daar ’n man gebly met die naam Kornelius. Hy was die bevelvoerder van die Italiaanse regiment wat daar gestasioneer was. Hy was ’n goeie mens. Kornelius en almal in sy huis het groot respek vir God gehad. Sy hand was altyd oop vir ander mense wat swaargekry het. Hy het ook baie tyd aan gebed afgestaan. Een middag teen drie-uur, terwyl Kornelius besig was om te bid, het hy ’n visioen gesien. ’n Engel van die Here het na hom toe gekom en gesê: “Kornelius!” Kornelius het groot geskrik. Hy het die engel aangestaar en gesê: “Wat is dit, Meneer?” “God het jou gebede gehoor,” het die engel geantwoord. “Al die goeie dinge wat jy vir die armes doen, het Hy ook raakgesien. Daarom wil Hy hê dat jy ’n paar manne Joppe toe moet stuur. Daar bly ’n man met die naam Simon. Hy word ook Petrus genoem. Jy moet hom laat haal. Hy bly daar by Simon wat leergoedere verkoop in ’n huis teen die see.” Nadat die engel vertrek het, het Kornelius twee van sy huiswerkers en ’n soldaat wat ook godsdienstig was, laat haal. Hy het vir hulle vertel wat gebeur het en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.Toe het hy skielik ’n visioen gesien. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!” “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.” Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. Terwyl Petrus nog sit en kopkrap oor wat die visioen kon beteken, het die geselskap van Kornelius af by die voordeur kom aanklop. Hulle het gevra of Petrus daar bly. Petrus het hulle nie gehoor nie. Hy het steeds gewonder wat sy visioen beteken. Daarom het die Heilige Gees vir hom gesê:“Daar by die voordeur staan drie mans wat op soek is na jou. Gaan dadelik af ondertoe. Gaan saam met hulle na hulle huis toe. Moenie huiwer nie, want Ek het hulle gestuur om jou te kom haal.” Petrus het die mans vriendelik gaan groet en vir hulle gesê: “Julle is op soek na my. Hoekom?” Een van hulle het geantwoord: “Kornelius, ons bevelvoerder, ’n goeie man wat groot respek vir God het - u kan maar vir enige Jood vra - het by ’n engel ’n boodskap gekry om u te laat haal. U moet asseblief met hom kom praat.” Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee. Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het. Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid. “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê. Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?” Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’ “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.” “Weet julle, ek sien nou dat God niemand voortrek nie,” het Petrus geantwoord. “Hy het regtig nie witbroodjies nie! Hy aanvaar almal wat respek vir Hom het en wat doen wat reg is, maak nie saak uit watter volk hulle kom nie. “Ek het goeie nuus vir julle: God het onlangs ’n baie belangrike boodskap na Israel toe gestuur. Dit is ook vir julle bedoel. Die inhoud van hierdie goeie nuus is dat God met ons almal vrede kom maak het. Jesus Christus het hierdie boodskap persoonlik na ons toe gebring. Hy is die Here oor almal. “Dalk het julle ook gehoor wat ’n ruk gelede daar in Judea met Hom gebeur het. Dit het eintlik al in Galilea begin toe Johannes die Doper daar gepreek het dat mense hulle lewens moet verander en hulle moet laat doop. Daarna het Jesus van Nasaret op die toneel verskyn. God het die Heilige Gees oor Hom uitgestort. Jesus het toe begin om mense te help, bose magte uit hulle weg te jaag, en al wat siek mens is, te genees. Hy het dit alles gedoen met behulp van God se groot krag. “Ek het al hierdie dinge met my eie oë sien gebeur: van Galilea af tot in Jerusalem. Toe Jesus in Jerusalem aankom, het die mense Hom doodgemaak. Hulle het Hom aan ’n houtkruis opgehang. Op die derde dag na sy dood het God Hom weer lewendig gemaak. Hy het ook toegelaat dat Jesus vir ’n klompie mense kom wys dat Hy lewe, maar nie vir almal nie. God het vooraf sekere mense uitgesoek aan wie Jesus verskyn het. Ek en die ander apostels is daardie bevoorregte groepie. Ons paar het die voorreg gehad om saam met Jesus te eet en te drink nadat Hy weer lewendig geword het. “Jesus het ons beveel om hierdie nuus oral te gaan oorvertel. Ons moet vir almal gaan sê dat Hy deur God self aangestel is as Regter oor almal op die aarde, oor almal wat lewe en wat reeds dood is. “Dit is nie net ons wat hierdie dinge sê nie. Die profete sê ook dat elkeen wat in Hom glo, se sondes deur God weggevat word.” Petrus was nog besig om te praat, toe kom die Heilige Gees oor almal wat na hom gesit en luister het. Die Joodse gelowiges wat saam met hom na Sesarea gekom het, was baie verbaas daaroor. Hulle kon nie glo dat God sy Heilige Gees oor mense uit ander volke laat kom nie. Tog het hulle dit nou met hulle eie oë gesien, en ook gehoor! Want hierdie mense het dadelik in ongewone tale begin praat en God se Naam grootgemaak. Terwyl dit gebeur, vra Petrus vir die ander gelowiges saam met hom: “Wie sal beswaar maak as hierdie mense gedoop word? Hulle het ook die Heilige Gees ontvang, net soos ons.” Petrus het toe beveel dat almal in Kornelius se huis gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hy nog ’n paar dae by Kornelius oorgebly.

HANDELINGE 10:1-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In Sesarea was daar ’n Romeinse weermagoffisier met die naam Kornelius, ’n offisier oor honderd man van die Italiaanse Regiment. Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad, hy en sy hele huishouding. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk gegee en hy het deurentyd tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!” Kornelius het hom aangestaar en bang geword en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel het hom geantwoord: “Jou gebede en wat jy vir die armes doen, het God opgeval! Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal. Sy noemnaam is Petrus. Hy is ’n gas by ’n ander Simon, ’n leerlooier. Sy huis is by die see.” Toe die engel wat met hom gepraat het, vertrek, het Kornelius twee van sy huiswerkers en een van sy lyfwagte, self ’n soldaat wat aan God toegewy geleef het, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag, en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe. In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls. ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!” “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.” Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek. Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is. Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek. Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan. Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en ge-sê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!” En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is. Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie! Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’ So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.” Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie. In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is. Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig, maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn, nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ont-vang.” Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is. Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing. Petrus het toe gesê: “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.