HANDELINGE 11:17-18
HANDELINGE 11:17-18 Die Boodskap (DB)
“Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.” Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.”
HANDELINGE 11:17-18 Bybel vir almal (ABA)
Die mense het in die Here Jesus begin glo, soos ons in die Here Jesus begin glo het. Toe het God vir hulle die Heilige Gees gegee, soos God die Gees vir ons gegee het. Ja, God het dit gedoen, daarom kon ek nie vir God probeer keer nie.” Toe die Joodse gelowiges hierdie dinge gehoor het, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “Dit is nou so: God het ook vir die heidene gehelp om te verander sodat hulle kan lewe soos God wil hê hulle moet lewe.”
HANDELINGE 11:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.
HANDELINGE 11:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”
HANDELINGE 11:17-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?” Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”
HANDELINGE 11:17-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Omdat God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons, wat in die Here Jesus Christus geglo het; wat was ek, dat ek God kon weerstaan? Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: Dan het God ook aan die heidene bekering tot die lewe gegee.
HANDELINGE 11:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?” Toe hulle dit hoor, het hulle stil geraak. Hulle het God begin prys en gesê: “God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”