HANDELINGE 16:1-3 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
HANDELINGE 16:1-3 AFR83 (Afrikaans 1983)
Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was 'n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook 'n gelowige, was 'n Joodse vrou en sy pa 'n Griek. Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is 'n Griek.
HANDELINGE 16:1-3 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was 'n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse vader. Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader 'n Griek was.
HANDELINGE 16:1-3 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek. Daar was van die kant van die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus. Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek.
HANDELINGE 16:1-3 DB (Die Boodskap)
Paulus het ook weer ’n draai in Derbe en Listra gaan maak. Daar het hy vir Timoteus raakgeloop, ’n Christen met ’n Joodse ma en ’n Griekse pa. Sy ma het saam met hom die Here gedien. Die gelowiges in Listra en Ikonium kon nie uitgepraat raak oor Timoteus se liefde vir die Here nie. Paulus het toe besluit om Timoteus saam met hom te vat om sendingwerk te gaan doen. Maar hy het Timoteus eers besny om seker te maak dat die Jode hom nie van die staanspoor af sou verwerp nie. Baie van hulle het geweet dat hy ’n Griekse pa het. Daarom sou hulle hom nooit toelaat om met hulle in hulle sinagoges oor Jesus te praat as hy nie besny was nie.
HANDELINGE 16:1-3 ABA (Bybel vir almal)
Paulus het ook in die stede Derbe en Listre gekom. In Listre was daar 'n gelowige, sy naam was Timoteus. Hy was die seun van 'n Joodse vrou wat 'n gelowige was, en sy pa was 'n Griek. Die gelowiges in die stede Listre en Ikonium het goeie dinge oor Timoteus gesê. Paulus wou hê dat Timoteus saam met hom moes gaan. Daarom het Paulus hom geneem en hy het hom besny. Paulus het dit gedoen omdat al die Jode wat in daardie stede was, geweet het dat Timoteus se pa 'n Griek was.
HANDELINGE 16:1-3 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Paulus het na Derbe gegaan, en toe na Listra. En kyk, daar was 'n dissipel met die naam Timoteus – die seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse pa. Hy was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het. Paulus wou Timoteus saam op reis neem, en het hom laat besny ter wille van die Jode wat in daardie streke gewoon het, omdat almal geweet het dat sy vader 'n Griek was.
HANDELINGE 16:1-3 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe kom Hy in Derbe en Listre, en daar was 'n sekere dissipel met die naam van Timótheüs, die seun van 'n sekere vrou, wat 'n Joodse vrou was en gelowig was; maar sy vader was 'n Griek: Waaroor goed berig is deur die broers wat in Listra en Ikonium was. Hom sou Paulus saam met hom moes uitgaan; en hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie omgewing was, want hulle het alles geweet dat sy vader 'n Griek was.