HANDELINGE 2:38-43
HANDELINGE 2:38-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.” Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.
HANDELINGE 2:38-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. ” Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg. Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind.
HANDELINGE 2:38-43 Die Boodskap (DB)
“Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang. Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.” Petrus het toe nog ’n hele ruk met die skare gepraat. “Gee pad uit hierdie sondige wêreld uit,” het hy vir hulle gesê. “Dit gaan julle lewe totaal verwoes. Kom na God toe. Laat Hy julle uit die kloue van die sonde verlos. Net Hy kan dit doen.” Na Petrus se woorde het ’n groot aantal mense, omtrent 3 000, tot bekering gekom. Daarna is hulle gedoop. Van toe af het hierdie nuwe gelowiges gereeld bymekaargekom om te hoor wat die apostels leer. Hulle het nou in ’n splinternuwe verhouding met God en met mekaar gestaan. Hulle het ook gereeld saamgeëet en saamgebid. Die apostels het groot wonderwerke onder hulle gedoen. Al die gelowiges het groot eerbied vir God gehad.
HANDELINGE 2:38-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.” Petrus het nog lank aanhou getuig en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!” Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3 000. Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede. Diep ontsag het oor elke persoon gekom, en die apostels het baie wonders en wondertekens laat plaasvind.
HANDELINGE 2:38-43 Bybel vir almal (ABA)
En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee. Want God het dit belowe vir julle en vir julle kinders en ook vir al die mense wat nie Jode is nie. Ja, Hy belowe dit vir al die mense wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Petrus het nog baie ander dinge gesê, hy het die mense gewaarsku en hy het ernstig met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle moet vir God vra om julle te red, julle moenie wees soos die wêreld se mense wat sonde doen nie.” Die mense wat besluit het om te doen wat Petrus sê, is gedoop. En God het nog omtrent 3 000 mense op daardie dag gelowiges laat word. Die gelowiges het aangehou om die dinge te doen wat die apostels vir hulle geleer het en hulle was altyd saam. Hulle het ook altyd saam geëet en gebid. Toe die ander Jode die wonderwerke en die tekens sien wat God die apostels laat doen het, het hulle almal besef dat dit God is wat dit laat gebeur.
HANDELINGE 2:38-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind.
HANDELINGE 2:38-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Petrus vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte is vir julle en aan julle kinders en aan almal wat ver is, selfs almal as wat die Here ons God sal roep. En met baie ander woorde het hy getuig en vermaan en gesê: Red julle uit hierdie slegte geslag. Toe is die wat sy woord met blydskap aangeneem het, gedoop, en op dieselfde dag is omtrent drieduisend siele by hulle gevoeg. En hulle het volhard in die leer van die apostels en die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. En vrees het oor elke siel gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels gedoen.