HANDELINGE 2:46-47
HANDELINGE 2:46-47 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het elke dag bymekaargekom in die tempel en hulle het saam geëet in mekaar se huise. Hulle het vir mekaar kos gegee. Hulle het dit gedoen omdat hulle bly was en omdat hulle mekaar graag wou help. Hulle het God geprys, en al die mense in Jerusalem het gehou van hulle. Die Here het elke dag mense gered en so het die gelowiges meer geword.
HANDELINGE 2:46-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.
HANDELINGE 2:46-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
HANDELINGE 2:46-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.
HANDELINGE 2:46-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het elke dag eendragtig in die tempel voortgegaan en van huis tot huis brood gebreek en hulle vleis geëet met blydskap en opregtheid van hart, God loof en guns hê by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered moes word.
HANDELINGE 2:46-47 Die Boodskap (DB)
Dag na dag het hulle ook na die tempel toe gegaan om God daar te aanbid. Hulle het ook by verskillende huise saamgeëet. Hierdie maaltye was glad nie uitspattig nie. Al die gelowiges was vol vreugde. Hulle het God heeltyd geprys omdat Hy so groot en goed is. Die gelowiges se lewenstyl het die ander mense in Jerusalem aangegryp. Almal het daaroor gepraat. Daarom het daar elke dag baie mense tot geloof in Christus gekom.
HANDELINGE 2:46-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet. Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.