HANDELINGE 27:21-26 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

HANDELINGE 27:21-26 AFR83 (Afrikaans 1983)

Nadat hulle 'n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.”

HANDELINGE 27:21-26 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan 'n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is. Maar ons moet op 'n sekere eiland strand.

HANDELINGE 27:21-26 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het. En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan. Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het. Ons moet op ’n eiland strand.”

HANDELINGE 27:21-26 DB (Die Boodskap)

Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie.Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’ “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het. “Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.”

HANDELINGE 27:21-26 ABA (Bybel vir almal)

Hulle het 'n lang tyd niks geëet nie. Paulus het toe opgestaan en hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Vriende, ek het gesê ons moenie wegseil van Kreta nie. Hoekom het julle nie na my geluister nie? Dan het julle nie nou hierdie groot probleme gehad nie, en dan het julle ook nie julle goed verloor nie. Maar nou wil ek vir julle sê wat julle moet doen. Julle moet sterk wees. Nie een van julle sal sterf nie, maar die skip sal stukkend breek en sink. Want gisternag het daar 'n engel by my kom staan. Dit was 'n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’ Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het. Maar die skip sal stukkend breek by een van die eilande.”

HANDELINGE 27:21-26 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daar was 'n ernstige tekort aan kos. Toe het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie weggevaar het van Kreta af nie. Dan sou ons hierdie skade en verlies kon voorkom het. En nou roep ek julle op om moed te hou, want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal vergaan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, ‘Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.’ Daarom, hou moed, manne, want ek vertrou op God dat dit net so sal gebeur soos aan my gesê is. Ons moet egter op een of ander eiland strand.”

HANDELINGE 27:21-26 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar na lang onthouding het Paulus in die midde van hulle opgestaan en gesê: Menere, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggegaan het nie, en hierdie skade en verlies opgedoen het. En nou vermaan ek julle om goeie moed te hou, want daar sal geen mens se lewe onder julle verloor nie, behalwe van die skip. Want in hierdie nag het die engel van God by my gestaan, wie s'n ek is en wat ek dien, en gesê: Moenie vrees nie, Paulus! jy moet voor die keiser gebring word, en kyk, God het aan jou gegee almal wat saam met jou vaar. Daarom, menere, hou goeie moed, want ek glo God, dat dit sal wees soos aan my gesê is. Maar ons moet op 'n sekere eiland gewerp word.