KOLOSSENSE 2:6-15

KOLOSSENSE 2:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid. Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ’n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie. Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag. Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ’n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid. Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het! Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe. Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.

KOLOSSENSE 2:6-15 Bybel vir almal (ABA)

Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is, en julle glo in Hom. Nou moet julle lewe soos mense wat aan Hom behoort. Christus maak julle geloof sterk, soos 'n wortel 'n boom sterk maak en soos 'n fondament 'n huis sterk maak. En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles. Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie. Die dinge wat hulle sê, kom van die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer. Daardie mense praat nie die waarheid nie, want Christus, die Seun wat 'n mens geword het, is ook God en Hy is so sterk soos God. Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Julle behoort aan Christus. Soos wanneer mense iemand besny, so het Hy julle lus om sonde te doen, heeltemal weggevat. Dit is wat die besnydenis van Christus is. Hy het julle besny toe julle gedoop is. Julle is gedoop, en dit beteken dat julle saam met Christus begrawe is. Dit beteken ook dat God julle saam met Christus weer laat lewe het. Dit is so, want julle glo in God, God wat sterk is en wat vir Christus weer laat lewe het. Julle het voorheen baie sondes gedoen, en daarom was julle geestelik dood. Julle was nie besny nie. Maar God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe toe Hy al julle sondes vergewe het. God het ons sondes in 'n boek geskryf, want ons het nie gedoen wat sy wette sê nie. Maar God het vir Christus aan die kruis laat sterf en so het Hy ons sondes vergewe, die sondes wat Hy in sy boek geskryf het. Ja, Hy het die sondes uitgevee uit sy boek. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God die wapens weggevat van almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Hulle het sy gevangenes geword, en Hy het vir almal gewys dat hulle sy gevangenes is.

KOLOSSENSE 2:6-15 Die Boodskap (DB)

Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer. Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie. By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het. Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte. Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle sodat julle niks kortkom nie? Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg. Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan. Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie. Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien.

KOLOSSENSE 2:6-15

KOLOSSENSE 2:6-15 AFR83KOLOSSENSE 2:6-15 AFR83