KOLOSSENSE 3:1-17

KOLOSSENSE 3:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

KOLOSSENSE 3:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.

KOLOSSENSE 3:1-17 Die Boodskap (DB)

Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. Onthou, Hy is die Een met die mag. Hy sit op die oomblik op die ereplek langs God self in die hemel. Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou. Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het. Julle ou belangstellings en lewenstyl is dood en begrawe. Julle het ’n nuwe lewe gekry. Dit waarborg God vir julle. Christus gee julle daardie nuwe lewe. Wanneer Christus eendag weer kom, sal julle almal by Hom kan gaan staan as mense wat Hy lewend gemaak het. Almal sal julle saam met Hom sien. Dan sal hulle ook sien hoe belangrik julle regtig vir God is. Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry. Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie. Julle weet goed waarvan ek praat. Julle het self vroeër so geleef. Maar daardie tyd is nou vir julle verby. Dit beteken natuurlik dat al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, ook vir julle iets van die verlede moet wees. Sal ek vir julle ’n paar opnoem? Dink maar aan ’n slegte humeur of om oor alles te wil baklei. Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie. Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie. Praat die waarheid met mekaar. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere. God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees. Hy wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie. Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ’n kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ’n Christen geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf of waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra Hy hoe belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ’n goeie werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel, is net Christus. God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie. Jesus se boodskap moet in julle lewe wees wat ’n bouplan vir ’n bouer is. Dit moet die plan wees vir alles wat julle doen. Daarom moet julle nie tevrede wees voordat julle alles weet wat Jesus vir julle wil sê nie. Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie. Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

KOLOSSENSE 3:1-17 Bybel vir almal (ABA)

God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe saam met Christus. Daarom moet die dinge wat vir Christus belangrik is, nou vir julle ook belangrik wees, want Christus is nou in die hemel by God, Hy sit op die belangrikste plek by God. Julle moet altyd dink aan die dinge wat vir Christus belangrik is, die dinge daarbo in die hemel. Julle moenie dink aan die dinge wat vir mense belangrik is nie, aan die dinge hier onder op die aarde nie. Julle sondige lewe is verby, dit is dood. Julle het nou 'n nuwe lewe, maar die ander mense weet dit nie, want julle lewe saam met Christus wat by God is. Dit is Christus wat die nuwe lewe vir julle gee. Hy sal weer kom, en dan sal almal weet dat julle aan Hom, die Koning, behoort. Julle moet ophou om slegte dinge te doen, die dinge wat sondige mense graag doen. Julle moenie onsedelik lewe nie, julle moenie slegte dinge doen of dink of wil hê nie. Julle moenie altyd meer en meer goed wil hê nie, want dan word julle goed vir julle 'n afgod. Mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf. Julle het ook voorheen daardie slegte dinge gedoen en julle het gelewe soos daardie mense. Maar nou moet julle nie meer daardie slegte dinge doen nie. Julle moenie kwaad word en dan verkeerde dinge sê of doen nie. Julle moenie lelike dinge teen ander mense sê nie. Julle moenie dinge sê wat ander mense seermaak nie. Julle moenie vir mekaar lieg nie, want julle doen nie meer die dinge wat julle voorheen gedoen het nie. Julle is nou nuwe mense. God het julle gemaak en Hy maak julle nuut sodat julle Hom kan ken en kan wees soos Hy is. Julle is nie almal dieselfde nie, party van julle is Grieke en party is Jode, party is besny en party is nie besny nie, party is nie Grieke nie, party is mense wat glad nie belangrik is nie, party is slawe en party is nie slawe nie. Maar nou maak dit nie meer saak nie. Christus is die belangrikste en Hy is in julle harte. God het julle gekies, julle behoort aan Hom en Hy is lief vir julle. Daarom moet julle goeie dinge doen. Julle moet regtig jammer wees vir ander mense en julle moet goed wees vir hulle. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet sagte harte hê, julle moenie gou kwaad word nie. Julle moet geduldig wees met mekaar. As iemand iets verkeerd gedoen het, dan moet julle nie kwaad wees vir hom nie, julle moet hom vergewe. Die Here het julle vergewe, en so moet julle mekaar ook vergewe. Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees. Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees. Julle moet altyd dink aan die goeie boodskap oor Christus. Julle moet soos wyse mense vir mekaar leer en mekaar waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie. Julle moet psalms en gesange en ander liedere sing om vir God dankie te sê. Julle behoort aan die Here Jesus. Daarom, al die dinge wat julle sê en doen, moet dinge wees wat Hy wil hê, en julle moet vir God die Vader dankie sê. Ja, julle moet vir Christus vra om vir God te sê julle sê dankie.

KOLOSSENSE 3:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

KOLOSSENSE 3:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus sit aan die regterhand van God. Stel jou geneentheid op die dinge daarbo, nie op die dinge op die aarde nie. Want julle is dood, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, verskyn, dan sal julle ook saam met Hom verskyn in heerlikheid. Maak dan julle lede wat op die aarde is, dood; hoerery, onreinheid, buitensporige geneentheid, bose begeerlikheid en hebsug, wat afgodediens is; Waarom kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid: waarin julle ook gewandel het toe julle daarin gewoon het. Maar nou stel julle ook al hierdie dinge af; woede, woede, boosheid, godslastering, vuil kommunikasie uit jou mond. Lieg nie vir mekaar nie, aangesien julle die ou man met sy werke afgelê het; En julle moet julle met die nuwe mens beklee, wat vernuwe word tot kennis na die beeld van Hom wat Hom geskep het. Waar daar nie Griek of Jood, besnydenis of onbesnedenheid, Barbaar, Skit, slaaf of vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. Beklee julle dan as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid; Verdra mekaar en vergewe mekaar as iemand teen iemand twis het; soos Christus julle vergewe het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo al hierdie dinge met die liefde, wat die band van volmaaktheid is. En laat die vrede van God in julle harte heers, waartoe julle ook in een liggaam geroep is; en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid; leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing met genade in julle harte tot eer van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God en die Vader deur Hom.

KOLOSSENSE 3:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak. Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref. Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk. In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is. Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar. Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met alle wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God. Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.