KOLOSSENSE 3:14-15
KOLOSSENSE 3:14-15 Bybel vir almal (ABA)
Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees. Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees.
KOLOSSENSE 3:14-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
KOLOSSENSE 3:14-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
KOLOSSENSE 3:14-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.
KOLOSSENSE 3:14-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En beklee julle bo al hierdie dinge met die liefde, wat die band van volmaaktheid is. En laat die vrede van God in julle harte heers, waartoe julle ook in een liggaam geroep is; en wees dankbaar.
KOLOSSENSE 3:14-15 Die Boodskap (DB)
Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie.