KOLOSSENSE 3:15-16 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
KOLOSSENSE 3:15-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.
KOLOSSENSE 3:15-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
KOLOSSENSE 3:15-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar. Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met alle wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God.
KOLOSSENSE 3:15-16 DB (Die Boodskap)
Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie. Jesus se boodskap moet in julle lewe wees wat ’n bouplan vir ’n bouer is. Dit moet die plan wees vir alles wat julle doen. Daarom moet julle nie tevrede wees voordat julle alles weet wat Jesus vir julle wil sê nie. Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie.
KOLOSSENSE 3:15-16 ABA (Bybel vir almal)
Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees. Julle moet altyd dink aan die goeie boodskap oor Christus. Julle moet soos wyse mense vir mekaar leer en mekaar waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie. Julle moet psalms en gesange en ander liedere sing om vir God dankie te sê.
KOLOSSENSE 3:15-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.
KOLOSSENSE 3:15-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En laat die vrede van God in julle harte heers, waartoe julle ook in een liggaam geroep is; en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid; leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing met genade in julle harte tot eer van die Here.