KOLOSSENSE 3:5-15

KOLOSSENSE 3:5-15 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet ophou om slegte dinge te doen, die dinge wat sondige mense graag doen. Julle moenie onsedelik lewe nie, julle moenie slegte dinge doen of dink of wil hê nie. Julle moenie altyd meer en meer goed wil hê nie, want dan word julle goed vir julle 'n afgod. Mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf. Julle het ook voorheen daardie slegte dinge gedoen en julle het gelewe soos daardie mense. Maar nou moet julle nie meer daardie slegte dinge doen nie. Julle moenie kwaad word en dan verkeerde dinge sê of doen nie. Julle moenie lelike dinge teen ander mense sê nie. Julle moenie dinge sê wat ander mense seermaak nie. Julle moenie vir mekaar lieg nie, want julle doen nie meer die dinge wat julle voorheen gedoen het nie. Julle is nou nuwe mense. God het julle gemaak en Hy maak julle nuut sodat julle Hom kan ken en kan wees soos Hy is. Julle is nie almal dieselfde nie, party van julle is Grieke en party is Jode, party is besny en party is nie besny nie, party is nie Grieke nie, party is mense wat glad nie belangrik is nie, party is slawe en party is nie slawe nie. Maar nou maak dit nie meer saak nie. Christus is die belangrikste en Hy is in julle harte. God het julle gekies, julle behoort aan Hom en Hy is lief vir julle. Daarom moet julle goeie dinge doen. Julle moet regtig jammer wees vir ander mense en julle moet goed wees vir hulle. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet sagte harte hê, julle moenie gou kwaad word nie. Julle moet geduldig wees met mekaar. As iemand iets verkeerd gedoen het, dan moet julle nie kwaad wees vir hom nie, julle moet hom vergewe. Die Here het julle vergewe, en so moet julle mekaar ook vergewe. Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees. Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees.

KOLOSSENSE 3:5-15 Die Boodskap (DB)

Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry. Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie. Julle weet goed waarvan ek praat. Julle het self vroeër so geleef. Maar daardie tyd is nou vir julle verby. Dit beteken natuurlik dat al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, ook vir julle iets van die verlede moet wees. Sal ek vir julle ’n paar opnoem? Dink maar aan ’n slegte humeur of om oor alles te wil baklei. Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie. Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie. Praat die waarheid met mekaar. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere. God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees. Hy wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie. Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ’n kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ’n Christen geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf of waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra Hy hoe belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ’n goeie werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel, is net Christus. God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees. Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie. En moenie vergeet om altyd vir God dankie te sê vir al hierdie dinge nie.

KOLOSSENSE 3:5-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak. Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref. Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk. In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is. Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar.