DANIËL 1:17-21 - Compare All Versions

DANIËL 1:17-21 ABA (Bybel vir almal)

God het daardie vier seuns baie slim gemaak. Hulle het van alles geweet, en Daniël kon ook sê wat dit beteken wanneer iemand droom en iets sien. Die koning het gesê hulle moet die seuns ná drie jaar bring. Toe die drie jaar verby was, het Aspenas die seuns na koning Nebukadnesar toe gebring. Die koning het met hulle gepraat en hy het nie ander seuns gekry wat so slim was soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het begin werk vir die koning. Die koning het partymaal vir hulle gevra wat hulle dink hy moet doen. Hulle antwoord was dan tien maal beter as die antwoorde van al die slim mense in sy hele land. Daniël het by die koning gewerk tot in die eerste jaar nadat Kores koning geword het.

DANIËL 1:17-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En hierdie vier jong seuns — God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome. En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar gebring. En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie. So het hulle dan voor die koning gedien. En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het. En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.

DANIËL 1:17-21 AFR83 (Afrikaans 1983)

God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê. Op die tyd wat koning Nebukadnesar bepaal het dat die jongmanne voor hom gebring word, het die hoofpaleisbeampte dit gedoen. Die koning het met hulle gepraat en hy het onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Toe het hulle in diens van die koning getree. In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. Daniël het in diens van die paleis gebly tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

DANIËL 1:17-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

En hierdie jong seuns, hulle vier – aan hulle het God oordeelsvermoë gegee, en ook insig in allerlei geskrifte en wysheid. Daniël kon alle visioene en drome begryp. Aan die einde van die tydperk wat die koning bepaal het dat hulle ingebring moes word, het die toesighouer oor die paleisamptenare hulle voor Nebukadnesar gebring. Die koning het met hulle gepraat, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het by die koning in diens getree. En in verband met enige saak wat wysheid en insig geverg het waaroor die koning hulle uitgevra het, het hy hulle tien maal beter gevind as al die waarsêerpriesters en goëlaars in sy hele koninkryk. Daniël was daar tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

DANIËL 1:17-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Wat hierdie vier kinders betref, God het aan hulle kennis en vaardigheid gegee in alle geleerdheid en wysheid; en Daniël het verstand gehad in alle gesigte en drome. En aan die einde van die dae wat die koning gesê het dat hy hulle moes inbring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar ingebring. En die koning het met hulle gespreek; en onder hulle almal is niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Misael en Asárja nie; daarom het hulle voor die koning gestaan. En in alle sake van wysheid en insig wat die koning by hulle navraag gedoen het, het hy gevind dat hulle tien maal beter was as al die towenaars en sterrekykers wat in sy hele ryk was. En Daniël het gebly tot die eerste jaar van koning Kores.

DANIËL 1:17-21 DB (Die Boodskap)

Deur God se goedheid was hierdie vier jongmans besonder slim. Hulle het goeie kennis van die belangrike boeke van daardie tyd gehad en baie wysheid. Boonop het Daniël die gawe gehad om visioene en drome uit te lê. Aan die einde van die driejaarperiode wat die koning vasgestel het, het Aspenas al die jongmense na koning Nebukadnesar toe gevat vir ’n onderhoud. Hy het met hulle almal gepraat, maar nie een van die ander het hom so beïndruk soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Daarom het hy hulle as raadgewers in sy paleis aangestel. Die koning het gou agtergekom as dit by sake kom wat wysheid of ’n goeie oordeel vereis, was Daniël en sy vriende se raad baie beter as dié van enige van sy towenaars en fortuinvertellers. Daniël het in die paleis bly werk tot die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië, die koning wat Babilonië verower het.

DANIËL 1:17-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid. Vir Daniël het Hy die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan. Toe die tyd om was wat die koning bepaal het, het die hoof van die amptenare al die jong manne voor Nebukadnesar gebring. Die koning het ’n onderhoud met elkeen van hulle gevoer. Hy het niemand onder hulle gekry wat die gelyke van Daniël, Gananja, Misael en Asarja was nie. Hulle is toe in die diens van die koning aangestel. Hy het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. Daniël het daar gebly tot die eerste jaar waarin koning Kores regeer het.