DANIËL 1:3-17 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DANIËL 1:3-17 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om uit die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense. Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal. Die koning het bepaal dat hulle 'n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree. Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja, maar die hoofpaleisbeampte het vir hulle ander name gegee: Daniël is Beltsasar genoem, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego. Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël. Maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.” Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en Asarja: “Maak asseblief tien dae lank 'n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink. Vergelyk dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en handel dan met ons na bevind van sake.” Die amptenaar het toe hulle versoek toegestaan en tien dae lank 'n proefneming met hulle gemaak. Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het. Toe het die amptenaar die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee. God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.
DANIËL 1:3-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Daarop het die koning aan Áspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring: jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer. En die koning het vir hulle 'n daaglikse porsie bestem uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het; om hulle so drie jaar lank op te voed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kan dien. En onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja. Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee: Daniël het hy Béltsasar genoem, en Hanánja Sadrag, en Mísael Mesag, en Asárja Abednégo. En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie. En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars. En die owerste van die hofdienaars het aan Daniël gesê: Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai? Maar Daniël het aan die bediende gesê wat die owerste van die hofdienaars oor Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja aangestel het: Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die groente gee om te eet en water om te drink; laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding sal wees. Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die proef gestel. En aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het. So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en aan hulle groente gegee. En hierdie vier jong seuns — God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.
DANIËL 1:3-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die koning het vir Aspenas, wat aan die hoof was van die paleisamptenare, opdrag gegee. Hy moes jong manne uit die koninklike families en vooraanstaandes van die Israeliete wat gevange geneem is na hom toe bring. Hulle moes gesond en aantreklik wees, intelligent, goed ingelig en vinnig van begrip, geskik om in die koning se paleis diens te doen. Hulle moes ook verder onderrig word in die taal en letterkunde van die Babiloniërs. Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag kos en drank uit die paleis moes kry. Hulle moes drie jaar lank opgelei word sodat hulle aan die einde daarvan as adviseurs in sy diens kon staan. Daniël, Gananja, Misael en Asarja was onder hierdie jong manne uit Juda. Die hoofamptenaar het vir hulle nuwe name gegee. Daniël het Beltsasar geword, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego. Daniël het egter besluit dat hy nie homself met die koning se kos en drank gaan verontreinig nie. Hy het die hoofamptenaar versoek om nie daarvan te eet nie. God het gemaak dat die hoofamptenaar van Daniël hou en hom goedgesind is. Hy het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal dat julle hierdie kos en drank moet gebruik. As hy sien dat julle nie so goed lyk soos die ander van julle ouderdom nie, gaan julle my kop laat rol by die koning.” Daniël het toe vir die persoon onder wie se sorg die hoofamptenaar Daniël, Gananja, Misael en Asarja geplaas het, gesê: “Toets tog u dienaars vir tien dae. Gee vir ons net groente om te eet en water om te drink. Kyk dan ná tien dae hoe ons voorkoms vergelyk met die jong manne wat wel die koning se kos eet. U kan dan besluit om met u dienaars te maak soos u goeddink.” Hy het met Daniël ooreengekom en hulle tien dae lank op die proef gestel. Aan die einde van die tien dae het Daniël-hulle beter en gesonder gelyk as die jong manne wat die koning se kos geëet het. Daarom het die amptenaar hulle vrygestel van die koning se kos en drank. Hy het vir hulle groente gegee om te eet. God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid. Vir Daniël het Hy die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan.
DANIËL 1:3-17 DB (Die Boodskap)
Die koning het vir Aspenas, die hoofbeampte van die paleis, opdrag gegee om van die jongmense uit die koninklike familie en ook uit die ander belangrike families van Juda te kies en hulle paleis toe te bring. Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis. Aspenas moes hulle ook leer om Galdees, die taal van die Babiloniërs, te lees en te skryf. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle dieselfde kos en wyn as hy en sy gesin moes eet en drink. Hulle moes net die beste kry. Hulle moes vir drie jaar opleiding kry sodat hulle daarna as raadgewers van die koning in sy paleis kon werk. Onder die Judese jongmense wat gekies is, was Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Die hoofbeampte van die paleis het egter vir hulle elkeen ’n ander naam gegee. Vir Daniël het hy Beltsasar genoem, vir Gananja Sadrag, vir Misael Mesag en vir Asarja Abednego. Daniël het besluit om nie van die koning se ryk kos en wyn te eet en te drink nie. Dan sou hy ongehoorsaam wees aan die Israelitiese reëls oor wat ’n mens mag eet en wat nie. Daarom het hy die hoofbeampte van die paleis se toestemming gevra om dit nie te doen nie. Deur God se goedheid het Aspenas baie respek vir Daniël gehad, maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het besluit wat julle moet eet en drink. As jy nie so goed soos die ander jongmense lyk nie, is ek in groot moeilikheid. Hy mag selfs besluit om my dood te maak.” Daniël het toe vir die amptenaar wat deur Aspenas aangestel is om na hom en sy drie vriende om te sien, gesê: “Gee ons tien dae kans om onsself te bewys. Laat ons toe om net water te drink en groente te eet. Vergelyk ons dan met die ander jongmense wat die kos eet wat die koning voorgeskryf het. Besluit dan op grond van wat u sien of ons daarna met ons eie dieet kan aanhou of nie.” Die amptenaar het toe ingestem dat hulle dit vir tien dae kon probeer. Aan die einde van die tien dae het Daniël en sy vriende baie gesonder en sterker gelyk as al die ander jongmense wat die koning se kos geëet het. Van toe af het die amptenaar hulle toegelaat om groente te eet in plaas van die ryk kosse en wyn wat die koning voorgeskryf het. Deur God se goedheid was hierdie vier jongmans besonder slim. Hulle het goeie kennis van die belangrike boeke van daardie tyd gehad en baie wysheid. Boonop het Daniël die gawe gehad om visioene en drome uit te lê.
DANIËL 1:3-17 ABA (Bybel vir almal)
Aspenas was die hoof van die mense wat in koning Nebukadnesar se huis gewerk het. Die koning het vir Aspenas gesê hy moet 'n paar van die Israeliete se seuns bring om vir hom te werk. Die seuns moet familie wees van die koning van Israel, of hulle moet die seuns van belangrike mense wees. Die seuns moet heeltemal gesond en mooi en slim wees. Hulle moet van alles weet en hulle moet sterk wees, sodat hulle in die koning se huis kan werk. Hulle moet eers leer om die taal van die mense van Babel te praat en te skryf. Hulle moet drie jaar lank leer, en dan moet hulle vir die koning kom werk. In daardie drie jaar moet hulle net van die koning se kos eet en van sy wyn drink. Vier van die seuns was Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Hulle het van die land Juda gekom. Aspenas het vir hulle ander name gegee. Hy het vir Daniël genoem Beltsassar, vir Gananja het hy Sadrag genoem, vir Misael het hy Mesag genoem, en vir Asarja het hy Abed-Nego genoem. Daniël het besluit hy wil nie die koning se kos eet en sy wyn drink nie, want as hy dit doen, dan sal hy onrein word. Hy het gevra of Aspenas tevrede sal wees as hy nie die koning se kos eet nie, want hy wil nie onrein word nie. Aspenas het van Daniël gehou en hy was jammer vir hom. God het Aspenas jammer laat voel vir Daniël. Maar Aspenas het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Ek werk vir hom, en hy het gesê wat julle moet eet en drink. As hy sien julle lyk slegter as die ander seuns wat so oud soos julle is, dan sal hy my doodmaak, en dan sal dit julle skuld wees.” Aspenas het vir 'n ander amptenaar gesê hy moet vir Daniël, Gananja, Misael en Asarja sorg. Daniël het toe met daardie amptenaar gaan praat. Hy het gesê: “Toets asseblief ons plan tien dae lank. Gee vir ons groente om te eet en water om te drink. Dan kyk jy hoe lyk ons en hoe lyk die seuns wat die koning se kos geëet het. Dan kan jy besluit wat jy met ons wil doen.” Die amptenaar het gedoen wat Daniël en sy vriende gevra het. Hy het hulle tien dae lank so getoets. Toe die tien dae verby was, het hulle beter en vetter gelyk as al die seuns wat die koning se kos geëet het. Toe het die amptenaar nie weer vir hulle van die koning se kos en wyn gegee nie. Hy het vir hulle net groente gegee. God het daardie vier seuns baie slim gemaak. Hulle het van alles geweet, en Daniël kon ook sê wat dit beteken wanneer iemand droom en iets sien.
DANIËL 1:3-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die koning het Aspenas, die rabsaries, toe aangesê om uit die Israeliete, uit die koninklike familie en die vernames, jong seuns te bring aan wie daar nie enige liggaamsgebrek is nie, wat 'n goeie voorkoms het, wat insig in alle soorte wysheid het, wat oor kennis en goeie oordeelsvermoë beskik, en wat in staat is om in die paleis van die koning te dien, en in die skrif en taal van die Galdeërs onderrig te word. Vir hulle het die koning, volgens die vereistes van elke dag, van die koning se kos en van die wyn wat hy gedrink het, voorgeskryf, sodat hulle vir drie jaar lank opgevoed kon word om aan die einde daarvan in diens van die koning te kan staan. Onder hulle was daar van die Judeërs – Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Maar die toesighouer oor die paleisamptenare, het hulle name vervang: Daniël het hy Beltsasar, Gananja het hy Sadrag, Misael het hy Mesag, en Asarja het hy Abednego genoem. Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie. God het gesorg dat daar by die toesighouer oor die paleisamptenare 'n goeie gesindheid en ontferming was teenoor Daniël. Die toesighouer oor die paleisamptenare het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir my heer die koning, wat vir julle kos en drank voorgeskryf het. Waarom moet hy sien dat julle gesigte maerder is as dié van die ander jong seuns van julle ouderdom? Julle sal maak dat die koning my kop eis.” Daniël sê toe vir die oppasser wat die toesighouer oor die paleisamptenare oor hom, Daniël, en oor Gananja, Misael en Asarja aangestel het: “Toets asseblief u dienaars tien dae lank. Hulle moet ons van die groente gee, sodat ons dit eet, en water, sodat ons dit drink. Laat dan in u teenwoordigheid ons voorkoms en die voorkoms van die ander jong seuns wat die koning se kos eet, nagegaan word. Handel dan met u dienaars volgens wat u sien.” Hy het na hulle geluister wat hierdie saak betref, en hulle tien dae lank getoets. Aan die einde van die tien dae was hulle voorkoms beter en het hulle liggame voller vertoon as al die jong seuns wat die koning se kos bly eet het. Die oppasser het toe hulle kos en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en vir hulle groente bly gee. En hierdie jong seuns, hulle vier – aan hulle het God oordeelsvermoë gegee, en ook insig in allerlei geskrifte en wysheid. Daniël kon alle visioene en drome begryp.
DANIËL 1:3-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die koning het met Aspenas, die heer van sy eunugs, gespreek dat hy sommige van die kinders van Israel en uit die nageslag van die koning en van die vorste moes bring; Kinders in wie geen gebrek was nie, maar welgevallig en bekwaam in alle wysheid en listigheid in kennis en insig in die wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te staan en vir wie hulle die geleerdheid en die taal kon leer van die Chaldeërs. En die koning het vir hulle 'n daaglikse voorraad aangestel van die koning se spys en van die wyn wat hy gedrink het; so het hy hulle drie jaar lank gevoed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kon staan. En onder hulle was uit die kinders van Juda, Daniël, Hanánja, Misael en Asarja; Aan wie die owerste van die eunugs name gegee het, want hy het aan Daniël die naam Béltsasar gegee; en vir Hanánja, van Sadrag; en vir Misael, van Mesag; en vir Asarja, van Abednego. Maar Daniël het in sy hart voorgeneem dat hy hom nie sou verontreinig met die deel van die koning se spys of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars gevra om hom nie te verontreinig nie. En God het Daniël in guns en tere liefde gebring by die owerste van die eunugs. Toe sê die owerste van die hofdienaars vir Daniël: Ek is bang vir my heer die koning wat jou spys en jou drank bepaal het; dan moet julle my my hoof vir die koning in gevaar stel. Toe sê Daniël vir Melzar, wat die owerste van die hofdienaars oor Daniël, Hanánja, Misael en Asarja aangestel het: Beproef u dienaars tog tien dae; en laat hulle ons polsslag gee om te eet en water om te drink. Laat dan ons aangesig voor jou aangesig word en die aangesig van die kinders wat van die deel van die koning se spys eet, en handel met jou dienaars soos jy sien. Hy het toe met hulle ingestem in hierdie saak en hulle tien dae lank getoets. En aan die einde van tien dae het hulle aangesig mooier en vetter van vlees gelyk as al die kinders wat die deel van die koning se vleis geëet het. So het Melzar die deel van hulle vleis en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem; en hulle polsslag gegee. Wat hierdie vier kinders betref, God het aan hulle kennis en vaardigheid gegee in alle geleerdheid en wysheid; en Daniël het verstand gehad in alle gesigte en drome.