DANIËL 2:13-19
DANIËL 2:13-19 Bybel vir almal (ABA)
Toe die koning sê hulle moet die wyse mense doodmaak, het die soldate vir Daniël en sy vriende ook gesoek om hulle dood te maak. Arjok was die hoof van die soldate wat die koning moes oppas, en die koning het gesê hy moet die wyse mense van Babel doodmaak. Arjok het gegaan om dit te doen, maar toe het Daniël met hom gaan praat. Daniël was slim om met Arjok te gaan praat. Hy het vir Arjok gevra: “Hoekom is die koning so kwaad? Hoekom het hy besluit om ons dood te maak?” Arjok het vir Daniël vertel wat gebeur het. Daniël het na die koning toe gegaan en gevra die koning moet 'n bietjie wag, dan sal hy vir die koning sê wat die droom beteken. Daniël het huis toe gegaan en vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat gebeur het. Hy het gebid die God van die hemel moet vir hulle goed wees en vir hom sê wat die koning gedroom het. Dan sal die koning se manne nie vir Daniël en sy vriende doodmaak saam met die ander wyse mense van Babel nie. Die God van die hemel het daardie nag vir Daniël gewys wat die koning gedroom het. Daniël het God geprys.
DANIËL 2:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word. Daarop het Daniël aan Áriog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, 'n slim en verstandige antwoord gegee. Hy antwoord en sê vir Áriog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Áriog aan Daniël die saak meegedeel. Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof.
DANIËL 2:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is toe 'n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word. Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak. Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee. Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie. Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in 'n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys.
DANIËL 2:13-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die bevel is uitgevaardig: “Die wyses moet doodgemaak word!” Hulle soek toe ook Daniël en sy metgeselle om hulle dood te maak. Daarop het Daniël met raad en goeie oordeel gereageer teenoor Ariog, die •aanvoerder van die koning se lyfwag, wat uitgetrek het om die wyses van Babilonië dood te maak. In sy reaksie het hy vir Ariog, die gevolmagtigde van die koning, gevra: “Waarom is die bevel van die kant van die koning dan so streng?” Daarop het Ariog die saak aan Daniël verduidelik, waarna Daniël ingegaan en vir die koning gevra het dat tyd aan hom gegun moes word om die uitleg van die droom aan die koning bekend te maak. Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan sy metgeselle Gananja, Misael en Asarja meegedeel, sodat hulle om ontferming kon pleit by die God van die hemel oor hierdie geheim, en Daniël en sy metgeselle nie om die lewe gebring sou word saam met die res van die wyses van Babilonië nie. Aan Daniël is die geheim toe in 'n nagtelike visioen geopenbaar, waarop Daniël die God van die hemel geprys het.
DANIËL 2:13-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die bevel het uitgegaan dat die wyse manne gedood moes word; en hulle het Daniël en sy maats gesoek om gedood te word. Toe het Daniël met raad en wysheid geantwoord aan Ariog, die owerste van die lyfwag van die koning, wat uitgegaan het om die wyse manne van Babel dood te maak. Hy het geantwoord en vir Ariog, die owerste van die koning, gesê: Waarom is die bevel van die koning so haastig? Toe het Ariog die saak aan Daniël bekend gemaak. Toe het Daniël ingegaan en van die koning gevra dat hy hom tyd sou gee en dat hy die uitlegging aan die koning sou wys. Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan Hanánja, Misael en Asarja, sy metgeselle, bekend gemaak. Dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel sou begeer oor hierdie geheim; dat Daniël en sy maats nie saam met die res van die wyse manne van Babel sou omkom nie. Toe is die geheim in 'n naggesig aan Daniël geopenbaar. Dan het Daniël die God van die hemel geseën.
DANIËL 2:13-19 Die Boodskap (DB)
Hierdie koninklike opdrag, dat al die koning se raadgewers doodgemaak moes word, het ook vir Daniël en sy vriende ingesluit. Hulle is gesoek. Toe Arjok, die bevelvoerder van die koning se lyfwagte, kom om hulle dood te maak, het Daniël met hom gepraat. Hy het sy woorde versigtig gekies en sonder om aanstoot te gee vir Arjok gevra waarom die koning so ’n wrede opdrag gegee het. Arjok het toe vir hom vertel wat presies gebeur het. Daniël het toe dadelik na die koning toe gegaan en vir hom gevra om nie die opdrag te laat uitvoer nie, sodat hy die koning se droom vir hom kon uitlê. Daniël is toe terug huis toe, waar hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel het wat gebeur het. Hy het hulle gevra om tot die God van die hemel te bid om vir hulle goed te wees en om vir hulle te sê wat die geheim van die droom was sodat hulle nie saam met al die ander raadgewers van Babel doodgemaak sou word nie. Daardie selfde nag nog is die geheim in ’n visioen aan Daniël bekendgemaak. Hieroor het Daniël die God van die hemel geprys
DANIËL 2:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Wet is toe uitgevaardig dat hulle almal doodgemaak moet word. Daniël en sy vriende is ook gesoek om tereggestel te word. Daniël het toe Arjok, hoof van die koning se lyfwag, taktvol en diplomaties genader. Arjok se opdrag was om al die raadgewers in Babel dood te maak. Hy het vir Arjok uitgevra: “Waarom is die opdrag van die koning so onverbiddelik?” Arjok het vir Daniël verduidelik waaroor dit gaan. Daniël het toe dadelik na die koning gegaan en uitstel gevra om die koning se droom te verklaar. Toe is Daniël na sy huis toe waar hy sy vriende Gananja, Misael en Asarja hiervan vertel het. Hy het hulle gevra om saam met hom by die God van die hemel te pleit vir hulp om die geheim van die droom te ontrafel sodat Daniël en sy vriende nie saam met die res van die raadgewers in Babel doodgemaak word nie. Die oplossing van die geheim is in ’n gesig in die nag vir Daniël gegee. Daniël het toe die God van die hemel geloof en gesê