DANIËL 2:24-35

DANIËL 2:24-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: “Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê.” Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: “Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê.” Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: “Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?” Daniël het die koning geantwoord: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u 'n droom, 'n visioen gehad. Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u 'n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het. “U het 'n visioen gehad. Daar was 'n groot beeld. Dit was hoog en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, iets skrikwekkends. Die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei. Toe u nog so kyk, breek daar 'n klip los sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit tref die beeld teen die voete van yster en klei en verpletter dit. Die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud is alles fyn gestamp en het geword soos kaf op die dorsvloere wat in die oestyd deur die wind weggewaai word, sodat geen spoor daarvan oorbly nie. Die klip waardeur die beeld getref is, het 'n groot rots geword en het die hele aarde bedek.

DANIËL 2:24-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarop het Daniël ingegaan na Ariog, vir wie die koning aangestel het om die wyses van Babilonië om die lewe te bring. Hy het so vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Babilonië om die lewe bring nie; bring my voor die koning, dan sal ek vir die koning die uitleg gee.” Ariog het toe in groot haas vir Daniël voor die koning gebring en so vir hom gesê: “Ek het 'n man gevind onder die ballinge van Juda wat die uitleg aan die koning bekend kan maak.” Die koning het daarop geantwoord deur vir Daniël, wie se naam Beltsasar was, te sê: “Is jy in staat om die droom wat ek gehad het en sy uitleg aan my bekend te maak?” Daniël het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim waaroor die koning navraag doen, kan die wyses, towenaars, waarsêerpriesters en voorspellers nie vir die koning uitlê nie. Daar is egter 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het aan u, koning Nebukadnesar, bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom, die visioene in u kop terwyl u in u bed was, is die volgende: U, o koning – u gedagtes wat in u bed by u opgekom het, gaan oor wat hierna sal gebeur. Hy wat geheime openbaar, het aan u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is aan my geopenbaar, nie deur wysheid wat by my meer sou wees as by al die lewendes nie, maar ter wille daarvan dat die uitleg aan die koning bekend gemaak sal word, en u die gedagtes van u hart kan ken. U, o koning, het 'n visioen gehad: Kyk, daar was 'n groot beeld. Hierdie beeld was groot, en sy glans buitengewoon. Dit het voor u gestaan; die voorkoms daarvan was vreesaanjaend. Hierdie beeld – sy kop was van die beste goud, sy bors en arms was van silwer, sy maag en heupe van koper, sy bene van yster, sy voete deels van yster en deels van klei. U het nog gekyk, toe daar 'n klip vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie. Dit het die beeld teen sy voete van yster en klei getref en verpletter. Daarop is die yster, koper, silwer en goud saam verpletter, en dit het geword soos kaf vanaf die dorsvloere in die somer. Die wind het dit weggewaai, en geen spoor daarvan kon gevind word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot berg geword en die hele aarde gevul.

DANIËL 2:24-35 Die Boodskap (DB)

Daniël is toe daar weg na Arjok toe wat die opdrag gehad het om al die koninklike raadgewers dood te maak. Hy sê toe vir hom: “Moenie die raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe. Ek sal sy droom se betekenis vir hom verduidelik.” Arjok het dadelik vir Daniël na koning Nebukadnesar toe gevat en vir hom gesê: “Ek het tussen die Judese gevangenes iemand gekry wat U Majesteit se droom kan verduidelik.” Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?” Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het. “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur. Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het. “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends. Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons; sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak. Terwyl u nog so na die beeld kyk, het ’n rots op ’n bonatuurlike manier van die berg af losgebreek en teen die voete van yster en klei vasgerol en hulle totaal verwoes. Die hele beeld het inmekaargeval in ’n hoop yster, klei, brons, silwer en goud. Die rots het dit alles fyngerol soos kaf op ’n dorsvloer. Die wind het opgekom en alles weggewaai sonder dat ’n spoor daarvan oorgebly het. Daarna het die klip begin groei totdat dit ’n berg geword het wat die hele aarde volgemaak het.

DANIËL 2:24-35 Bybel vir almal (ABA)

Daarna het Daniël na Arjok toe gegaan. Arjok moes die wyse mense van Babel doodmaak. Daniël het vir Arjok gesê: “Jy moenie die wyse mense van Babel doodmaak nie. Vat my na die koning toe, dan sal ek vir hom sê wat sy droom beteken.” Arjok het gou vir Daniël na die koning toe gebring en vir die koning gesê: “Ek het 'n man gekry wat vir jou kan sê wat die droom beteken. Dit is een van die gevangenes wat uit Juda gekom het.” Die koning het vir Daniël gevra: “Kan jy vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken?” Daniël se ander naam was Beltsassar. Daniël het vir die koning gesê: “Koning, die wyse mense, al die slim mense, kan nie vir jou sê wat jy wil weet nie. Maar in die hemel is daar 'n God wat kan sê wat mense nie weet nie. Hy het vir jou, koning Nebukadnesar, gewys wat later sal gebeur. Ek sal nou vir jou vertel wat jy gedroom en gesien het toe jy geslaap het: “Jy, Koning, het op jou bed gelê en gedink wat later sal gebeur, en die God wat kan sê wat mense nie weet nie, het vir jou gewys wat sal gebeur. Ek weet nie meer as ander mense nie, maar God het vir my gesê wat die ander mense nie weet nie. Hy wil hê jy moet weet wat die droom beteken. Jy moet die dinge verstaan waaroor jy gedink het. “Koning, jy het iets gesien. Dit was 'n groot beeld wat voor jou gestaan het. Die beeld was groot en dit het geblink. Jy het geskrik toe jy die beeld sien. Die beeld se kop was van skoon goud, sy bors en sy arms was van silwer, sy maag en sy heupe was van brons, sy bene was van yster, en sy voete was van yster en van klei. Jy het gekyk, en toe kom daar 'n klip en dit val op die beeld se voete, op die yster en klei. Die klip het die beeld se voete stukkend geval. Dit was nie 'n mens wat die klip gegooi het nie. Die klip het alles fyngebreek, die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud. “Dit het fyn geword soos die kaf van koring op die dorsvloer in die somer. Die wind het die fyn stukkies van die beeld weggewaai, en niemand het dit weer gesien nie. Maar die klip wat die beeld stukkend geval het, het 'n baie groot klip geword. Dit het die hele aarde toegemaak.

DANIËL 2:24-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarom het Daniël ingegaan na Áriog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee. Toe het Áriog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek het 'n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak. Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak? Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken. U, o koning, het 'n gesig gehad — kyk, daar was 'n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

DANIËL 2:24-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom het Daniël by Ariog ingegaan, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel te vernietig; hy het gegaan en so vir hom gesê: Verdelg die wyse manne van Babel nie; bring my voor die koning in, en ek sal aan die koning die uitlegging te kenne gee. Toe het Ariog Daniël haastig voor die koning ingebring en so vir hom gesê: Ek het 'n man uit die gevangenes van Juda gevind wat die uitlegging aan die koning sal bekend maak. Die koning het geantwoord en vir Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Kan jy die droom wat ek gesien het, en die uitlegging daarvan aan my bekend maak? Daniël het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim wat die koning gevra het, kan die wyse manne, die besweerders, die towenaars, die waarsêers nie aan die koning bekend maak nie; Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar en aan koning Nebukadnésar bekend maak wat aan die einde van die dae sal gebeur. Dit is jou droom en die gesigte van jou hoof op jou bed; Wat u betref, o koning, u gedagtes het op u bed in u gedagtes opgekom wat hierna sou gebeur; en hy wat geheime openbaar, maak u bekend wat sal gebeur. Maar wat my aangaan, hierdie geheim is aan my nie geopenbaar vir enige wysheid wat ek meer het as enige lewende nie, maar ter wille van hulle wat die uitlegging aan die koning bekend sal maak, en dat jy die gedagtes van jou hart kan ken. U, o koning, het gesien, en kyk, daar is 'n groot beeld. Hierdie groot beeld, waarvan die glans uitstekend was, het voor jou gestaan; en die vorm daarvan was verskriklik. Hierdie beeld se kop was van fyn goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy heupe van koper, Sy bene van yster, sy voete deels van yster en deels van klei. U het gesien totdat 'n klip sonder hande uitgekap is, wat die beeld aan sy voete geslaan het wat van yster en klei was, en dit stukkend geslaan het. Toe is die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud saamgebreek, en dit het geword soos die kaf van die somer dorsvloere; en die wind het hulle weggevoer, sodat daar vir hulle geen plek gevind is nie, en die klip wat die beeld getref het, het 'n groot berg geword en die hele aarde gevul.

DANIËL 2:24-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daniël is toe na Arjok toe wat die opdrag van die koning gehad het om die raadgewers in Babel dood te maak. Hy het vir hom gesê: “Moenie die raadgewers van Babel doodmaak nie. Bring my voor die koning dat ek sy droom vir hom kan uitlê.” Arjok het Daniël toe haastig na die koning toe gevat en vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die Judese ballinge gekry wat die koning se droom kan uitlê.” Die koning vra vir Daniël, wat ook as Beltsasar bekend was: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?” Daniël sê toe vir die koning: “Daar is geen raadgewer, besweerder, towenaar of sterrekyker wat die geheim vir die koning kan verklaar nie. Die God van die hemel kan egter geheime verklaar. Hy het vir koning Nebukadnesar bekendgemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. “Die droom wat u gehad het en die gesigte wat u daar op u bed gesien het, is die volgende: U het daar op u bed gelê en dink oor die toekoms. God wat geheime bekendmaak, het u ingelig oor wat gaan gebeur. Die geheim is vir my verklaar, nie omdat ek slimmer is as enigiemand anders nie, maar omdat God wil hê dat die koning moet verstaan waaroor hy gedink het. “O Koning, wat u daar gesien het, was ’n groot beeld wat voor u staan. Dit was baie groot en blink en vreesaanjaend. Die kop van die beeld was van fyn goud gemaak, sy lyf en arms van silwer, sy onderlyf en heupe van brons, sy bene van yster en sy voete deels uit yster en deels uit klei. Terwyl u daarna staan en kyk, het ’n klip sonder dat ’n mens daaraan geraak het, losgebreek en die beeld teen sy voete van yster en klei getref en dit verpletter. Die hele beeld van yster, klei, brons, silwer en goud het inmekaargestort. Dit het geword soos kaf op die dorsvloer wat die wind wegwaai sonder dat daar ’n spoor daarvan oorbly. Die rots wat die beeld verpletter het, het ’n groot berg geword wat die hele aarde bedek het.