DANIËL 4:18-27

DANIËL 4:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Lê dit nou vir my uit, Beltsasar, want geen raadgewer in my koninkryk is in staat om dit vir my uit te lê nie. Jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.” Toe het Daniël, ook genoem Beltsasar, 'n oomblik verstom gestaan, verbyster deur sy gedagtes. Die koning het vir hom gesê: “Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie, Beltsasar.” Beltsasar het geantwoord: “U Majesteit, het die droom maar eerder op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders! Die boom wat u gesien het, wat so groot en sterk geword het dat sy top aan die hemel geraak het, en wat oral op die aarde sigbaar was, waarvan die blare mooi en die vrugte groot was en waaraan daar genoeg kos was vir die hele wêreld, waaronder die wilde diere gebly en in wie se takke die voëls nes gemaak het, die boom is u, U Majesteit. U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan die hemel, u mag strek oor die hele aarde. U Majesteit het 'n wag, 'n engel, uit die hemel uit sien afkom, en hy het gesê: ‘Kap af die boom en verwoes dit, maar bind 'n yster- en 'n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.’ “Dit is die uitleg, U Majesteit, dit is die besluit van die Allerhoogste oor u: U sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil. Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word sodra u erken dat die Hemel regeer. Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.”

DANIËL 4:18-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ ‘Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. En jy, Beltsasar, vertel wat die uitleg is, aangesien geeneen van die wyses in my koninkryk daarin kon slaag om die uitleg aan my bekend te maak nie. Maar jy is in staat daartoe, omdat die gees van die heilige gode in jou is.’ ” Daarop was Daniël, wie se naam Beltsasar was, vir 'n kort tydjie verbysterd, en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning sê toe: “Beltsasar, moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie!” Beltsasar het geantwoord en gesê: “My heer, was die droom maar vir u haters en sy uitleg vir u teenstanders bedoel! Die boom wat u gesien het, “wat gegroei en sterk geword het, waarvan die hoogte tot aan die hemel reik, wat oor die hele aarde sigbaar is, waarvan die blare mooi en sy vrugte baie is, met kos aan hom vir almal, onder wie die diere van die veld woon, en in wie se takke die voëls van die hemel tuis is, “is u, o koning, wat gegroei en sterk geword het. U grootheid het gegroei en tot aan die hemel gereik, en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En dat die koning 'n boodskapper, 'n heilige, gesien het wat uit die hemel neerdaal en sê, ‘Vel die boom en vernietig dit, maar laat die penwortel in die grond, vasgeketting met yster en brons in die groenigheid van die veld, en deur die dou van die hemel sal hy benat word en saam met die diere van die veld deel hê aan die gras totdat sewe tydperke oor hom heen gegaan het, – dit is die uitleg, o koning, en die dekreet van die Allerhoogste wat oor my heer die koning uitgevaardig is: U sal uitgedryf word, weg van mense af, en by die diere van die veld sal u woning wees. U sal gras gevoer word, soos vir beeste, en van die dou van die hemel sal u nat word. Sewe tydperke sal oor u heen gaan, totdat u erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. Dat daar bevel gegee is om die penwortel van die boom te laat staan, beteken dat u koningskap vir u behoue sal bly, sodra u erken dat die hemel heers. Daarom, o koning, mag my raad vir u aanvaarbaar wees: Breek deur die regte optrede met u sonde en met u ongeregtigheid, deur guns te betoon aan armes – miskien sal u voorspoed lank duur.”

DANIËL 4:18-27 Die Boodskap (DB)

“Dit is die droom wat ek gehad het,” het koning Nebukadnesar gesê. “Beltsasar, nou moet jy vir my sê wat dit beteken. Nie een van my ander raadgewers kon dit vir my uitlê nie, maar jy kan, want die Gees van die heilige God is in jou.” Toe Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, dit hoor, was hy aanvanklik so geskok dat hy nie ’n woord kon uitkry nie. Maar die koning het vir hom gesê: “Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou so ontstel nie.” Hierop het Beltsasar hom geantwoord: “O, hoe wens ek tog dat die gebeure wat in hierdie droom voorspel word, eerder met u vyande sou gebeur en nie met U Majesteit nie! U het ’n groot boom gesien wat so groot en sterk geword het dat dit aan die hemel geraak het sodat almal dit kon sien. Dit het mooi blare en baie vrugte gehad waarvan almal kon eet. Die wilde diere het daar gerus en die voëls het daar nes gemaak. Daardie boom is u, U Majesteit! U het magtig en sterk geword; u roem is selfs in die hemel bekend; u mag strek oor die hele aarde. Terwyl U Majesteit nog besig was om te kyk, het ’n hemelse opsigter, ’n engel uit die hemel, gekom en gesê: ‘Kap die boom tot teen die grond af. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op die mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier.’ “Nou sal ek vir U Majesteit die droom se betekenis verduidelik, want dit is wat die allerhoogste God oor u besluit het. U gaan uit die gemeenskap verstoot word sodat u saam met die wilde diere moet gaan bly. Sewe jaar lank sal u gras eet soos ’n bees en in die veld slaap, waar die dou op u sal val. Dan sal u moet erken dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die wêreld regeer en dat Hy die mag kan gee aan wie Hy wil. Die feit dat die engel die opdrag gegee het dat die stomp moet bly staan, beteken dat u weer u koninkryk sal terugkry sodra u geleer het dat die God van die hemel oor alles heers. U Majesteit, luister asseblief na my! Breek met u sonde deur te doen wat reg is en goed te wees vir die armes. Wie weet of u voorspoed nie dalk kan aanhou nie.”

DANIËL 4:18-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Beltsasar, jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van die ander raadgewers in my koninkryk kan dit vir my verklaar nie. Jy kan dit doen, want die gees van die heilige gode is in jou.’” “Daniël, ook genoem Beltsasar, was vir ’n ruk lank verbysterd. Hy was ontsteld oor wat in sy gedagtes opgekom het. Die koning sê toe: ‘Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou omkrap nie.’ “Beltsasar het geantwoord: ‘U Majesteit, ek wens die droom en sy betekenis het eerder met u vyande gebeur. Die boom wat u gesien groei en grootword het sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien, met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nes maak, is u self. U Majesteit, u het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde. “‘U Majesteit, u het ’n heilige bo-aardse wese gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ’n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het. “‘U Majesteit, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor u ’n besluit geneem het. U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil. Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken het dat dit die hemele is wat eintlik regeer. “‘O Koning, luister tog na my raad. Breek met u sondes en doen wat reg is. Los u onregverdigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ’n bietjie langer.’

DANIËL 4:18-27 Bybel vir almal (ABA)

“ ‘Dit is die droom wat ek, Nebukadnesar, gehad het, en jy, Beltsassar, moet vir my sê wat die droom beteken. Al die wyse mense in my land kan nie vir my sê wat dit beteken nie, maar jy kan, want dit is die heilige gode wat jou help.’ ” Daniël, wie se ander naam Beltsassar was, het groot geskrik en baie bang geword. Maar die koning het gesê: “Beltsassar, jy moenie skrik oor die droom en oor wat dit beteken nie.” Beltsassar sê toe: “Koning, dit is 'n slegte droom. Ek wens jou vyande het dit gedroom. Jy het 'n boom gesien wat baie hoog en sterk geword het, die boom het aan die hemel geraak. Al die mense op die aarde kon die boom sien. Daar was mooi blare en baie vrugte aan die boom. Dit was kos vir almal. Al die diere kon onder die boom lewe en al die voëls kon in sy takke woon. Koning, die boom is jy. Jy het koning van die hele aarde geword. Jy het ook gesien daar kom 'n heilige engel uit die hemel en die engel sê: ‘Kap af die boom, kap dit stukkend, maar laat die boom se stam in die grond bly. Sit 'n band van yster en brons om die stam en laat dit tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak, en jy, Nebukadnesar, moet sewe jaar lank wilde plante eet soos die diere.’ “Koning, dit is wat die Hoogste God besluit het. Dit sal met jou gebeur, dit is wat die droom beteken: Die mense sal jou wegjaag. Jy sal in die veld gaan woon saam met die diere. Jy sal gras eet soos 'n bees, en die dou uit die lug sal jou sewe jaar lank natmaak. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees. Die engel het ook gesê die boom se stam moet bly staan. Dit beteken jy sal weer koning word wanneer jy weet dit is God wat regeer, God in die hemel. Daarom, Koning, jy moet doen wat ek vir jou sê: Jy moet ophou om sonde te doen. Jy moet reg doen aan die arm mense en jy moet goed wees vir hulle. Dan sal dit goed gaan met jou.”

DANIËL 4:18-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy, Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou. Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, 'n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom. Die boom wat u gesien het — wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was, en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het — dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En dat die koning 'n bode, naamlik 'n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het — dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom: Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan — u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers. Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.

DANIËL 4:18-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hierdie droom het ek, koning Nebukadnesar, gesien. Nou maak jy, o Béltsasar, die uitlegging daarvan bekend, omdat al die wyse manne van my koninkryk nie in staat is om my die uitlegging bekend te maak nie; maar jy is daartoe in staat; want die gees van die heilige gode is in jou. Toe was Daniël, wie se naam Béltsasar was, een uur lank verbaas, en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom of die uitlegging daarvan jou nie pla nie. Béltsasar antwoord en sê: My heer, die droom is vir die wat u haat, en die uitlegging daarvan vir u vyande. Die boom wat jy gesien het, wat gegroei en sterk was, wie se hoogte tot aan die hemel reik, en sy gesig tot op die hele aarde; wie se blare mooi was en die vrugte daarvan baie, en daarin was voedsel vir almal; waaronder die diere van die veld gewoon het en op wie se takke die voëls van die hemel gewoon het. Dit is u, o koning, wat gegroei en sterk geword het, want u grootheid het gegroei en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En die koning het 'n wagter en 'n heilige uit die hemel sien neerdaal en sê: Kap die boom af en vernietig dit; laat tog die stomp van sy wortels in die aarde, met 'n band van yster en koper, in die sagte gras van die veld; en laat dit nat word met die dou van die hemel, en laat sy deel wees met die diere van die veld, totdat sewe maal oor hom gaan; Dit is die uitlegging, o koning, en dit is die bevel van die Allerhoogste wat oor my heer die koning gekom het: dat hulle jou van die mense sal verdryf, en jou woning sal wees by die diere van die veld, en hulle sal jou gras laat eet soos beeste, en hulle sal jou natmaak met die dou van die hemel, en sewe maal sal by jou verbygaan totdat jy weet dat die Allerhoogste in die koninkryk van die mense heers en dit gee aan wie Hy wil. En omdat hulle beveel het om die stomp van die boomwortels te laat staan; jou koninkryk sal vir jou verseker wees, nadat jy geweet het dat die hemele heers. Daarom, o koning, laat my raad vir U welgevallig wees, en breek U sondes af deur geregtigheid en U ongeregtighede deur barmhartigheid te bewys aan die armes; as dit 'n verlenging van jou rustigheid mag wees.