DEUTERONOMIUM 1:6-46

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat. Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met 'n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’ “Toe julle van Horeb af weg is, het ek vir julle gesê: ‘Ek kan nie alleen al die verantwoordelikheid vir julle dra nie. Die Here julle God het julle baie laat word, en nou is julle net so baie soos die sterre aan die hemel. Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle 'n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het. Hoe kan ek alleen julle probleme oplos, die verantwoordelikheid vir julle dra en julle hofsake verhoor? Bring uit julle stamme verstandige manne, manne met insig, manne van aansien, sodat ek hulle as hoofde oor julle kan aanstel.’ Toe het julle vir my gesê: ‘Wat u wil doen, is reg,’ en ek het die leiers uit julle stamme aanvaar, verstandige manne, manne van aansien, en hulle aangestel as hoofde oor julle, leiers van duisend, van honderd, van vyftig en van tien: amptenare vir julle stamme. In dieselfde tyd het ek ook julle regters beveel: ‘Verhoor die sake wat daar tussen julle volksgenote kom en lewer regverdige uitsprake, of dit nou is tussen volksgenoot en volksgenoot of tussen volksgenoot en vreemdeling. Moenie partydig wees as julle 'n saak verhoor nie, luister na klein en groot. Moenie vir mense bang wees nie. Wie regspreek, is in diens van God. Sake wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring en ek sal hulle verhoor.’ “Ek het julle destyds alles beveel wat julle moet doen.” “Ons het van Horeb af weggetrek en ons het deur daardie groot woestyn met al sy gevare getrek, daardie woestyn wat julle self gesien het. Ons het met die pad na die Bergwêreld van die Amoriete toe getrek soos die Here ons God ons beveel het, en ons het by Kades-Barnea uitgekom. Toe het ek vir julle gesê: ‘Ons het nou die Bergwêreld van die Amoriete bereik. Die Here ons God gee dit vir ons. Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie.’ “Julle almal het toe na my toe gekom en gevra ons moet manne voor ons uit stuur dat hulle die land vir ons kan verken en ons kan kom inlig oor die pad wat ons moet vat en oor die stede waarheen ons op pad is. Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam. Hulle het die Bergwêreld ingegaan en by die Eskolvallei gekom en dit verken. Hulle het van die vrugte van die land na ons toe gebring en vir ons kom sê: ‘Die Here ons God gee ons 'n goeie land.’ “Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God. Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei. Waarheen kan ons nou gaan? Ons broers het ons moed gebreek toe hulle gesê het: Daar woon 'n volk wat groter en sterker is as ons. Hulle het groot stede en sterk, hoë vestings. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar gesien.’ “Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie. Die Here julle God gaan voor julle uit en Hy sal vir julle veg net soos Hy in Egipte voor julle eie oë alles vir julle gedoen het. Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos 'n man sy seun dra.’ Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God wat op die pad voor julle vooruit gegaan het om kampplekke vir julle uit te soek nie. Snags het Hy vir julle julle pad met vuur aangewys en bedags met 'n wolkkolom. “Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en het Hy 'n eed afgelê: ‘Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie. Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien, en aan hom en sy nageslag sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, want hy het die Here getrou gevolg.’ “Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het en gesê het: ‘Ook jý sal nie die land ingaan nie. Jou assistent, Josua seun van Nun, hý sal daar ingaan. Moedig hom aan, want dit is hý wat Israel die land in besit sal laat neem. Julle babatjies van wie julle gesê het hulle sal buitgemaak word, en julle kleuters wat nou nog niks weet nie, hulle sal die land ingaan. Ek gee dit vir hulle en hulle sal dit in besit neem. Julle moet nou omdraai en die woestyn in trek, al met die pad na die Rietsee toe.’ “Toe het julle uitgeroep: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons wil optrek en gaan veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het julle wapens gegryp en gedink dis kinderspeletjies om die Bergwêreld te gaan verower. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Sê vir hulle hulle moenie optrek om te gaan oorlog maak nie, want Ek is nie by hulle nie. Hulle sal nie hulle vyande verslaan nie.’ Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie en in opstand gekom teen die opdrag van die Here. Julle was moedswillig en het na die Bergwêreld toe getrek, maar die Amoriete wat in daardie gebied woon, het teen julle opgeruk en julle verjaag soos 'n swerm bye dit sou doen en julle van Seïr af tot by Gorma uitmekaar gejaag. Toe het dit julle berou dat julle dit gedoen het en julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister nie en Hom nie aan julle gesteur nie. So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het.”

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Bybel vir almal (ABA)

Moses het vir hulle gesê: “Ons God die Here het self by Horeb-berg vir ons gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. Julle moet nou weggaan. Julle moet verder gaan na die Bergland van die Amoriete en na die ander lande daar naby, na die Jordaan-vallei, die Bergland, die Laeveld, die Suid-land en die Seekus, die land van die Kanaäniete en die Libanon-berg. Julle moet gaan tot by die groot rivier, die Eufraat-rivier. Ek gee nou die land vir julle, gaan vat dit vir julle. Die Here het vir julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy die land vir hulle en hulle nageslag sal gee.” Moses het vir hulle gesê: “Ek het in daardie tyd vir julle gesê dat ek alleen nie julle leier kan wees nie. Julle God die Here het julle 'n groot volk gemaak, julle is nou so baie soos die sterre in die lug. Ek bid dat die Here, die God van julle voorvaders, julle nog meer sal maak, 1 000 maal meer, en dat Hy julle sal seën soos Hy belowe het. Maar ek alleen kan nie oordeel wanneer julle probleme het en twis nie. Julle moet 'n paar wyse en verstandige manne kies uit elke stam, manne wat sal weet wat om te doen. Dan sal ek hulle aanstel om julle leiers te wees. “Julle het vir my gesê: ‘Dit is goed, ons sal doen wat jy gesê het.’ “Julle stamhoofde was wyse manne wat geweet het wat om te doen. Ek het hulle aangestel om julle leiers te wees. Party moes leiers wees van 1 000 mense, party was leiers van 100 mense en party was leiers van tien mense. Party moes voormanne wees in die stamme.” “Ek het in daardie tyd vir julle regters gesê: ‘Julle moet goed luister na wat almal sê en julle moet reg oordeel wanneer party Israeliete mekaar beskuldig of wanneer 'n Israeliet en 'n vreemdeling mekaar beskuldig. Julle moenie téén party mense wees en vír ander mense wees nie, julle moet luister na belangrike én na onbelangrike mense. Julle moet vir niemand bang wees nie, want dit is God wat sal sê hoe julle moet oordeel. En as iets te moeilik is vir julle, dan moet julle dit vir my kom sê, dan sal ek luister na wat die mense sê.’ “Ek het toe vir julle gesê wat julle alles moet doen.” “Ons het weggegaan van Horeb-berg en ons het deur daardie groot woestyn gegaan, julle weet hoe bang ons daar was. Ons het op die pad geloop na die Bergland van die Amoriete en ons het by die stad Kades-Barnea gekom. Ek het toe vir julle gesê: ‘Julle het gekom by die Bergland van die Amoriete, die land wat julle God die Here vir julle gee. Julle God die Here gee hierdie land vir julle, gaan vat dit vir julle. Die Here, die God van julle voorvaders, het gesê julle moet dit doen. Julle moenie bang wees nie.’ “Maar toe het julle almal na my toe gekom en gesê: ‘Kom ons stuur eers manne wat oral in die land kan gaan kyk en wat vir ons kan kom sê op watter pad ons moet gaan en hoe die stede is waar ons sal kom.’ “Ek het gedink dit is goed en ek het twaalf manne gekies, een man uit elke stam. Die manne het weggegaan en hulle het deur die Bergland gegaan. Hulle het tot by die Druiwe-vallei gegaan en hulle het gekyk hoe die land is. Hulle het van die vrugte van die land saamgebring en vir ons kom sê: ‘Dit is 'n goeie land wat ons God die Here vir ons gee.’ “Maar julle wou nie gaan nie, julle was opstandig teen julle God die Here. Julle het in julle tente gesit en kla. Julle het gesê: ‘Die Here haat ons, daarom het Hy ons uit die land Egipte gebring om ons vir die Amoriete te gee sodat hulle ons kan doodmaak. Ons kan nie nou in die land ingaan nie. Die manne wat gaan kyk het hoe die land is, het ons moedeloos laat word, want hulle het gesê daardie mense is groter en sterker as ons, en die sterk mure van hulle stede is so hoog soos die hemel. Hulle het daar ook Enak-mense gesien.’ “Ek het vir julle gesê: ‘Nee, julle moenie skrik vir hierdie mense nie, julle moenie bang wees nie. Julle God die Here loop voor julle, Hý sal julle help en Hy sal die oorlog vir julle veg, julle het gesien hoe Hy dit gedoen het in die land Egipte en in die woestyn. Kan julle onthou hoe julle God die Here vir julle gedra het? Hy het julle gedra soos 'n man sy kind dra. Die Here het dit gedoen op die hele pad waarop julle geloop het, tot hier.’ “Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nog nie geglo dat die Here julle sal lei nie, die Here wat vir julle op die pad gelei het en wat gekyk het waar julle die tente kan opslaan, die Here wat vir julle gewys het waar die pad is. In die nag het Hy dit met 'n vuur gewys en in die dag met 'n wolk. Toe die Here hoor wat julle sê, het Hy kwaad geword. Hy het gesê: ‘Nie een van hierdie manne sal die goeie land sien wat Ek vir hulle voorvaders belowe het nie, niemand van hierdie slegte geslag nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien. Ek sal vir hom en sy kinders die land gee waar hy geloop het, want hy het aangehou om in die Here te glo.’ “Die Here het vir my ook kwaad geword oor julle. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal ook nie in die land kom nie. Josua seun van Nun, die man wat vir jou werk, hý sal in die land kom. Jy moet hom sterk maak en vir hom leer om die werk te kan doen wat hy moet doen, want hy sal die Israeliete lei om die land vir hulleself te vat. Julle kinders sal ook in die land ingaan. Julle het gesê die Amoriete sal julle kinders vang en wegvat, maar julle kinders sal in die land ingaan, julle kinders wat nou nie weet wat reg is en wat verkeerd is nie. Ek sal die land vir hulle gee, en hulle sal dit vir hulleself vat. Maar julle, julle moet weggaan en na die woestyn gaan op die pad na die Riet-see.’ “Julle het toe vir my gesê: ‘Ons het verkeerd gedoen teen die Here, ons sal self oorlog gaan maak, ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.’ “En toe het julle al julle wapens geneem, julle het gedink julle sal maklik in die Bergland kan ingaan. Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy moet vir hulle sê: Julle moenie oorlog gaan maak nie, want Ek sal nie by julle wees nie, en julle sal verloor teen julle vyande.’ “Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Julle was opstandig teen die Here, julle was hoogmoedig en julle het in die Bergland ingegaan. En toe het die Amoriete wat in daardie Bergland woon, gekom en hulle het vir julle aangeval. Hulle het julle gevolg en gejaag soos 'n swerm bye van die land Seïr tot by die stad Gorma. Julle het teruggekom en by die Here gekla en gehuil. Maar Hy het nie na julle geluister nie. Julle het toe lank by die stad Kades gebly, so lank soos voorheen.”

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus — die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle. En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen 'n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem. So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen. Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom. En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het. En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken. Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die HERE onse God aan ons sal gee, is goed. Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg. Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons hart laat versmelt deur te sê: Dit is 'n volk groter en hoër van gestalte as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie. Die HERE julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos 'n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het. Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie, wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle 'n plek uit te soek om julle laer op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk. En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê: Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met 'n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie — behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die HERE te volg. Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, sodat Hy gesê het: Jy sal daar ook nie inkom nie. Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan — hý sal daar inkom; versterk hom, want hý sal Israel dit laat beërwe. En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal 'n buit word! en julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie — húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem. Maar julle, draai om en trek weg na die woestyn op pad na die Skelfsee. Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek, het die HERE vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie — want Ek is nie in julle midde nie — dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie. Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel in die gebergte opgetrek. Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma. En julle het teruggekom en voor die aangesig van die HERE geween, maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie. So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Die HERE ons God het by Horeb met ons gepraat. Hy het gesê, ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Breek julle kamp op en trek na die bergland van die Amoriete en al die omliggende gebiede: die Araba, die bergland, die Sjefela, die Negev en die kusvlakte – dit wil sê, die land van die Kanaäniete en ook die Libanon en die gebied tot by die groot rivier, die Eufraat. Kyk, Ek bied vir julle die land aan. Gaan en neem die land in besit wat Ek, die HERE, met 'n eed aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle en hulle nageslag ná hulle te gee.’ “In daardie tyd het ek, Moses, vir julle gesê, ‘Ek kan julle nie meer alleen dra nie. Die HERE julle God het julle baie laat word. Kyk, julle is nou al so baie soos die sterre aan die hemelruim. Mag die HERE, die God van julle voorvaders, julle nog 'n duisend maal meer maak, ja, mag Hy julle seën soos Hy vir julle gesê het. Maar hoe kan ek alleen julle laste dra, julle probleme en geskille? Bring vir julle uit elke stam verstandige manne met insig en ervaring sodat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.’ “Julle het my daarop geantwoord en gesê, ‘Wat u gesê het ons moet doen, is goed.’ Ek het toe julle stamhoofde geneem, verstandige manne met ervaring, en hulle as hoofde oor julle aangestel: •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien, as opsieners oor julle stamme. “ Ek het in daardie tyd julle regters opdrag gegee en gesê, ‘Luister na albei partye en gee 'n regverdige uitspraak tussen volksgenote, en ook tussen 'n volksgenoot en 'n •vreemdeling by hom. Moenie partydig wees in 'n regsaak nie. Luister na die onbelangrike persoon soos julle na die belangrike persoon sou luister. Moet julle nie deur 'n mens laat afdreig nie, want die regspraak is 'n saak van God. 'n Saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, dan sal ek dit verhoor.’ So het ek julle in daardie tyd beveel wat julle alles moet doen. “ Ons het toe by Horeb kamp opgebreek en deur daardie groot en vreesaanjaende woestyn, wat julle self gesien het, getrek. Soos die HERE ons God ons beveel het, het ons met die pad na die bergland van die Amoriete getrek en by Kades-Barnea uitgekom. Daar het ek vir julle gesê, ‘Julle het die bergland van die Amoriete bereik wat die HERE ons God vir ons gaan gee. Kyk, die HERE julle God bied die land vir julle aan. Trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van julle voorouers, vir julle gesê het. Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie.’ “Maar julle het almal na my gekom en gesê, ‘Ons wil manne voor ons uitstuur sodat hulle vir ons die land kan verken en aan ons verslag kan lewer oor die pad waarlangs ons moet optrek, en oor die stede waarby ons gaan uitkom.’ Ek het dit goed gevind en het toe twaalf van julle manne aangewys, een uit elke stam. Hulle het vertrek en in die bergland opgegaan. Hulle het tot by die Eskoldal gevorder, dit verken, van die vrugte van die land geneem en dit afgebring na ons toe. Hulle het aan ons verslag gelewer en gesê, ‘Dit is 'n goeie land wat die HERE ons God vir ons gaan gee.’ “ Maar julle was nie bereid om op te trek nie. Julle was opstandig teen die bevel van die HERE julle God en het in julle tente gesit en mor en gesê, ‘Dit is omdat die HERE ons haat dat Hy ons uit Egipteland uitgelei het om ons in die hand van die Amoriete oor te gee en om ons uit te delg. Waar moet ons nou heen gaan? Ons volksgenote het ons laat moed verloor toe hulle gesê het dat daar mense is wat groter en langer is as ons, dat daar groot stede is wat hemelhoog versterk is en dat hulle selfs Enakiete daar gesien het.’ “ Ek het vir julle gesê, ‘Julle mag nie paniekerig raak nie en julle mag nie vir hulle bang wees nie. Die HERE julle God wat voor julle uit gaan, Hy self sal vir julle veg net soos al die vorige kere toe Hy dit voor julle oë vir julle gedoen het in Egipte en in die woestyn. Daar het julle gesien dat die HERE julle God julle die hele pad wat julle gekom het tot op hierdie plek dra, soos 'n man sy seuntjie dra.’ “Ondanks dié versekering het julle geen vertroue gestel in die HERE julle God nie, Hy wat voor julle uit gegaan het op die pad om telkens vir julle 'n plek uit te soek waar julle kon kamp en wat snags met die vuur en bedags met die wolk vir julle die pad gewys het waarlangs julle moes trek. Die HERE het daardie woorde van julle duidelik gehoor en toornig geword. Hy het 'n eed gesweer en gesê, ‘Niemand van hierdie manne, hierdie slegte geslag, sal die goeie land sien wat Ek plegtig beloof het om aan julle voorouers te gee nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefunne. Hy sal die land sien en vir hom en sy kinders sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, omdat hy volkome getrou gebly het aan My, die HERE.’ “ Ook op my was die HERE toornig deur julle toedoen. Hy het gesê, ‘Ook jy sal nie daar ingaan nie. Josua, die seun van Nun, wat in jou diens is, hy sal daar ingaan; hom moet julle ondersteun, want hy is die een wat Israel die land in besit sal laat neem. Julle klein kindertjies wat julle gedink het oorlogsbuit gaan word en julle groter kinders wat nou nog nie die verskil tussen goed en kwaad ken nie, hulle sal daar ingaan; vir hulle sal Ek dit gee, ja, hulle sal dit in besit neem. Maar wat julle betref: Draai weg, trek die woestyn in, in die rigting van die Rietsee. ’ “Julle het toe daarop geantwoord en vir my gesê, ‘Ons het teen die HERE gesondig! Ons sal optrek en gaan veg net soos die HERE ons God ons beveel het.’ Julle het toe ook elkeen sy oorlogswapens aangegord, omdat dit vir julle maklik gelyk het om in die bergland op te gaan. Maar die HERE het vir my gesê, ‘Sê vir hulle: “Julle mag nie optrek nie en julle mag nie gaan oorlog maak nie, want Ek is nie in julle midde nie. Julle mag nie deur julle vyande verslaan word nie.” ’ Ek het dit vir julle gesê, maar julle wou nie luister nie. Julle was opstandig teen die bevel van die HERE en het selfversekerd in die bergland opgetrek. Die Amoriete wat in daardie bergland woon, het uitgetrek om teen julle te veg. Hulle het julle gejaag soos 'n swerm bye 'n mens jaag en julle uitmekaar laat spat van Seïr af tot by Gorma. Nadat julle teruggekom het, het julle voor die HERE gaan huil; maar Hy wou nie na julle gekerm luister nie en het nie aan julle aandag gegee nie. Julle het toe lank by Kades gebly – 'n baie lang tyd.”

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg op hierdie berg gebly. Draai om en trek weg en gaan na die berg van die Amoriete en na al die plekke daar naby, in die vlakte, in die heuwels en in die laagte en in die suide en langs die see, om die land van die Kanaäniete en tot by die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. Kyk, Ek stel die land aan julle voor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het om aan hulle en aan hulle nageslag ná hulle te gee. En ek het in daardie tyd met julle gespreek en gesê: Ek is nie in staat om julle alleen te dra nie. Die HERE julle God het julle vermenigvuldig, en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. (Die HERE, die God van julle vaders, maak julle duisend maal soveel meer as julle, en seën julle soos Hy julle beloof het!) Hoe kan ek alleen jou lastigheid en jou las en jou twis dra? Neem vir julle wyse manne en verstandige en bekendes onder julle stamme, en Ek sal hulle heersers oor julle aanstel. En julle het my geantwoord en gesê: Dit is goed vir ons om te doen wat u gespreek het. Toe het ek die owerstes van julle stamme, wyse manne en bekendes, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en owerstes onder julle stamme. En ek het julle regters in dié tyd bevel gegee en gesê: Hoor die regsake tussen julle broers en oordeel regverdig tussen elkeen en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. Julle mag mense in die oordeel nie eerbiedig nie; maar julle sal die klein sowel as die groot hoor; julle moet nie bang wees vir die aangesig van die mens nie; want die oordeel is aan God; en die saak wat vir julle te swaar is, bring dit na my toe, en ek sal dit verhoor. En ek het julle in daardie tyd al die dinge beveel wat julle moet doen. En toe ons van Horeb af weggetrek het, het ons deur die hele groot en vreeslike woestyn getrek wat julle gesien het op die pad van die berg van die Amoriete, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het in Kades-Barnea gekom. En ek het vir julle gesê: Julle het gekom by die berg van die Amoriete wat die HERE onse God aan ons sal gee. Kyk, die HERE jou God het die land voor jou gestel; trek op en neem dit in besit, soos die HERE, die God van jou vaders, aan jou gesê het; moenie bang wees nie, en wees nie moedeloos nie. En julle het elkeen van julle nader na my toe gekom en gesê: Ons sal manne voor ons uit stuur, en hulle sal vir ons die land deursoek en ons vertel op watter pad ons moet optrek en na watter stede ons sal kom. En die woord het my goed behaag: en ek het twaalf manne van julle geneem, een uit 'n stam. En hulle het omgedraai en op die berg geklim en by die dal Eskol gekom en dit deursoek. En hulle het van die vrug van die land in hul hande geneem en dit na ons toe gebring en ons laat weet en gesê: Dit is 'n goeie land wat die HERE onse God aan ons sal gee. Maar julle wou nie optrek nie, maar was opstandig teen die bevel van die HERE julle God. En julle het in julle tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons gehaat het, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete te gee om ons te vernietig. Waarheen sal ons optrek? ons broers het ons hart ontmoedig deur te sê: Die volk is groter en langer as ons; die stede is groot en ommuur tot aan die hemel; en bowendien het ons die seuns van die Enakiete daar gesien. Toe sê ek vir julle: Wees nie bevrees of bevrees vir hulle nie. Die HERE jou God wat voor jou uit trek, Hy sal vir jou veg volgens alles wat Hy voor jou oë in Egipte aan jou gedoen het; En in die woestyn, waar jy gesien het dat die HERE jou God jou gebaar het, soos 'n man sy seun baar, op al die pad wat julle getrek het, totdat julle in hierdie plek gekom het. Maar in hierdie saak het julle die HERE julle God nie geglo nie, wat voor julle uit op die pad gegaan het om vir julle 'n plek te soek om julle tente in op te slaan, snags in vuur, om julle aan te dui op watter pad julle moet gaan, en in 'n wolk bedags. En die HERE het die stem van julle woorde gehoor en toornig geword en gesweer en gesê: Daar sal sekerlik nie een van hierdie manne van hierdie bose geslag daardie goeie land sien wat Ek met 'n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie, Verlos Kaleb, die seun van Jefunne; hy sal dit sien, en aan hom sal Ek die land gee waarop hy vertrap het, en aan sy kinders, omdat hy die HERE volkome gevolg het. Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil en het gesê: Jy mag ook nie daar ingaan nie. Maar Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan, hy moet daar ingaan; bemoedig hom, want hy sal Israel dit laat beërwe. En julle kindertjies wat julle gesê het dat dit 'n prooi moet word, en julle kinders wat in dié dag geen kennis gehad het van goed en kwaad nie, hulle sal daarheen ingaan, en Ek sal dit aan hulle gee, en hulle sal dit in besit neem. Maar wat jou betref, draai jou om en trek die woestyn in op die pad van die Rooi See. Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig, ons sal optrek en veg volgens alles wat die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens omgord het, was julle gereed om die heuwel op te klim. En die HERE het vir my gesê: Sê vir hulle: Moenie optrek en veg nie; want Ek is nie onder julle nie; dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie. Daarom het ek met julle gespreek; en julle het nie geluister nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel op die heuwel geklim. En die Amoriete wat op daardie berg gewoon het, het teen jou uitgetrek en jou agtervolg, soos bye doen, en jou in Seïr verdelg tot by Horma. En julle het teruggekeer en voor die aangesig van die HERE geween; maar die HERE het na jou stem nie geluister en na jou nie geluister nie. So het julle dan baie dae in Kades gebly, volgens die dae wat julle daar gebly het.

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Die Boodskap (DB)

“Toe ons nog by die berg Horeb was,” so het Moses sy lang rede begin, “het die Here gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Trek nou die land binne wat Ek aan julle beloof het. Slaan julle tente op en gaan na die bergland waar die Amoriete aan die westekant van die Jordaan bly. Verslaan die volke in die woestyndele, op die berge, in die kusvlakte en in die Suidland tot aan die kus van die Middellandse See. Trek die land van die Kanaäniete binne en oorwin die hele gebied van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat. Hierdie hele land gee Ek vir julle. Gaan vat dit vir julle. Dit is die land wat Ek nog aan Abraham, Isak, Jakob en hulle nageslag beloof het.’” Moses het vir die volk gesê: “Julle sal nog onthou hoe ek by Horeb vir julle gesê het dat ek julle nie alleen kan help of lei nie. Die Here julle God het julle ’n groot volk gemaak. Ja, julle is al so baie soos die sterre aan die hemel. Mag die Here julle nog duisendvoudig vermeerder soos Hy julle voorouers beloof het. En mag julle almal ryk en gelukkig wees. Julle probleme het egter vir my te swaar geword. Ek alleen kan tog nie met al julle daaglikse probleme en hofsake help nie. Toe het ek vir julle gesê om verstandige en ervare mans uit elke stam van die volk aan te stel. Hulle moes julle dan lei en help. En julle het ingestem. Ek het toe mos hierdie verstandige en ervare mense as stamleiers aangestel. Hulle moes julle met die administrasie en die organisasie van die stamme help. Sommige het ek oor 1 000 mense, ander oor 100, 50 of tien mense aangestel. Vir elke stam was daar ook ’n sekretaris. “Destyds het ek vir die regters gesê om altyd fyn na elkeen se saak te luister. Al was dit maar net ’n saak tussen ’n man en sy broer of die vreemdeling wat by hom woon, moes die regters regverdig oordeel. Hulle moes altyd onpartydig wees. Klein en groot moes billik verhoor word. Regters moes vir niemand bang wees nie, want die Here was by hulle. En as daar moeilike sake was, moes hulle dit na my toe bring. “In daardie tyd toe ons nog by Horeb was, het ek julle ook nog ander voorskrifte gegee waarvolgens julle moes lewe.” “Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom. Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee. ‘Kyk,’ het ek gesê, ‘die Here julle God het hierdie land aan julle gegee. Trek in en vat dit vir julle. Dit is wat die Here, die God van julle voorvaders, wil hê julle moet doen. En moenie bang wees nie. Trek net in.’ “Julle het egter na my toe gekom en gesê ons moet eers mense instuur om die land te gaan verken. Hulle moes ons van die roetes vertel en van die stede wat ons langs die pad gaan kry. Dit het vir my goed geklink en ek het twaalf mense, een uit elke stam, gekies om die land te gaan verken. Hulle is die bergland in en het so ver as die vallei van Eskol gekom. Hulle het van die vrugte gepluk en dit teruggebring. Hulle het ook kom vertel dat die land wat die Here vir ons gee, baie mooi is. Maar julle wou nie optrek nie. Toe het julle teen die Here in opstand gekom. Julle het in julle tente onder mekaar gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons net uit Egipte gelei sodat die Amoriete ons kan vernietig. En waar moet ons nogal in die nuwe land gaan woon? Ons is bang, want die verkenners het gesê dat die mense van die land baie meer en baie groter is as ons. En dat hulle in groot stede met baie hoë mure woon. Verder het hulle ook nog reuse daar gesien.’ “Ek het toe vir julle gesê om nie bang te wees nie. En dat die Here voor julle uit sal gaan en vir julle sal veg soos Hy destyds in Egipte gedoen het. Julle het self gesien hoe Hy julle in die woestyn gehelp het, net soos ’n man sy seun help. En hoe Hy julle tot by hierdie plek gelei het. Nogtans wou julle nie die Here julle God vertrou nie. Elke dag het Hy vir julle ’n plek gesoek om te kamp. Snags het Hy julle die pad met ’n groot vuur gewys en bedags met ’n wolk. Nogtans wou julle Hom nie vertrou nie.” “Die Here het alles gehoor wat julle gesê het en Hy was kwaad, maar ook teleurgesteld. Dit is hoekom die Here vir julle gesê het: ‘Nie een van julle ongelowige spul sal die goeie land sien wat Ek vir julle wou gee nie. Slegs Kaleb die seun van Jefunne sal die land sien wat Ek vir julle gee. Hy was getrou aan My. Daarom gee Ek ’n deel van die land vir hom en sy kinders.’ “Oor al julle ongehoorsaamheid het die Here ook vir my kwaad geword en gesê: ‘Moses, selfs jy sal nie die land binnegaan nie. Jou helper, Josua die seun van Nun, sal dit wel sien. Praat hom moed in, want hy is die een wat Israel die nuwe land sal inlei.’ Die Here het verder vir almal gesê: ‘Julle klein kindertjies wat nog nie mooi weet wat reg en verkeerd is nie, sal die land binnetrek. Julle het gesê die vyand sal nog julle kinders in die woestyn doodmaak, maar Ek sal die Beloofde Land vir húlle gee. Die res van julle kan net sowel nou omdraai en deur die woestyn na die Skelfsee teruggaan. Julle sal die land wat Ek julle beloof het, nooit sien nie.’ “Toe julle dit gehoor het, het julle gesê: ‘Moses, ons het drooggemaak. Soos die Here vir ons gesê het, sal ons sommer dadelik die land binneval.’ En kan julle nog onthou wat toe gebeur het? Elkeen het sy wapens geneem en wou die land sommerso binneval. “Toe het die Here weer gesê: ‘Moses, keer hulle. Ek gaan beslis nie saam met hulle nie. Daarom sal die vyand hulle vernietig.’ Ek het julle alles vertel wat die Here gesê het, maar weer het julle nie geluister nie. Julle het julle weer nie aan Hom gesteur nie en die land binnegeval. Toe het die Amoriete wat in die berge woon, op julle toegesak en julle soos bye agtervolg. Hulle het julle tot so ver as Horma en Edom verdryf. Julle het teruggekom en voor die Here gehuil, maar Hy het gemaak of Hy julle nie hoor nie. Daarna het ons ’n baie lang tyd in Kades-Barnea gebly.”

DEUTERONOMIUM 1:6-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Toe ons by Sinaiberg was, het die HERE ons God vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. “‘Dit is tyd om die kamp af te slaan en aan te beweeg. Trek na die bergwêreld van die Amoriete en na al die naburige streke toe – die Jordaanvallei, die bergwêreld, die laeveld, die Negevgebied en die kusvlakte. Gaan na die land van die Kanaäniete en die Libanon tot by die groot Eufraatrivier. Hierdie gebied gee Ek vir julle. Trek in die land in en neem dit in besit. Die HERE het gesweer dat Hy hierdie land aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob en aan hulle nageslag sal gee.’” “Ek het toe al vir julle gesê: ‘Julle is ’n te groot las om alleen te dra. Die HERE julle God het julle so baie soos die sterre gemaak. Mag die HERE, die God van julle voorouers, julle selfs duisend keer meer laat word. Mag Hy julle seën soos wat Hy beloof het. Hoe sou ek alleen al julle twis en probleme kan oplos? Kies uit julle stamme mans met wysheid, begrip en aansien en ek sal hulle as julle leiers aanstel.’ “Julle het saamgestem dat my plan ’n goeie een was. Ek het toe die wyse en gerespekteerde mans wat julle uit julle stamme gekies het, aangestel om julle as regters en amptenare te dien. Sommige was verantwoordelik vir 1 000 mense, ander vir 100, ander weer vir 50 en sommige vir tien. Ek het hulle wat as regters optree, beveel: ‘Julle moet te alle tye regverdig wees, nie net teenoor mede-Israeliete nie, maar ook teenoor die vreemdelinge wat tussen julle woon. Wanneer julle uitsprake lewer, moenie die ryk mense bevoordeel nie. Wees ewe regverdig teenoor belangrike en onbelangrike mense. Moenie bang wees oor hoe hulle sal reageer nie, want julle tree namens God as regters op. Bring die sake wat vir julle te moeilik is na my toe, ek sal dit self hanteer.’ Toe het ek julle alreeds alles beveel wat julle moet doen.” “Ons is toe weg van Sinaiberg af en het deur die groot en skrikwekkende woestyn getrek, wat julle self gesien het. Van daar het ons na die bergwêreld van die Amoriete toe getrek – dit alles net soos wat die HERE ons God ons beveel het. Toe ons by Kades-Barnea kom, het ek vir julle gesê: ‘Nou het ons die heuwelgebied van die Amoriete bereik wat die HERE ons God aan ons gegee het. Kyk! Die HERE ons God plaas hierdie land voor ons. Gaan en neem dit in besit soos wat die HERE, die God van ons voorouers, ons belowe het. Moenie bang wees nie! Moenie moed verloor nie!’ “Maar julle het gereageer: ‘Laat ons eers verkenners uitstuur om die land vir ons te gaan deurkyk. Hulle sal ons dan kan raadgee oor watter roete die beste sal wees. Hulle sal ook kan besluit watter stede om in te neem.’ Dit het vir my na ’n goeie idee gelyk en ek het twaalf verkenners uitgekies, een van elke stam. Hulle het toe die Bergwêreld ingegaan, by die Eskolvallei uitgekom en dit verken. Hulle het ook van die vrugte gepluk en daarvan na ons toe teruggebring. Hulle het gerapporteer dat die land wat die HERE ons God vir ons gee, inderdaad ’n goeie land is.” HERE “Maar julle het teen die bevel van die HERE julle God in opstand gekom en wou nie optrek nie. Julle het in julle tente gemor en gekla en gesê: ‘Die HERE haat ons. Hy het ons uit Egipte laat trek sodat die Amoriete ons kan uitroei. Hoe kan ons aangaan? Ons verkenners het ons met hulle verslag banggepraat. Hulle sê dat die mense van die land groter en sterker as ons is en dat die mure van hulle stede tot aan die hemel raak! Hulle het daar selfs die reuse, nageslag van Enak, gesien!’ “Maar ek het vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie! Die HERE julle God gaan voor julle uit. Hy sal vir julle veg, net soos Hy voor julle oë in Egipte gedoen het. Hier in die woestyn het julle gesien hoe die HERE julle God keer op keer vir julle gesorg het, net soos ’n pa vir sy kind sou sorg. Hy het julle tot hiertoe gebring.’ Selfs na alles wat Hy gedoen het, het julle nog bly weier om die HERE julle God te vertrou. Hy het voor julle uitgegaan om die beste staanplekke uit te soek. Snags het Hy julle pad met vuur verlig en bedags was daar ’n wolk oor julle. “Toe die HERE hoor hoe julle kla, het Hy kwaad geword. Hy het plegtig gesweer: ‘Nie een van julle uit hierdie slegte geslag sal bly lewe om die goeie land wat Ek aan julle voorouers met ’n eed beloof het, te sien nie. Net Kaleb, die seun van Jefunne, sal die land sien omdat hy die HERE enduit gevolg het. Ek sal aan hom en sy nageslag ’n deel gee van die land waaroor hy geloop het toe hy die land verken het.’ “As gevolg van julle was die HERE ook vir my kwaad. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal nooit die Beloofde Land ingaan nie. Jou assistent, Josua, die seun van Nun, sal die volk die land inlei. Bemoedig hom in sy voorbereidings om die land in te trek. Ek sal die land aan julle onskuldige kinders gee. Julle was bang dat hulle gevange geneem sou word, maar hulle sal die mense wees wat die land in besit sal neem. Wat julle betref, draai nou om en gaan terug na die woestyn toe in die rigting van die Rietsee.’ “Toe het julle bely: ‘Ons het teen die HERE gesondig! Ons sal die land ingaan en daarvoor veg soos die HERE ons God ons beveel het.’ Julle mans het toe julle wapens om julle vasgebind en gedink dit is maklik om die Bergwêreld te verower. “Die HERE het toe vir my gesê: ‘Sê vir hulle om nie aan te val nie, want Ek gaan nie saam met hulle nie. As hulle sou aanval, sal die vyand hulle verslaan.’ “Ek het dit so vir julle gesê, maar julle wou nie luister nie. Julle het eerder teen die bevel van die HERE in opstand gekom en ewe arrogant die Bergwêreld ingetrek om te gaan veg. Die Amoriete wat daar bly, het soos ’n swerm bye teen julle opgeruk. Hulle het julle verjaag en verslaan al die pad van Seïr af tot by Gorma. Julle het toe omgedraai en in die teenwoordigheid van die HERE kom huil, maar Hy het geweier om na julle te luister. Dit is waarom julle so lank daar by Kades gebly het.”