DEUTERONOMIUM 32:1-4
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Moses het gesê: “Hemel, jy moet luister, ek wil praat, die aarde moet hoor wat ek sê. Ek bid dat die dinge wat ek vir die mense leer, sal wees soos reën wat drup, ek bid dat die dinge wat ek sê, sal wees soos sagte reën op gras, soos reën op groen plante. Want ek wil skree en die Naam van die Here sê, ek wil sê dat die Here groot en goed is. Hy is die Rots, sy werk is heeltemal reg, Hy doen altyd reg. Hy is 'n God wat altyd dieselfde bly, Hy doen niks verkeerd nie, Hy is regverdig en eerlik.
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LUISTER, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Hoor, hemele, ek praat, luister na my woorde, aarde! My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan. Ek wil die Naam van die Here roem. Prys ons God om sy grootheid! Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Luister hemele, ek wil praat, en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor. Mag my onderrig neerstuif soos reën, my woorde drup soos dou, soos deurdringende reën op groen gras, soos reënbuie op plante. Ja, die Naam van die HERE roep ek uit, Erken die grootheid van ons God, die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is 'n maatstaf. 'n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy.
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Luister, o hemele, en Ek sal spreek; en hoor, o aarde, die woorde van my mond. My leer sal drup soos die reën, my spraak sal drup soos die dou, soos die klein reën op die sagte kruie en soos die buie op die gras. Omdat ek die Naam van die HERE sal verkondig; gee grootheid aan onse God. Hy is die Rots, sy werk is volmaak, want al sy weë is oordeel: 'n God van waarheid en sonder ongeregtigheid, regverdig en reg is Hy.
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Die Boodskap (DB)
“Hoor, almal wat daar bo in die hemel bly. Luister na wat ek sê. Hoor, almal wat op aarde bly. Luister na die woorde wat ek sê. Wat ek julle gaan leer, gaan soos verkwikkende reënwater oor julle spoel. My woorde klink so aangenaam soos dou op die gras. My woorde val soos reëndruppels op jong gras wat pas uitgeloop het. Wat ek leer, is soos sagte reënbuie op jong plante. “Ek wil vir almal vertel van die Here. Ons God is wonderlik! Hy is die Rots waarop ons ons lewe bou, en ons is veilig omdat ons by Hom is. Alles wat Hy doen, is goed en reg. Hy tree altyd reg en goed teenoor almal op. Hy staan by ons, en Hy doen nooit iets verkeerds teenoor ons nie. Hy tree altyd reg teenoor ons op. Hy doen net goed aan ons. Julle kan maar op Hom vertrou!
DEUTERONOMIUM 32:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Luister, hemele, ek wil praat! Luister, aarde, na die woorde wat ek sê! Wat ek jou leer, is soos reën op jou, my woorde soos dou. My woorde is soos fyn reën op jong gras, soos sagte reënbuie op plante. Ek wil die Naam verkondig van die HERE. Prys die grootheid van ons God! Hy is die Rots; sy werk is volmaak. Alles wat Hy doen, is reg. Hy is ’n getroue God, sonder enige onreg. Hy is regverdig en betroubaar!