DEUTERONOMIUM 32:1-43 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DEUTERONOMIUM 32:1-43 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Hoor, hemele, ek praat, luister na my woorde, aarde! My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan. Ek wil die Naam van die Here roem. Prys ons God om sy grootheid! Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. “Israel is ontrou aan die Here, nie meer sy kinders nie, nie geskik vir sy diens nie, vals en korrup. Doen julle dit die Here aan? Jy is 'n dwase volk, sonder verstand. Is die Here nie jou Vader, jou Skepper, nie? Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring. Dink aan die dae lank verby, onthou die jare van die voorgeslagte. Vra jou pa dat hy jou vertel, jou oumense dat hulle jou dit sê. Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het, toe Hy die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal, soveel as wat daar Israeliete is. Hulle is die Here se volk, sy deel, Jakob is die Here se vaste eiendom. Hy het sy volk in die woestyn gevind, in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie 'n ander god by Hom nie. Die Here het sy volk die land in besit laat neem, en hom laat eet van die opbrengs van die lande, hom heuning uit klipskeure laat geniet, olie uit harde klip, botter uit die beestrop, melk van die kleinvee, vet lammers, skaapramme en bokramme uit Basan, die beste koring; die wyn wat jy drink, kom uit die beste druiwe. Jesurun het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom. Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword, jy het jou ooreet. Hy het God wat hom gemaak het, verwerp, Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het. Israel het vreemde gode bo die Here verkies, Hom getart met hulle afskuwelike afgode, offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie, aan onbekende gode, nuwe gode wat van die bure af kom, gode wat onbekend was aan julle voorvaders. Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie, die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet. “Die Here het dit gesien en vir jou minagting gekry. Omdat sy seuns en dogters Hom getart het, het Hy gesê: Ek sal nie meer vir hulle sorg nie, Ek wil kyk wat hulle uiteinde is, want hulle is 'n onbestendige volk, mense sonder trou. Hulle het iets wat nie 'n god is nie, bo My verkies, My getart met wat niks is nie. Ek sal wat nie 'n volk is nie, bo hulle verkies, met 'n nasie sonder verstand sal Ek hulle tart. My toorn het 'n vuur aangesteek; dit brand tot in die doderyk daaronder, dit verteer die aarde en sy opbrengs, dit brand deur tot diep onder die berge. Ek sal ramp op ramp oor hulle bring, my pyle op hulle afskiet: hongerpyne, koorsgloed, ongeneeslike siekte. Ek sal roofdiere op hulle afstuur, en giftige slange! Op straat roei die swaard die kinders uit, in die slaapkamers is daar angs: jong man en jong meisie, suigling en grysaard, almal kom om. Ek sou wou sê Ek sal hulle verstrooi, Ek sal maak dat geen mens meer aan hulle dink nie, maar Ek is bevrees die vyand sal My tart, Israel se teenstanders sal dit verkeerd beoordeel en sê: ‘In eie krag het ons dit alles gedoen, nie die Here nie,’ want hulle is 'n nasie sonder verstand, hulle het geen insig nie. “As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het, sou hulle begryp het wat hulle uiteinde sal wees. Hoe kan een mens duisend agtervolg of twee tienduisende op die vlug jaag? Gebeur dit nie omdat die Rots van Israel hulle verkoop het nie, omdat die Here hulle uitgelewer het nie? Die rots van die nasies is nie soos ons Rots nie, ons vyande kan tog self oordeel, want hulle stam uit Sodom se wingerd, uit Gomorra se droë gelyktes. Hulle druiwe is giftig, elke tros is bitter. Hulle wyn is slanggif, wrede addergif. “Die Here het gesê: ‘Dit is weggebêre by My, toegesluit in my skure. Ek straf en Ek vergeld op die dag as hulle voete gly. Die dag van hulle ondergang is naby; wat oor hulle besluit is, kom gou.’ “Die Here behartig die saak van sy volk, die Here ontferm Hom oor sy dienaars, want Hy sien hulle krag het ingegee, dit is klaar met hulle almal. Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode? Waar is die rots waar hulle gaan skuil het, die gode deur wie die vet van hulle offers geëet is en die wyn van hulle drankoffers gedrink is? Laat hulle na vore kom en julle help, laat hulle vir julle 'n skuiling wees! Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie. Ek steek my hand op na die hemel toe en lê 'n eed af: So seker as Ek ewig lewe, wanneer Ek my blink swaard skerp gemaak het, wanneer my hand dit gevat het om te oordeel, sal Ek my teenstanders straf en my haters vergeld vir wat hulle gedoen het. My swaard sal dood saai; Ek sal my pyle deurweek met bloed: die bloed van gesneuweldes en gevangenes, die bloed van die vyand met die lang haarlokke.’ “Al julle nasies, julle moet die volk van die Here roem, want Hy wreek die bloed van sy dienaars, Hy straf sy teenstanders, Hy bring vrede tussen Hom en sy land, tussen Hom en sy volk.”
DEUTERONOMIUM 32:1-43 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
LUISTER, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. Hulle het verderflik teen Hom gehandel — die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek — 'n verkeerde en verdraaide geslag. Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hý nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hý jou nie gemaak en jou toeberei nie? Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê. Toe die Allerhoogste aan die nasies 'n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel. Hy het hom gevind in 'n woestynland en in 'n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos 'n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels — die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie. Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots; dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn. Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag. Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het. Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters. En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want 'n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie. Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ek sal dan hulle ywer wek deur die wat 'n nie-volk is, deur 'n dwase nasie sal Ek hulle terg. Want 'n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek. Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet. As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers. Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard. Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas, hulle gedagtenis onder die mense uitroei — as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die HERE het dit alles nie gedoen nie. Want 'n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie. Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let. Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tienduisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul Steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie! Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie — ja, ons vyande self is skeidsregters! Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle. Hulle wyn is slanggif en wrede addergif. Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie? My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou. Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is. Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het, wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle 'n beskerming kan wees! Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie. Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê: So waar as Ek ewig leef — as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde. Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vlees eet: van die bloed van hom wat verslaan en gevang is, van die kop van die vyand se aanvoerders. Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.
DEUTERONOMIUM 32:1-43 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Luister, hemele, ek wil praat! Luister, aarde, na die woorde wat ek sê! Wat ek jou leer, is soos reën op jou, my woorde soos dou. My woorde is soos fyn reën op jong gras, soos sagte reënbuie op plante. Ek wil die Naam verkondig van die HERE. Prys die grootheid van ons God! Hy is die Rots; sy werk is volmaak. Alles wat Hy doen, is reg. Hy is ’n getroue God, sonder enige onreg. Hy is regverdig en betroubaar! “Maar hulle het teen Hom skandelik opgetree. Wie so maak, is hulle nog sy kinders? Hulle is ’n vals en verdraaide geslag. Is dit hoe julle die HERE behandel, julle dom en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie? Het Hy jou nie gemaak en gevorm nie? Onthou die dae van ouds, dink terug aan die vorige geslagte. Vra jou pa uit en hy sal jou vertel. Vra vir die oumense en hulle sal jou vertel. Toe die Allerhoogste aan die nasies grondgebied toegeken het, het Hy die mensdom verdeel, en grense van volke bepaal volgens die aantal Israeliete. Want die volk Israel behoort aan die HERE; Jakob is sy besondere eiendom. “Hy het hulle gevind in ’n woestyn, ’n leë land vol onaardse geluide. Hy het hulle omarm en hulle opgepas. Hy het hulle beskerm as sy kosbaarste besitting. Soos ’n arend haar kuikens grootmaak en bo-oor hulle sweef, so sprei Hy sy vlerke en vang en dra hulle op sy vlerke. Net die HERE bewaar hulle. Hulle leef sonder enige vreemde gode. Hy laat hulle ry op die hooglande, Hy voed hulle met die opbrengs van die land. Hy het uit die klowe heuning aan hulle voorsien, olyfolie uit klipharde rots. Hy voed hulle met dikmelk van beeste en melk van kleinvee; saam met die vet van lammers en bokke. Hy gee aan hulle die keur van die ramme en bokke van Basan, met die beste koring. Julle het gedrink van die beste wyn, gemaak van keur druiwesap. Maar Israel het vet en opstandig geword, die volk het swaar geword, vet en opgestop! Toe het hulle die God verlaat wat hulle gemaak het, en die Rots van hulle redding verwerp. Hulle het Hom jaloers gemaak met hulle aanbidding van vreemde gode. Met hulle veragtelike dade het hulle Hom kwaad gemaak. Hulle het offers gebring aan demone wat nie gode was nie, gode wat hulle nie geken het nie, gode wat onlangs aangekom het, gode wat hulle voorouers nooit gedien het nie. Julle het die Rots verlaat wat julle verwek het, die God vergeet wat julle voortgebring het. “Die HERE het dit alles gesien en hulle verwerp. Sy eie seuns en dogters het Hom kwaad gemaak. Hy het gesê: ‘Ek sal hulle verlaat. Ek sien wat dan gebeur, hoe hulle tot ’n einde kom! Hulle is ’n verdraaide geslag, kinders sonder integriteit. Deur hulle aanbidding van gode wat nie bestaan nie, het hulle My jaloers gemaak. Met hulle nuttelose afgode het hulle My kwaad gemaak. Nou sal Ek hulle jaloers maak deur ander nasies te seën. Ek sal hulle kwaad maak deur dwase heidene te seën. Want my woede is aangesteek soos ’n vuur, en dit brand tot in die dieptes van die graf. Dit verteer die aarde en sy opbrengs, die fondamente van die berge steek dit aan die brand. Ek sal rampe op hulle ophoop en hulle met my pyle afskiet. Ek stuur teen hulle ’n uitmergelende hongersnood, ’n vurige koors en dodelike siekte. Hulle sal geteister word deur tande van wilde diere, deur giftige slange wat in die stof seil. Op straat bring die swaard kinderloosheid, en binnekant heers die angs. Jong mans en vroue sal omkom, babas en ook oumense. Ek het besluit om hulle te verstrooi, sodat selfs die gedagte aan hulle sal verdwyn. Maar Ek was bevrees dat die vyand My sou tart, dat hulle teenstanders kan misverstaan en sê: Ons krag het gewen! Dit was nie die HERE wat dit gedoen het nie!’ “Israel is ’n nasie sonder verstand. Daar is geen begrip onder hulle nie. Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sal wees! Hoe kan een mens duisend van hulle jaag, en hoe kan twee mense tienduisend laat vlug, as hulle Rots hulle nie verkoop het, en die HERE hulle nie oorgelewer het nie? Maar die rots van ons vyande is nie soos ons Rots nie, soos selfs ons vyande moet toegee. Hulle wingerdstok stam uit die wingerdstok van Sodom en Gomorra. Hulle druiwe is giftig en hulle trosse is bitter. Hulle wyn is die gif van slange, die dodelike gif van adders. “‘Ek het hierdie dinge gebêre, verseël vir veilige bewaring. Ek sal wraak neem. Dié wat dit verdien, sal Ek terugbetaal. Binnekort sal hulle voete gly. Hulle dag van val sal kom en hulle lot sal hulle oorval.’ “Want die HERE sal sy volk oordeel en Hy sal van gedagte verander oor sy dienaars wanneer Hy sien dat hulle krag weg is en dat daar niemand oor is nie, nie slaaf of vryman nie. Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode, waar is die rotse waar hulle gaan skuil het? Waar is daardie gode nou wat die vet van hulle offers geëet en die wyn van hulle drankoffers gedrink het? Laat daardie gode opstaan en jou help! Laat hulle aan jou skuiling gee! Besef dit nou: Ek, ja, Ek, is die HERE! Daar is geen ander god as Ek nie. Ek is die Een wat doodmaak en wat lewe gee; Ek is die Een wat verwond en gesond maak. Niemand kan uit my krag gered word nie. My hand lig Ek nou op na die hemel en verklaar: So seker as wat Ek lewe, wanneer Ek my blink swaard skerp gemaak het en begin met die uitoefening van die reg, dan sal Ek wraak neem op my vyande en sal Ek terugbetaal dié wat My haat. Ek sal my pyle deurdrenk met bloed en my swaard sal vleis verslind: die bloed van dié wat geslag is, die gevangenes en die koppe van die leiers van die vyande.’ “Juig, alle nasies, oor sy volk, want Hy wreek die bloed van sy dienaars. Hy neem wraak op sy vyande en doen boete vir sy land en vir sy volk.”
DEUTERONOMIUM 32:1-43 DB (Die Boodskap)
“Hoor, almal wat daar bo in die hemel bly. Luister na wat ek sê. Hoor, almal wat op aarde bly. Luister na die woorde wat ek sê. Wat ek julle gaan leer, gaan soos verkwikkende reënwater oor julle spoel. My woorde klink so aangenaam soos dou op die gras. My woorde val soos reëndruppels op jong gras wat pas uitgeloop het. Wat ek leer, is soos sagte reënbuie op jong plante. “Ek wil vir almal vertel van die Here. Ons God is wonderlik! Hy is die Rots waarop ons ons lewe bou, en ons is veilig omdat ons by Hom is. Alles wat Hy doen, is goed en reg. Hy tree altyd reg en goed teenoor almal op. Hy staan by ons, en Hy doen nooit iets verkeerds teenoor ons nie. Hy tree altyd reg teenoor ons op. Hy doen net goed aan ons. Julle kan maar op Hom vertrou! “Israel het Hom al wie weet hoeveel maal in die steek gelaat. ’n Mens kan daarom vra: Is hulle nog regtig sy kinders? Kan Hy hulle nog enigsins gebruik om vir Hom iets te doen? Hulle is regtig ’n slegte spul mense, goed vir niks! “Is dit die manier waarop julle nou vir die Here dankie sê ná alles wat Hy vir julle gedoen het? Julle is die domste klomp mense op aarde. Het julle dan g’n verstand nie? Is Hy nie die Vader wat jou gemaak het nie, Israel? Ja, Hy is jou Skepper. Jy is waar jy is omdat Hy jou tot hier gebring het. Dink ’n bietjie terug aan die pad wat God saam met jou geloop het. Onthou watter goeie dinge Hy vir Israel gedoen het. As jy nie kan onthou nie, vra die ou mense om vir jou te vertel. “God wat enigiets kan doen, het nasies in verskillende lande geplaas om daar te bly. Hy het mense in volke opgedeel. Hy het self die grense getrek van die lande waarin hulle moet bly. Net so het Hy ook die grense van die grondgebied van Israel bepaal. Want die volk van Israel behoort aan die Here. Jakob is sy persoonlike eiendom. Hy het hierdie volk geskep om vir Hom vreugde te gee. “Die Here het Israel in ’n woestyn gaan haal. Daar was niks in die woestyn om van te leef nie. Daar het Hy hierdie volk gered. Hy het hulle met sy liefde toegemaak en hulle beskerm. Hy het oor Israel wag gehou asof Israel sy kosbaarste skat en besitting is. Hy het hulle opgepas en gelei op die beste pad. “’n Arend skop op ’n dag haar kleintjies wat te groot geword het, uit die nes uit. Hulle moet op hulle eie begin kos soek en hulle eie nes skrop. Maar wanneer sy hulle uitskop, vlieg sy onder hulle in sodat sy haar kuikens eers op haar vlerke dra. Sy doen dit totdat hulle self kan vlieg, en genoeg selfvertroue het om oor die weg te kom. Net so het die Here sy volk gelei. Hy alleen het vir sy volk gesorg. Hy het hulle gedra. Geen ander god het Hom gehelp nie. Israel het net voor die Here gebuig. “Dis die Here wat vir sy volk hierdie mooi land gegee het. Hy het dit vir hulle as ’n geskenk gegee. Hierdie land het genoeg dat sy inwoners kon eet tot hulle versadig is. Daar was heuning wat jy oral in die veld kon kry. Daar was olie wat uit die harde klip gemyn kon word. Die mense het botter van melk gemaak. En hulle het melk van hulle vee gekry. Daar was vet lammers en skaapramme en bokramme uit Basan om te eet. Hulle het die beste koring gehad. Daar was genoeg wyn om te drink wat hulle van die beste druiwe gemaak het. Die Here het dit vir hulle gegee.” “Maar Israel het gou-gou vet en lui geword. Die Here het Israel baie liefgehad en hulle bederf. Maar Israel het so vet geword dat hulle nie meer moeite wou doen nie. Toe het hierdie volk nie meer na die Here geluister nie. Hulle het die God wat hulle gemaak het, weggestoot. Hoe dom was hulle nie! Israel was so vol van hulleself dat hulle hulle nie meer aan God gesteur het nie. En dit is die God wat hulle gered het toe hulle in die nood was! Israel het die Rots verwerp waarop hulle hul lewe gebou het. “Toe het hulle ander gode begin aanbid. God het jaloers geword, want Hy is baie lief vir sy volk. Hy wil hulle net vir Homself hê. Hulle het hulle God woedend kwaad gemaak met die allerverskriklikste dinge wat hulle gedoen het. Hulle het die Here beledig met wat hulle gedoen het. So het hulle offers vir duiwels gebring. Hulle het goed wat nie eens gode was nie, gedien. Hulle het daardie gode nie voorheen geken nie. Hierdie gode is maar nou die dag eers uitgevind. Hulle oupas en oumas het nie eens geweet dat sulke gode bestaan nie. Maar hierdie klomp mense het voor sulke nikswerd goed gebuig en hulle gedien. Jy het die Een wat jou kan beskerm, die Een wat jou gemaak het, afgeskeep, Israel. Jy het die God wat jou geskep het, vergeet. “Die Here het gesien wat jy doen. En dit was afskuwelik vir Hom. Hy het kwaad geword vir sy eie seuns en dogters. Julle het Hom woedend gemaak.” “Toe het Hy gesê: Nou maar goed. Ek sal hulle weggooi. Ek sal hulle vernietig. Hulle soek mos daarvoor, want hulle is ’n klomp slegte mense. Hulle hou nie hulle woord nie. Hulle het My jaloers gemaak toe hulle goed wat nie ’n god is nie, aanbid het. Hulle het hierdie nikswerd afgode bo My verkies. Hulle het My beledig met wat hulle gedoen het. Hulle het My uitgetart. Daarom sal Ek hulle nou jaloers maak. Ek sal dit doen deur ander nasies voorspoedig te maak. Ek sal hulle kwaad maak. Ek sal ’n spul eenvoudige mense wat nie eens aan my volk behoort nie, voorspoedig maak. Ek was so kwaad dat dit soos ’n vuur was wat aangesteek is. Hierdie vuur het alles verteer. Die aarde met al sy oeste is vernietig. Die berge het afgebrand. Tot die grafte is vernietig toe my woede daaroor gegaan het. “Ja, Ek sal rampe en ellende op hierdie volk afgooi. Ek sal hulle met pyle skiet wat hulle sal seermaak. Hierdie mense sal niks meer hê om te eet nie. Hulle sal dodelik siek word. Ek stuur roofdiere om hulle aan te val. Giftige slange sal hulle pik en hulle doodmaak. Buitekant op straat sal mense doodgaan in die oorlog en binne-in die huis sal mense van angs en benoudheid rondhardloop. Almal sal ly: die jongmans en die jongmeisies, die babas en die ou mense. Die laaste een sal doodgemaak word. “Ek wou hulle oor die hele aarde verstrooi sodat niemand weer aan hulle sal dink nie. Niemand sal eens onthou dat daar so ’n volk soos Israel was nie. Maar toe dink Ek daaraan: dalk sal die vyande dan met My spot. Hulle sal nie verstaan wat Ek doen nie. Hulle sal dink dis hulle wat Israel oorwin het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het gewen! Dis omdat ons sterk is dat ons die Here se volk vernietig het. Dis nie die Here wat dit gedoen het nie. Dis eintlik ons wat so goed is!’ “Israel is ’n nasie wat te dom is vir woorde. Hulle verstaan net mooi niks nie. Hulle kan nie insien wat met hulle gebeur nie. O, dat julle tog net slim kon word! Dan sou julle verstaan het wat besig is om met julle te gebeur! Dan sou julle kon insien dat die Here julle straf vir wat julle gedoen het. En dan sou julle kon begryp wat julle uiteinde gaan wees. “Kan dit gebeur dat een mens 1 000 op loop jaag? Kan twee mense 10 000 laat vlug? Ja, dit gebeur nou met jou, Israel. En weet jy hoekom? Want die Een wat julle wou beskerm, het julle aan julle vyande uitgelewer. Hy het moed opgegee met julle. Daarom het Hy julle aan julle vyande oorgegee.” “Maar die nasies het nie Iemand wat hulle beskerm soos hierdie volk nie. Israel se God is groot. Stadig maar seker begin die nasies dit agterkom. Hierdie nasies is afstammelinge van die mense van Sodom en Gomorra, daardie spul wat die allervreeslikste dinge gedoen het. Daarom het God hulle gestraf. Hulle is soos giftige druiwe wat bitter in jou mond smaak en jou doodmaak. Die wyn wat jy van hierdie druiwe maak, is soos dodelike gif. As jy hierdie gif drink, is jy binne sekondes dood. “Toe het die Here gesê: Ek onthou alles wat hierdie mense doen. En dan, op ’n dag, straf Ek hulle vir al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Dan sal hulle hard en ver val. Hulle voete sal onder hulle uitgly. Niks sal hulle kan red nie. Die dag dat Ek hulle gaan vernietig, kom vinnig nader. Wat Ek besluit het om met hulle te doen, sal vir seker gebeur. En dit gaan een van hierdie dae gebeur. Hulle sal verwoes word. “Die Here sal sy volk bymekaarmaak om voor Hom te kom staan. Dan sal Hy as die groot Regter elkeen se hofsaak hanteer. Hy sal die mense wat reg voor Hom geleef het, onskuldig verklaar. Hy sal hierdie mense wat getrou aan Hom gebly het, beskerm. Maar dan sal Hy vir die ander vra wat die slegte dinge gedoen het: En waar is julle afgode nou? Waar is die nikswerd goed wat julle gehoop het julle sal beskerm? Waar is die afgode voor wie julle offers van vet gebrand het en vir wie julle wyn uitgestort het? Julle het mos gedink dis hulle wat goed aan julle doen! Laat julle gode nou opstaan en julle kom help! Ek gaan julle nou straf. Hardloop nou na julle afgode toe, dat hulle julle kan help as hulle kan! “Julle moet dit goed besef: Ek is die Here. Ek alleen is die Here. Daar bestaan geen ander God nie. Ek besluit wie moet bly lewe en Ek besluit wie doodgemaak moet word. Dis Ek wat jou siek maak en dis Ek wat jou gesond maak. Niks en niemand kan jou uit my hand red nie. En nou belowe Ek so seker as wat Ek leef dat Ek my vyande sal straf. Ek sal persoonlik ’n wapen vat en daardie mense bykom wat met hulle slegte dade My tart en beledig. Ek sal wraak neem op mense wat gedink het hulle hoef hulle nie aan My te steur nie. Oral waar Ek mense straf vir hulle slegte dade, sal daar net bloed wees. Ek maak almal dood wat Ek gevange geneem het. Ja, Ek maak ook die leiers van my vyande almal dood. “Daarom moet almal wat in die hemel bly vrolik wees. Hulle moet feesvier en God aanbid. Al die mense wat die Here dien, moet ook vrolik wees. Want die Here maak dié mense dood wat sy kinders aangeval het en hulle skade berokken het. Hy maak al sy vyande dood. Hy maak sy land en sy mense skoon. Daar sal weer vrede wees tussen die Here en sy volk.”
DEUTERONOMIUM 32:1-43 ABA (Bybel vir almal)
Moses het gesê: “Hemel, jy moet luister, ek wil praat, die aarde moet hoor wat ek sê. Ek bid dat die dinge wat ek vir die mense leer, sal wees soos reën wat drup, ek bid dat die dinge wat ek sê, sal wees soos sagte reën op gras, soos reën op groen plante. Want ek wil skree en die Naam van die Here sê, ek wil sê dat die Here groot en goed is. Hy is die Rots, sy werk is heeltemal reg, Hy doen altyd reg. Hy is 'n God wat altyd dieselfde bly, Hy doen niks verkeerd nie, Hy is regverdig en eerlik. Maar sy volk het ontrou geword aan Hom, hulle is nie meer sy kinders nie, hulle is onrein en vals, hulle kan net verkeerd doen, nie reg nie. Julle is dwase mense, julle het nie wysheid nie, is dit wat julle doen aan die Here? Hy is julle Vader, Hy het julle gemaak. Hy self het julle gemaak en Hy het vir julle die lewe gegee. Julle moet onthou hoe dit lank gelede was, julle moet dink aan die jare wat lank verby is. Julle moet vir julle ouers vra, sodat hulle vir julle kan vertel, julle moet vir die oumense vra, húlle sal vir julle sê hoe dit was. Toe die Hoogste God vir die volke hulle lande gegee het, toe Hy gesê het dat die mense aan verskillende volke moet behoort, toe het Hy gesê waar die grense van die lande moet wees. Hy het gekyk hoeveel Israeliete daar is, en Hy het besluit hoeveel volke daar moet wees. Maar die Here het sy éie volk gekies, Jakob behoort aan Hom. Die Here het sy volk in die woestyn gekry, in 'n wilde wêreld waar niemand woon nie. Hy beskerm sy volk en Hy sorg vir hulle, Hy pas hulle op soos 'n mens sy oog oppas. 'n Arend stoot sy kleintjies uit die nes en hy vlieg bokant hulle, hy maak sy vlerke oop en vang die kleintjies en dra hulle op sy vlerke. So lei die Here sy volk, Hy alleen doen dit, daar is nie 'n ander god by Hom nie. Hy het hierdie land vir sy volk gegee om dit te vat. Hulle kon die koring eet wat op die lande groei, hulle kon heuning uithaal uit die byneste in die rotse, hulle kon die olyf-olie kry van die olyfbome tussen die klippe. Hulle het melk gekry van beeste, skape en bokke, hulle het vet vleis gekry van skaap-lammers en skaap-ramme, en vleis van bokke en beeste uit die land Basan. Hulle het die beste koring geëet en die beste rooi wyn gedrink. Jesurun het vet en opstandig geword. Ja, julle het vet en dik geword, spekvet. Hulle het vir God gelos, God wat vir hulle gemaak het. Hulle was dom en opstandig teen die Rots wat vir hulle gered het. Hulle het vir God kwaad gemaak toe hulle gode van ander volke gedien het. Hulle het vir God hartseer gemaak toe hulle dinge gedoen het wat Hy haat. Hulle het ge-offer vir veldgode wat nie gode is nie, hulle het ge-offer vir gode wat hulle nie geken het nie, vir nuwe gode wat hulle voorvaders nie geken het nie. Julle het die Rots vergeet, maar die Rots is julle Vader, julle is God se kinders, maar julle het Hom vergeet. Toe die Here dit sien, was Hy hartseer oor sy seuns en sy dogters, Hy het hulle gelos. Hy het gesê: ‘Ek wil hulle nie meer sien nie, en Ek wil kyk hoe dit nou met hulle sal gaan. Hulle is slegte mense, hulle is heeltemal ontrou. Hulle het My kwaad gemaak toe hulle gode gedien het wat nie gode is nie. Hulle het My hartseer gemaak toe hulle beelde gemaak het, beelde wat niks beteken nie. Nou sal Ek hulle kwaad maak en Ek sal vir My 'n volk kies wat nie 'n volk is nie, Ek sal hulle hartseer maak en Ek sal vir My 'n volk kies wat dwaas is. Ek is kwaad, dit is soos 'n vuur wat brand tot in die doderyk daar onder, 'n vuur wat die aarde verbrand en alles wat uit die aarde kom, 'n vuur wat tot onder die berge brand. Ek sal hulle laat swaarkry, dit sal aanhou sleg gaan met hulle, Ek sal hulle skiet met al my pyle. Hulle sal flou word van honger, hulle sal pes kry, hulle sal nie gesond kan word nie, wilde diere sal hulle opvreet en giftige slange sal hulle pik. Daar sal oorlog wees in die strate, mense sal bang wees en wegkruip in hulle kamers. Niemand sal vry wegkom nie, nie jongmans of jongmeisies nie, nie babas of oumense nie. Ek het gedink Ek sal hulle almal laat sterf, niemand moet onthou dat hulle gelewe het nie. Maar Ek het gedink miskien sal die vyande spot en hulle sal die dinge wat gebeur het, verkeerd verstaan. Hulle sal miskien spog en sê: “Ons het hulle self oorwin, die Here het dit nie gedoen nie.” ’ Ja, die vyande verstaan dit nie, hulle is nie verstandig nie. As hulle wysheid gehad het, dan sou hulle verstaan het wat gebeur het en hulle sou geweet het wat later nog sál gebeur. Een man van die vyand het 1 000 Israeliete gevolg en gejaag, twee manne van die vyand het 10 000 Israeliete laat vlug. Maar dit het gebeur omdat die Rots van die Israeliete hulle verkoop het, omdat die Here hulle gelos het. Ja, die Here is ons Rots, die vyande het nie so 'n rots nie, dit moet hulle weet. Hulle is soos 'n wingerdstok wat in Sodom en Gomorra gegroei het, 'n wingerdstok wat giftige druiwe dra. Uit daardie druiwe kom daar wyn wat so giftig is soos slange, dit is wyn wat mense laat sterf. Die Here sê: ‘Ek sal besluit wanneer Ek hulle sal straf. Ek sal die vyande straf oor wat hulle gedoen het, hulle voete gly, hulle sal gou val. Die dinge wat met hulle sal gebeur, sal gou gebeur.’ Ja, die Here sal reg doen aan sy volk, Hy sal genadig wees vir sy dienaars wanneer Hy sien dat hulle swak is en dat min van hulle nog lewe. Hy sal vra: ‘Waar is julle gode nou, die gode wat julle moet beskerm? Waar is die gode wat die vet van julle offers eet en die wyn van julle drank-offers drink? Hulle moet nou begin om julle te help, hulle moet julle beskerm. Julle moet nou weet: Dit is Ek, net Ek. Daar is nie nog 'n God nie, net Ek is God. Ek maak dood en Ek laat lewe, Ek maak siek en Ek maak gesond. Niemand kan my volk wegvat van My nie. Ek tel my hand op na die hemel en Ek belowe, so seker soos Ek altyd sal lewe: Ek sal my swaard skerpmaak en Ek sal dit styf vashou in my hand. Ek sal my vyande straf oor alles wat hulle gedoen het, Ek sal die mense straf wat My haat. Wanneer Ek my pyle skiet en met my swaard kap, dan sal daar baie bloed vloei. Baie mense sal gevangenes word en hulle sal sterf, en die leiers van die vyande sal ook sterf.’ Die ander volke moet die volk van die Here prys, want die Here sal almal straf wat sy dienaars doodgemaak het, Hy sal sy vyande straf oor wat hulle gedoen het, Hy sal versoening doen vir sy land en sy volk.”
DEUTERONOMIUM 32:1-43 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“ Luister hemele, ek wil praat, en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor. Mag my onderrig neerstuif soos reën, my woorde drup soos dou, soos deurdringende reën op groen gras, soos reënbuie op plante. Ja, die Naam van die HERE roep ek uit, Erken die grootheid van ons God, die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is 'n maatstaf. 'n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy. “ Sy volk het hulle teenoor Hom wangedra; hulle is nie sy kinders nie, maar 'n skandvlek, 'n vals en verworde geslag. Is dit hoe julle teenoor die HERE optree, dwase en onverstandige volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskep het nie? Hy is die Een wat jou gemaak het, wat jou gevestig het. Onthou die tye lank gelede, dink aan die jare van vorige geslagte; vra jou vader, hy sal jou inlig; jou ou mense, hulle sal dit vir jou sê: Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle erfenis gegee het, toe Hy mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van volke vasgelê volgens die getal van die kinders van Israel; want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfenis. Hy het sy volk in 'n woestynland gevind, in 'n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die HERE hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie. Die HERE het hom laat ry oor die hoogtes van die aarde. Hy het die opbrengs van die veld geëet. Die HERE het hom gevoed met heuning uit 'n rotsskeur, met olie uit 'n klipharde rots, met die dikmelk van beeste, die melk van kleinvee, ook met die vet van slaglammers, ramme uit Basan, ook bokramme, en met die fynste koringmeel. En druiwebloed het jy gedrink – gistende wyn. “ Jesurun het vet geword en agterop geskop. Jy het vet geword, rond geword, eiesinnig geraak. Hy het die God wat hom gemaak het, versaak, die Rots wat hom verlos, met minagting behandel. “Hulle het die HERE met vreemde gode ontstel, met afstootlike dinge het hulle Hom getart. Hulle het vir demone, vir nie-gode, vir gode wat hulle nie geken het nie, offers geslag – nuwes wat maar onlangs na vore gekom het, gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie. Die Rots wat jou verwek het, het jy verontagsaam; jy het die God wat jou voortgebring het, vergeet. “ Die HERE het dit gesien, en uit ergernis sy seuns en dogters verstoot. Hy het gesê, ‘Ek wil my gesig vir hulle verberg; Ek wil sien wat van hulle gaan word, want hulle is 'n verworde geslag, kinders wat nie vertrou kan word nie. Hulle het My ontstel met nie-gode, My uitgetart met hulle nietige afgode. Ek gaan hulle ontstel met 'n nie-volk, met 'n dwase nasie gaan Ek hulle tart. Want 'n vuur is aangesteek in my toorn, en dit brand tot in die •doderyk daar onder. Dit verteer die aarde en sy opbrengs, dit laat die fondamente van die berge in vlamme opgaan. Ek bring meer rampe oor hulle, my pyle skiet Ek alles op hulle af: Uitgemergel deur honger, uitgeteer deur plae en die verskriklikste pessiekte, lewer Ek hulle uit aan verskeurende diere en giftige slange. Buite maai die swaard af, en in die binnekamers die vrees – jong man sowel as jong meisie, die suigeling saam met die grysaard. “ ‘Ek het gedink, ek moet hulle uitwis, die herinnering aan hulle onder die mense laat verdwyn, was dit nie vir die ergernis van vyande wat My afgeskrik het nie. Anders maak hulle teenstanders 'n verkeerde afleiding en sê: “Ons mag het geseëvier; die HERE het niks hiervan gedoen nie.” ’ “Ja, die vyand is 'n nasie wie se planne gedaan is, by wie daar geen insig is nie. As hulle wys was, sou hulle dit begryp, hulle sou nadink oor hulle einde. Hoe kan een dan duisend agtervolg, en twee tienduisend op die vlug jaag as hulle rots hulle nie verkoop het nie, as die HERE hulle nie oorgelewer het nie? Ja, hulle rots is nie soos ons Rots nie – ons vyande gee dit toe – want uit Sodom se wingerd kom hulle wingerdstokkies, van die terrasse van Gomorra is hulle druiwekorrels. Dit is giftige druiwe, hulle dra bitter trosse. Hulle wyn is slanggif, die dodelike gif van kobras. Die HERE sê, ‘Is dit nie by My weggebêre nie, in my stoorkamers verseël vir die dag van wraak en vergelding, vir die tyd wanneer hulle voete gaan wankel nie? Want naby is die dag van hulle teenspoed; wat vir hulle gereed lê, kom gou.’ “ Maar die HERE laat reg geskied aan sy volk, oor sy diensknegte ontferm Hy Hom, wanneer Hy sien dat hulle mag verdwyn het, en dat die einde aangebreek het vir wie gevange is en vir wie vrygelaat is. “Hy sal sê, ‘Waar is hulle gode, die rots waar hulle geskuil het, wat die vet van hulle slagoffers geëet, en die wyn van hulle •drankoffers gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, laat hulle oor julle 'n beskutting wees. Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie. Ja, Ek hef my hand op na die hemel en sê: “So waar as wat Ek ewig leef, Ek gaan my flitsende swaard skerp maak, en my hand sal dit vir die vonnis vasgryp. Ek gaan wraak neem op my teenstanders, my haters gaan Ek vergeld. Ek gaan my pyle dronk maak van bloed – my swaard sal vleis verslind – van die bloed van gesneuweldes en gevangenes, van die vyand se leiers met die los hare. ” ’ “Nasies, juig sy volk toe, want Hy gaan die bloed van sy diensknegte wreek; Hy gaan wraak neem op sy teenstanders en versoening doen vir sy grond, sy volk.”
DEUTERONOMIUM 32:1-43 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Luister, o hemele, en Ek sal spreek; en hoor, o aarde, die woorde van my mond. My leer sal drup soos die reën, my spraak sal drup soos die dou, soos die klein reën op die sagte kruie en soos die buie op die gras. Omdat ek die Naam van die HERE sal verkondig; gee grootheid aan onse God. Hy is die Rots, sy werk is volmaak, want al sy weë is oordeel: 'n God van waarheid en sonder ongeregtigheid, regverdig en reg is Hy. Hulle het hulleself verderf, hulle vlek is nie die vlek van sy kinders nie: hulle is 'n verkeerde en krom geslag. Vergeld julle die HERE so, o dwase en onverstandige volk? Is dit nie jou vader wat jou gekoop het nie? Het Hy jou nie gemaak en jou bevestig nie? Dink aan die dae van ouds, let op die jare van baie geslagte; vra jou vader, en hy sal jou te kenne gee; jou oudstes, en hulle sal jou vertel. Toe die Allerhoogste hulle erfdeel aan die nasies verdeel het, toe hy die seuns van Adam van mekaar geskei het, het hy die grense van die volk vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. Want die deel van die HERE is sy volk; Jakob is die lot van sy erfdeel. Hy het hom gevind in 'n woestynland en in die woeste huilende woestyn; hy het hom rondgelei, hy het hom opdrag gegee, hy het hom soos 'n oogappel bewaar. Soos 'n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies fladder, sy vlerke uitsprei, hulle neem, hulle op sy vlerke dra; So het die HERE alleen hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie. Hy het hom op die hoogtes van die aarde laat ry, om die opbrings van die veld te eet; en hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die kliprots; Botter van koeie en melk van kleinvee, met vet van lammers, en ramme van die ras van Basan, en bokke, met die vet van niere van koring; en jy het die suiwer bloed van die druif gedrink. Maar Jesurun het vet geword en geskop; jy het vet geword, jy het dik geword, jy is oortrek met vet; toe het hy God verlaat wat hom gemaak het, en die Rots van sy verlossing ligtelik geag. Hulle het hom tot ywer uitgelok deur vreemde gode, met gruwels het hulle hom tot toorn geterg. Hulle het aan duiwels geoffer, nie aan God nie; aan gode wat hulle nie geken het nie, aan nuwe gode wat nuut opgekom het, vir wie julle vaders nie gevrees het nie. Aan die Rots wat jou verwek het, is jy ondenkbaar en vergeet God wat jou gevorm het. En toe die HERE dit sien, het Hy van hulle 'n afsku gehad vanweë die terging van sy seuns en sy dogters. En hy sê: Ek sal my aangesig vir hulle verberg, Ek sal sien wat hulle einde sal wees; want hulle is 'n baie verkeerde geslag, kinders in wie geen geloof is nie. Hulle het my tot jaloesie beweeg oor dit wat nie God is nie; hulle het My geterg deur hulle nietighede, en Ek sal hulle jaloers maak op die wat geen volk is nie; Ek sal hulle terg by 'n dwase nasie. Want 'n vuur is aangesteek in my toorn en dit sal brand tot in die doderyk, en dit sal die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand steek. Ek sal onheil op hulle hoop; Ek sal my pyle op hulle spandeer. Hulle sal verbrand word van honger en verteer word deur brandende hitte en bittere verwoesting; ook sal Ek die tande van diere op hulle stuur, met die gif van slange van die stof. Die swaard van buite en die skrik van binne sal die jongman sowel as die maagd vernietig, ook die suigeling met die man met grys hare. Ek het gesê: Ek sal hulle in hoeke verstrooi, Ek sal die gedagtenis aan hulle onder die mense laat ophou. Was dit nie dat ek die toorn van die vyand gevrees het nie, dat hulle teëstanders hulle nie vreemd sou gedra en dat hulle sou sê: Ons hand is hoog, en die HERE het dit alles nie gedoen nie. Want hulle is 'n nasie sonder raad, en daar is geen verstand in hulle nie. Ag, dat hulle wys was, dat hulle dit verstaan het, dat hulle op hulle einde sou ag slaan! Hoe sou een duisend jaag en twee tienduisend op die vlug slaan as hulle Rots hulle nie verkoop het en die HERE hulle toegesluit het nie? Want hulle rots is nie soos ons Rots nie, selfs ons vyande is regters. Want hulle wingerdstok is van die wingerdstok van Sodom en van die velde van Gomorra; hulle druiwe is druiwe van gal, hulle trosse is bitter; Hulle wyn is die gif van drake en die wrede gif van adders. Is dit nie by my opgegaar en onder my skatte verseël nie? Aan My behoort wraak en vergelding; hulle voet sal wankel op die regte tyd, want die dag van hulle onheil is naby, en die dinge wat oor hulle kom, maak gou. Want die HERE sal sy volk oordeel en Hom oor sy dienaars bekeer as Hy sien dat hulle krag weg is, en daar is niemand wat opgesluit of oorgebly het nie. En hy sal sê: Waar is hulle gode, hulle rots op wie hulle vertrou het? Wie het die vet van hulle slagoffers geëet en die wyn van hulle drankoffers gedrink? laat hulle opstaan en jou help en jou beskerming wees. Kyk nou dat ek dit is en dat daar geen god by my is nie. Ek maak dood en maak lewend; Ek wond en ek genees, en daar is niemand wat uit my hand kan red nie. Want ek hef my hand op na die hemel en sê: Ek lewe vir ewig. As ek my glinsterende swaard slyp en my hand die oordeel aangryp; Ek sal wraak uitoefen aan my vyande en die wat My haat, vergeld. Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vleis eet; en dit met die bloed van die gesneuweldes en van die gevangenes, van die begin van die wraak op die vyand. Verbly julle, o nasies, met sy volk, want Hy sal die bloed van sy dienaars wreek en wraak uitoefen aan sy teëstanders en genadig wees teenoor sy land en sy volk.