DEUTERONOMIUM 8:2-5
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Bybel vir almal (ABA)
En julle moet alles onthou wat julle God die Here met julle laat gebeur het toe julle 40 jaar in die woestyn was. Hy wou julle verneder, want Hy wou weet hoe julle voel. Hy wou weet of julle sal doen wat sy wette sê. Hy het julle verneder en honger laat word en toe het Hy vir julle die manna gegee om te eet. Julle en julle voorvaders het voorheen nie manna geken nie. Die Here wou hê dat julle moet verstaan dat 'n mens nie net van brood kan lewe nie, 'n mens lewe van elke woord wat uit die mond van die Here kom. In hierdie 40 jaar het julle klere nie stukkend geword nie en julle voete het nie geswel nie. Julle moet weet dat die Here vir julle wil leer om reg te lewe, dit is dieselfde soos wanneer 'n pa vir sy kind wil leer om reg te lewe.
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie. Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos 'n man sy seun onderrig
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie. Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het om jou nederig te maak, om jou te toets, om uit te vind wat in jou hart leef: Sou jy sy gebooie nakom of nie? Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die HERE. Vir hierdie veertig jaar het die klere aan jou lyf nie verslyt nie en het jou voete nie geswel nie. “ Wees dan in jou hart oortuig daarvan dat die HERE jou God jou opvoed soos 'n man sy seun opvoed.
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En jy moet dink aan die hele pad wat die HERE jou God jou hierdie veertig jaar lank in die woestyn gelei het, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie wil onderhou of nie. En Hy het jou verneder en jou laat honger ly en jou gevoed met manna wat jy nie geken en jou vaders nie geken het nie; sodat Hy jou kan bekend maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van die HERE uitgaan, die mens lewe. Jou klere het nie verouder aan jou nie, en jou voet het nie geswel in hierdie veertig jaar nie. Jy moet ook in jou hart ag gee dat soos 'n man sy seun tugtig, so tugtig die HERE jou God jou.
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Die Boodskap (DB)
Jy moet altyd terugdink aan die 40 jaar wat verby is. Kyk altyd terug na die pad waarmee die Here jou deur die woestyn gelei het. Hy het jou swaar laat kry sodat jy nederig kon word en kon leer om sy voorskrifte te gehoorsaam. Jy was dikwels honger, maar die Here het vir jou manna gegee. Dit was iets wat jy en jou voorgeslagte nie geken het nie. So wou die Here jou leer dat ’n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar dat die beloftes en die woorde van die Here jou ook versadig maak. In die 40 jaar wat verby is, het jou klere nie eintlik verslyt nie en het jou voete nie eens geswel van al die stap nie. Dink altyd daaraan dat die Here jou in die woestyn soos ’n kind grootgemaak en geleer het.
DEUTERONOMIUM 8:2-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Onthou die hele pad waarlangs die HERE jou God jou 40 jaar lank deur die woestyn gelei het. Dit was om jou nederig te maak en jou te toets om te sien wat regtig in jou hart aangaan en of jy sy gebooie sal gehoorsaam. Hy het jou nederig gemaak deur jou te laat honger ly. Hy het jou toe manna laat eet, kos wat jy en jou voorouers nie vroeër geken het nie. Hy het dit gedoen om jou te leer dat mense meer as brood nodig het om van te leef. Ware lewe vir die mens kom van elke woord uit die mond van die HERE. Jou klere het 40 jaar lank gehou en jou voete het nie blase gekry of geswel nie. Jy moet diep in jou hart besef dat die HERE jou God jou dissiplineer net soos ’n ouer sy kind dissipline leer.