PREDIKER 8:16-17 - Compare All Versions
PREDIKER 8:16-17 ABA (Bybel vir almal)
Ek het hard probeer verstaan wat wysheid is en ek het probeer sien wat mense op die aarde doen, want hulle is baie besig en slaap amper nooit, nie in die dag of in die nag nie. En toe het ek gesien hoe God alles gemaak het, en ek het gesien dat mense hard probeer verstaan wat alles in hierdie wêreld gebeur, maar hulle kan dit nie verstaan nie. En ook wanneer 'n wyse mens sê dat hy dit verstaan, dan kan hy dit nie verstaan nie.
PREDIKER 8:16-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die dinge wat op die aarde gedoen word — ja, selfs bedags en snags niemand met sy oë die slaap sien nie — het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan — hy sal dit nie kan uitvind nie!
PREDIKER 8:16-17 AFR83 (Afrikaans 1983)
So het ek my daarop toegelê om agter te kom wat wysheid is en om te begryp waarmee mense hulle op die aarde besig hou sonder dat hulle dag of nag tot rus kom. Toe het ek al die werk van God begryp; die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.
PREDIKER 8:16-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe ek my daaraan toegewy het om wysheid te ken, en om die taak te beskou wat op die aarde verrig word – terwyl 'n mens selfs dag en nag met sy oë geen slaap sien nie – het ek al die werk van God gesien. Die mens is nie in staat om die werk wat onder die son gedoen word te ontrafel nie. Hoe die mens hom ook al vermoei met soek, hy sal dit nie ontrafel nie. Selfs al gee die wyse voor om dit te weet, hy is nie in staat om dit te ontrafel nie.
PREDIKER 8:16-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe ek my hart aangewend het om wysheid te ken en die werk te sien wat op die aarde gedoen word; (want daar is ook dat dag en nag geen slaap met sy oë sien nie). Toe het ek al die werk van God aanskou, dat 'n mens nie die werk wat onder die son gedoen word, kan uitvind nie; ja verder; al dink 'n wyse man om dit te weet, tog sal hy dit nie kan vind nie.
PREDIKER 8:16-17 DB (Die Boodskap)
Ek het dag en nag gewerk om die lewe en die dinge wat in die wêreld gebeur, te probeer begryp. Uiteindelik moes ek opgee, want die mens kan nooit God se werk deurgrond nie. Al probeer hy hoe hard, sal hy die sin van die lewe nooit kan ontsluit nie.
PREDIKER 8:16-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe ek my daarop toegelê het om vas te stel wat wysheid is en te begryp wat op die aarde gedoen word sonder dat mense dag of nag tot rus kom, het ek al die werk van God gesien, en verstaan dat die mens nie in staat is om wat onder die son gebeur te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy kan dit nie verstaan nie, al sê die wyse hy weet.