EFESIËRS 2:1-10
EFESIËRS 2:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As gevolg van julle verkeerde lewe en sondes was ook julle geestelik dood. Julle leefstyl destyds is bepaal deur hierdie bose wêreld, ja, deur die regeerder van die mag wat in die lug is. Dit is die gees wat nou nog werk in almal wat aan God ongehoorsaam is. Ons almal het vroeër so gelewe. Ons gedrag is bepaal deur ons sondige begeertes. Elke sondige wens wat in ons gedagtes opgekom het, het ons sommer net gedoen. Soos die ander mense was ons vanselfsprekend vir God se straf bestem. Maar God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is! Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien. Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie, want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.
EFESIËRS 2:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Voorheen, voordat julle in Christus geglo het, was julle geestelik dood, want julle het baie verkeerde dinge, baie sondes, gedoen. Julle het gelewe soos die mense van die wêreld lewe. Julle het gedoen wat die Satan wil hê julle moet doen. Die Satan is die hoof van die bose geeste wat oor die wêreld wil regeer en dit is hy wat nou werk in die harte van die mense wat ongehoorsaam is aan God. Ons almal het ook soos daardie mense gelewe wat graag slegte dinge doen. Ons het slegte dinge gedoen en slegte planne gemaak. Ons was sleg vandat ons gebore is, so sleg soos al die ander slegte mense, en God sal slegte mense straf. Maar God is baie jammer vir ons. Hy is baie lief vir ons en Hy het dit vir ons gewys. Ons was geestelik dood, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar God het vir Christus weer laat lewe, en so het Hy ons laat lewe. Julle moet onthou God het julle gered omdat Hy goed is vir julle. Ons behoort aan Christus Jesus. God het vir Christus weer laat lewe en Hy het ons ook weer laat lewe. God het vir Christus 'n plek in die hemel gegee en Hy het vir ons ook 'n plek in die hemel gegee. God het dit alles gedoen omdat Hy altyd wil wys dat Hy baie goed en lief is vir ons. Dit is hoekom Hy vir Christus Jesus gestuur het. Ja, God het julle gered omdat Hy baie goed is vir julle, julle wat in Christus glo. Julle het julle nie self gered nie. Nee, Gód het julle gered, Hý was so goed vir julle. God het julle gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat julle goeie dinge gedoen het nie. Daarom mag niemand spog nie, want dit is God wat ons gemaak het wat ons is. Hy het vir Christus Jesus gestuur sodat ons soos nuwe mense kan lewe en goeie dinge kan doen. God het hierdie goeie dinge wat ons moet doen, lank gelede gereedgemaak.
EFESIËRS 2:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
EFESIËRS 2:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
EFESIËRS 2:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle was dood deur die oortredings en sondes waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met •Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.
EFESIËRS 2:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en sondes; Waarin julle vroeër gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, die gees wat nou in die kinders van ongehoorsaamheid werk. Onder wie ons ook almal in die verlede ons wandel gehad het in die begeerlikhede van ons vlees, wat die begeertes van die vlees en van die verstand vervul het; en was van nature kinders van die toorn, net soos ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, oor sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, Selfs toe ons dood was in die sondes, het ons lewend gemaak saam met Christus (uit genade is julle gered;) En Hy het ons saam opgewek en ons saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Sodat Hy in die eeue wat kom, die uitnemende rykdom van sy genade kan bewys in sy goedertierenheid oor ons deur Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof; en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. Nie uit werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God vooraf bestem het, sodat ons daarin kan wandel.
EFESIËRS 2:1-10 Die Boodskap (DB)
Dink weer ’n slag mooi na oor alles wat God vir julle gedoen het. Julle was eers soos dooie mense as dit by God en sy dinge gekom het. Kyk net hoe lelik het julle geleef en hoeveel dinge het julle gedoen waarvan God net mooi niks gehou het nie. Dit was toe julle al agter die duiwel, die leier van die onsigbare geeste, aangeloop en presies gedoen het wat hy van julle gevra het. Daardie selfde ou duiwel is nog steeds bedrywig onder die mense wat nie luister na wat God vra nie. Dit is eintlik maar die storie van ons almal se lewens. Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. As iets sonde was, was ons daar om dit te doen. Ons het dieselfde menslike geaardheid as al die ander gehad: ons het net in die sonde belanggestel. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God. Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin. Moenie dink dat dit is omdat julle so goed is nie. Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n. Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het. Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie. Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef.