EFESIËRS 2:4-8
EFESIËRS 2:4-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.
EFESIËRS 2:4-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is! Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien. Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.
EFESIËRS 2:4-8 Bybel vir almal (ABA)
Maar God is baie jammer vir ons. Hy is baie lief vir ons en Hy het dit vir ons gewys. Ons was geestelik dood, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar God het vir Christus weer laat lewe, en so het Hy ons laat lewe. Julle moet onthou God het julle gered omdat Hy goed is vir julle. Ons behoort aan Christus Jesus. God het vir Christus weer laat lewe en Hy het ons ook weer laat lewe. God het vir Christus 'n plek in die hemel gegee en Hy het vir ons ook 'n plek in die hemel gegee. God het dit alles gedoen omdat Hy altyd wil wys dat Hy baie goed en lief is vir ons. Dit is hoekom Hy vir Christus Jesus gestuur het. Ja, God het julle gered omdat Hy baie goed is vir julle, julle wat in Christus glo. Julle het julle nie self gered nie. Nee, Gód het julle gered, Hý was so goed vir julle.
EFESIËRS 2:4-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God
EFESIËRS 2:4-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met •Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.
EFESIËRS 2:4-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, oor sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, Selfs toe ons dood was in die sondes, het ons lewend gemaak saam met Christus (uit genade is julle gered;) En Hy het ons saam opgewek en ons saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Sodat Hy in die eeue wat kom, die uitnemende rykdom van sy genade kan bewys in sy goedertierenheid oor ons deur Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof; en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.
EFESIËRS 2:4-8 Die Boodskap (DB)
Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin. Moenie dink dat dit is omdat julle so goed is nie. Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n. Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het. Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou.