EFESIËRS 4:15-16 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
EFESIËRS 4:15-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
EFESIËRS 4:15-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.
EFESIËRS 4:15-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.
EFESIËRS 4:15-16 DB (Die Boodskap)
Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam. Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help.
EFESIËRS 4:15-16 ABA (Bybel vir almal)
Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus, Hy is ons Hoof. Die kerk is soos 'n liggaam wat baie dele het, die dele is almal vas aan mekaar. Elke deel van die liggaam werk saam en help die liggaam om te groei en sterker te word. So laat Christus die kerk groei en sterker word. Dit gebeur wanneer ons lief is vir mekaar en vir mekaar help.
EFESIËRS 4:15-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.
EFESIËRS 4:15-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Maar deur die waarheid in liefde te spreek, mag in alles opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. Uit wie die hele liggaam behoorlik saamgevoeg en saamgepers word deur dit wat elke gewrig verskaf, volgens die kragtige werking in die mate van elke deel, vermeerder die liggaam tot sy opbouing in liefde.