EFESIËRS 5:1-5
EFESIËRS 5:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Ja, julle moet doen soos God doen, want julle is sy kinders, Hy is lief vir julle. Julle moet altyd lief wees vir ander mense, soos Christus lief was vir ons. Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Hy was 'n offer vir God, 'n offer waarvan God gehou het. Julle moenie onsedelik lewe en ander slegte dinge doen nie. Julle moenie altyd meer en meer goed vir julleself wil hê nie. Julle behoort aan God, en almal moet weet dat julle nooit hierdie dinge doen nie. Julle moenie lelike en dom dinge sê en slegte dinge oor ander mense sê nie. Mense wat aan Christus behoort, doen nie dit nie. Wanneer julle praat, dan moet dit net wees om vir God dankie te sê. Julle moet dit weet: Mense wat onsedelik lewe of wat so lewe dat hulle onrein is, sal nie die ware lewe kry daar waar Christus en God Koning is nie, ook nie die mense wat altyd meer goed wil hê nie, want dan is hulle goed hulle afgode.
EFESIËRS 5:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur. Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
EFESIËRS 5:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was. Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.
EFESIËRS 5:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders, en leef in liefde, net soos •Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as 'n offergawe aan God, as 'n offerande met 'n aangename geur. Maar, soos dit •heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie, ook nie van skandelikhede en dwase of lawwe praatjies, wat alles onvanpas is nie, maar eerder van danksegging. Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard – so iemand is 'n afgodedienaar – het 'n erfdeel aan die •koninkryk van Christus en van God nie.
EFESIËRS 5:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees dan navolgers van God, soos dierbare kinders; En wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Homself vir ons gegee het as 'n gawe en 'n offer aan God tot 'n lieflike geur. Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug, laat dit nie eenmaal onder julle genoem word soos dit die heiliges betaam nie; Geen vuilheid of dwase praatjies of grappies wat nie gerieflik is nie, maar eerder danksegging. Want dit weet julle dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, enige erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
EFESIËRS 5:1-5 Die Boodskap (DB)
Maak soos God gemaak het, want so maak kinders wat ’n liefdevolle Vader het. Elke dingetjie wat jy doen, moet van liefde straal. Dit is mos die voorbeeld wat Christus vir julle gegee het. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe tot ons voordeel gegee het. Hy het Homself geoffer en God het die offer aanvaar as betaling vir al die skuld wat ons met ons sondes gemaak het. Onthou, julle behoort aan God. Daarom mag julle nie eens daaraan dink om seksueel verkeerde dinge van watter aard ook al te doen of om van gierigheid oor te loop nie. Oppas wat julle sê. Moenie lelik praat, vuil stories of skurwe grappe vertel nie. Dit pas nie by ’n Christen nie. Praat liewer só dat dit vir God aangenaam is om te hoor. Hiervan kan julle seker wees: as iemand onsedelik of vuil leef, of so graag ryk wil word dat hy van geld ’n afgod maak, is daar nie vir hom plek in die nuwe wêreld van Christus en van God nie.
EFESIËRS 5:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Ja, leef ’n lewe van liefde soos ook Christus ons liefgehad het deur Homself vir ons oor te gee as ’n lieflike reukoffer aan God. Soos dit pas by mense wat aan God behoort, moet daar onder julle geen sprake wees van seksuele son-des, immorele optredes of gierigheid nie. Ook skur-we stories, ligsinnige praatjies en vulgêre grappe pas nie by julle nie. Wat by julle pas, is om God te dank. Want hiervan kan julle seker wees: niemand wat seksuele sondes en immorele dade doen, en nie-mand wat gierig lewe – so iemand dien immers ’n afgod – sal ’n erfdeel ontvang in die koninkryk van Christus en van God nie.